Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Harde werk wag as Maimane 3de termyn wil hê

Mmusi Maimane, DA-leier, is veilig in sy posisie vir die volgende twee jaar, maar hy sal moet hard werk as hy ’n derde termyn as partyleier beoog.

Senior DA-leiers wat op die party se federale uitvoerende raad dien, het Maandag verklaar dat hulle kollektief daarvoor verantwoordelikheid neem dat die party vir die eerste keer in ’n algemene verkiesing veld verloor het. Steun vir die party het teruggesak van 22,23% in 2014 se algemene verkiesing na 20,77%.

Mmusi Maimane
Mmusi Maimane, leier van die DA. Foto: Mlungisi Louw

Partyleiers staan egter bankvas agter Maimane en het aangedui dat hy as partyleier sal aanbly tot die partykongres wat vir 2021 geskeduleer is.

Die DA sal hul tydsberekening vir dié kongres fyn moet beplan omdat die volgende munisipale verkiesing ook in dié jaar plaasvind. ’n Ingeligte in die DA verwag egter dat die partykongres vir ná afloop van die 2021-verkiesing geskeduleer sal word, sodat Maimane steeds die verkiesingsveldtog kan lei.

Maimane het Maandagaand alle partyverteenwoordigers en aktiviste in ’n brief bedank vir hul rol in die verkiesingsveldtog en volle verantwoordelikheid vir die stemuitslag aanvaar.

Die veld wat die party verloor het, was volgens hom bloot ’n “tydelike terugslag”. ’n Onafhanklike ontleding vir die rede vir die uitslae sal gedoen word. Hy beplan ook om elke provinsiale struktuur te besoek om eerstehands te hoor watter veranderinge noodsaaklik is. “Ons kan dit nie bekostig om ’n tydperk van selfvernietiging in te gaan nie. Ons kan dit ook nie bekostig om nie ’n tydperk van konstruktiewe verandering te ondergaan nie,” lui sy brief.

Athol Trollip, DA-voorsitter, sowel as Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, het Dinsdag by navraag gesê Maimane “gaan nêrens heen nie” en dat hy nóg ’n termyn verdien.

’n Ingeligte in die DA het op haar beurt gesê almal het Maandag in die federale raad se vergadering openhartig gepraat en hulle “staan bankvas” agter Maimane. “Selfs ’n paar wat openlik in die verlede teen hom uitgepraat het, steun hom,” het sy gesê.

Ingevolge die DA se federale grondwet kan ’n partykongres – wat elke drie jaar plaasvind – voor die geskeduleerde tyd afgedwing word. Dit kan saamgeroep word as ’n tweederdemeerderheid van die federale raad en die uitvoerende leierskap dit versoek of deur ’n petisie wat deur minstens 5 000 partylede onderteken is.

Daniel Silke, politieke ontleder, het Dinsdag gesê dit is belangrik dat Maimane gesien word om die konsultatiewe proses te lei waartydens die partystrukture geraadpleeg sal word. “Ek dink die partylede en takke sal daarop aandring dat hy duideliker, meer vaste standpunte sal inneem en van voor sal leiding neem. Ek dink hulle sal oortuig moet word dat hy sy leierskapstyl sal verander en aanpas. Sy standpunte wat beleid betref, was tot dusver taamlik vaag. Hulle sal antwoorde van hom wil hê, maar oortuigende antwoorde.”

Prof. Mcebisi Ndletyana, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, het gesê Maimane sal sy eie party daarvan moet oortuig dat sy visie van ’n een Suid-Afrika vir almal die roete is wat die DA moet inslaan. Die stemuitslag het die probleme in die party ontbloot, wat niks met Maimane te doen het nie, maar met die ideologiese beleidsrigtings van die party. Dit het veroorsaak dat die DA nie genoeg swart kiesers kon oortuig nie. Wit kiesers was ook nie tevrede nie, wat veroorsaak het dat dit steun aan beide kante verloor het, sê Ndletyana.

“Hy moet die party oortuig sy visie van een Suid-Afrika vir almal is steeds een wat die moeite werd is om na te jaag. As hulle nie in dié visie glo nie, sal die party verder agteruitgaan.”

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Politek  |  Verkiesing 2019  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.