Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Harare-vlug: Cyril vra verslag van minister

Die sage rondom die herrie wat losgebars het oor die lugmagvliegtuig waarmee ’n ANC-afvaardiging vandeesweek Zimbabwe toe gevlieg het, het Vrydagaand ’n dramatiese wending geneem.

Pres. Cyril Ramaphosa het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, opdrag gegee om binne 48 uur volledig aan hom verslag te doen oor wat gelei het tot die omstandighede wat aanleiding gegee dat ’n senior ANC-afvaardiging saam met haar in die lugmagvliegtuig Harare toe is.

Die presidensie het in ’n verklaring gesê Ramaphosa het kennis geneem van die polemiek rondom die vlug.

“In die belang van goeie regering en die omsigtige en etiese gebruik van staatsbates, het die president vir Nosiviwe Mapisa-Nqakula gevra om verslag te doen rakende die omstandighede oor die vlug en die passasierslys.”

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (links), Suid-Afrika se minister van verdediging en militêre veterane, word Dinsdagaand op die Robert Gabriel Mugabe-lughawe in Harare deur Oppah Muchinguri-Kashiri, haar Zimbabwiese ampsgenoot, verwelkom. Foto: The Herald

Die president wys daarop dat Mapisa-Nqakula toestemming gehad het om na Harare te reis om met haar Zimbabwiese ampsgenoot, Oppah Muchinguri-Kashiri, te vergader oor verdedigingsake in die streek ná ’n onlangse vergadering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Die presidensie sê Ramaphosa verwelkom die belangstelling wat Suid-Afrikaners in dié sage getoon het. “Dit is ’n aanduiding van die nasie se waaksaamheid oor beweringe van die onbehoorlike ontplooiing van openbare bronne.”

Die ANC-afvaardiging is Harare toe om daar met die regerende Zanu-PF-party te gaan praat oor die politieke en finansiële krisis in Zimbabwe.

Die departement van verdediging en militêre veterane het Donderdag gesê die minister se besoek het toevallig saamgeval met dié van die ANC-afvaardiging.

Die minister en haar ANC-kollegas het Dinsdagaand met ’n Falcon 900-straler van die lugmag in Harare aangekom.

Netwerk24 het vroeër verneem die minister vlieg gewoonlik met ’n Falcon 50-straler wat die helfte minder sitplekke as die Falcon 900 het.

Die ANC-afvaardiging is gelei deur Ace Magashule, die party se sekretaris-generaal.

Die DA en die VF Plus hou vol dit wat gebeur het, was onreëlmatig omdat die belastingbetaler betaal het om die ANC-afvaardiging na Harare en terug te bring.

Kenners en opposisiepartye meen die ANC se gebruik van ’n lugmagvliegtuig dui daarop dat dié voormalige bevrydingsbeweging steeds nie kan onderskei tussen staat en party nie.

Kobus Marais, woordvoerder van die DA oor verdediging, wil weet hoekom Mapisa-Nqakula nie aanlyn met haar Zimbabwiese ampsgenoot kon vergader nie.

Adv. Pikkie Greeff, sekretaris van die weermagvakverbond Sandu, het gesê omdat daar weens die Covid-19-inperking geen kommersiële vlugte tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is nie, maak dit sin dat die minister haar ANC-kollegas laat saamvlieg het.

“As sy in elk geval op pad was na Harare, hoekom kon die ANC-afvaardiging nie saamvlieg nie? Veral as hulle ’n bydrae kon lewer om haar te help om suksesvol te wees met dit wat sy met haar besoek wou bereik.

“Sandu sal wel graag wil weet of die regte prosedures nagekom is met die vervoer van private mense op ’n militêre vliegtuig,” het Greeff gesê.

Oudambassadeur Gert Grobler sê omdat Mapisa-Nqakula Harare toe is vir amptelike verpligtinge is daar moontlik meer regverdiging daarvoor dat die ANC-afvaardiging saam met haar kon vlieg.

As sy in elk geval op pad was na Harare, hoekom kon die ANC-afvaardiging nie saamvlieg nie? Veral as hulle ’n bydrae kon lewer om haar te help om suksesvol te wees met dit wat sy met haar besoek wou bereik.

“Die feit dat daar ook twee ander ministers (Gwede Mantashe en Lindiwe Zulu) saam is, het waarskynlik ook ’n rol gespeel omdat veiligheid in sulke gevalle ’n oorweging is.”

Volgens Grobler bepaal protokol dat as die gasheer-party nie vir die verblyf en etes in daardie land betaal nie, moet die besoekende politieke party, in dié geval die ANC, self opdok.

Die ANC het Vrydag nie gereageer op ’n navraag oor wie dié koste betaal het nie.

“Dit lyk in elk geval vir my op die oog af of die besoek eintlik maar net daaroor gegaan het om die ANC se solidariteit aan Zanu-PF te betoon – sonder deurbrake van enige aard wat betref die netelige situasie in Zimbabwe.”

Die Zimbabwe-uitsaaikorporasie (ZBC) berig Mapisa-Nqakula en Muchinguri-Kashiri het Woensdag in Harare agter geslote deure vergader.

Mapisa-Nqakula was volgens die gesamentlike verklaring wat ná die vergadering tussen die ANC en Zanu-PF uitgereik en deur die ZBC op sy webwerf geplaas is, ook deel van die besoekende ANC-afvaardiging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.