Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hartswater-tragedie: ‘Álle moorde moet veroordeel word,’ sê Cyril

Alle moorde moet veroordeel word en met die inhegtenisneming van vier verdagtes in die Hartswater-tragedie op die grens tussen die Noord-Kaap en Noordwes kan die reg nou sy gang gaan.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Presidensie

So het Tyrone Seale, waarnemende woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, Dinsdagmiddag by navraag aan Netwerk24 gesê oor die gruaanval op die bejaarde egpaar Danie (83) en Breggie (73) Brand en hul dogter Elzabie Brand (54) Sondagmiddag in die Brand-egpaar se huis op die kleinhoewe buite Hartswater.

Elzabie se lyk is Dinsdagoggend in ’n bebosde gebied in ’n nedersetting naby Taung in Noordwes gekry. Haar ouers word nog gesoek.

Die regering word al lankal daarvan beskuldig dat hy nie genoeg doen om plaasaanvalle en -moorde te bekamp nie. Ramaphosa het twee jaar gelede nog die voorkoms van dié aanvalle ontken toe hy in New York daaroor uitgevra is.

Seale sê Ramaphosa het al verskeie kere in die verlede gesê alle moorde moet in dieselfde mate veroordeel word, waar dit ook al gebeur.

“Dit is die president se standpunt dat elke moord behoorlik ondersoek word en die skuldiges aan die pen moet ry,” sê Seale.

Die president het onlangs met sy tweede imbizo met Suid-Afrikaners gesê hy is “diep bekommerd” oor al die moorde in die land – insluitende plaasmoorde. Ramaphosa het ook gesê hy het vroeër dieselfde dag met die polisie gepraat en gesê daar moet voortaan op plaasmoorde ook gefokus word.

“As ek nie direk praat oor wat op ons plase, in landelike gebiede of in ons townships gebeur nie, beteken dit nie ek is nie baie bekommerd daaroor nie.”

Op sy beurt het Zwelivelile (Mandla) Mandela, kleinseun van wyle oudpres. Nelson Mandela en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, Dinsdag die Hartswater-aanval ten sterkste veroordeel.

Daar is nie plek in Suid-Afrika vir sulke koelbloedige en onmenslike dade nie, sê hy in ’n verklaring.

Mandela sê die portefeuljekomitee het al herhaaldelik aanvalle op plase veroordeel. Die aanvalle is niks anders as “walglike misdadigheid” nie, sê hy.

“Aanvalle soos dié een is nadelig vir maatskaplike samehorigheid in ons jong demokrasie. Die strafregstelsel moet ’n sterk en duidelike boodskap uitstuur dat daar nie plek in ons demokrasie vir sulke koelbloedige en onmenslike dade is nie.”

Dianne Kohler Barnard, lid van DA se werkgroep oor landelike veiligheid, sê in ’n verklaring die aanval op Hartswater is presies dit waarteen die DA die regering al lankal waarsku.

Die strafregstelsel moet ’n sterk en duidelike boodskap uitstuur dat daar nie plek in ons demokrasie is vir sulke koelbloedige en onmenslike dade nie.

Die DA het Maandag gevra dat alle Suid-Afrikaners ’n ope brief aan Ramaphosa onderteken om te eis dat hy om verskoning vra omdat hy, volgens die party, gelieg het deur te ontken dat daar plaasmoorde in Suid-Afrika is.

“Meneer die president, gaan u die aanval op die Brand-gesin ook ignoreer?”

Kohler Barnard sê Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, het ingestem tot ’n dringende debat in die parlement oor plaasaanvalle en -moorde.

Die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer het die Hartswater-aanval ook in ’n mosie verwerp. Die VF Plus het dié stap verwelkom.

“Dit is sulke tydige en ondubbelsinnige reaksie wat nodig is om die gety van plaasmoorde te keer – mits dit natuurlik in optrede omgesit word,” sê Theo Joubert, takvoorsitter van die VF Plus in Hartswater.

Die georganiseerde landbou wil hê plaasaanvalle en -moorde moet tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar word.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Hartswater  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.