
Derek Hanekom
Derek Hanekom, voormalige minister van toerisme, het bevestig dat hy met Godrich Gardee, sekretaris-generaal van die EFF vergader het, maar het aan News24 gesê daar is niks onbehoorliks daaraan nie.
Hanekom is in die pekel nadat Julius Malema, leier van die EFF, beweer het dat hy ’n lys met name van LP’s wat glo teen oudpres. Jacob Zuma sou stem aan die EFF oorhandig het in ’n poging om hom as staatshoof te verwyder.
Malema het Dinsdag aan partyondersteuners gesê dat Hanekom, nasionale lid van die uitvoerende komitee, gereed was om ’n splinterparty te vorm as pres. Cyril Ramaphosa se mededinger, Nkosazana Dlamini-Zuma, op die Nasrec-konferensie die wedloop sou wen.
Hanekom het egter die bewerings ontken en in ’n kort SMS wat aan News24 gestuur is en waarin hy weier om vrae te beantwoord, gesê dit is nie waar nie.
“Ek het gesê – nie erken nie – dat ek destyds Gardee ontmoet het. Sy inisiatief, nie myne nie. Daar is niks mee verkeerd om ’n mede-LP te ontmoet nie en dit is wat ons destyds was.”
Hanekom het kort ná die algemene verkiesing as parlementslid bedank.
In reaksie op Hanekom se verklaring het Gardee gesê daar was verskeie vergaderings tussen die EFF, die SAKP-leier Solly Mapaila en Hanekom.
“Ek het niks om te sê nie. Daar word bevestig dat daar verskeie vergaderings tussen Derek en Solly Mapaila was. Dit maak nie saak wie dit geïnisieer het nie. Ek kan jou nie die sappige deel gee nie . . . Wat belangrik is, is dat hy dit bevestig het.”
Alex Mashilo, woordvoerder van die SAKP, sê egter die party veroordeel die voorstel dat dit deel van ’n sameswering uitmaak.
“Die SAKP veroordeel ten sterkste enige verdraaiing of insinuasie wat daarop sinspeel of dit so wil voorhou.”