Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Meer as helfte van blitspatrollie se voertuie ry nie

Meer as die helfte van die polisie se blitspatrollievoertuie in Gauteng kan nie gebruik word nie. Dié voertuie is almal buite werking.

Motorongelukke en meganiese probleme is die rede waarom 124 van die provinsie se 231 blitspatrollievoertuie nie in ’n werkende toestand is nie, sê Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid.

Sy het dié skriftelike antwoord gegee ná vrae van die DA in die provinsiale wetgewer oor die beskikbaarheid van blitspatrollievoertuie in Gauteng.

blitspatrolliemotor, gauteng

Michael Shackleton, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het in reaksie daarop gesê dié voertuie kon nuttig gewees het met die onlangse voorvalle van geweld en plundering in Gauteng.

“Daar kon maksimum polisiesigbaarheid gewees het en die voorvalle kon verhoed gewees het. Gautengers se lewensbestaan kon gered gewees het as die voertuie funksioneel was,” sê hy in ’n verklaring.

Gauteng en KwaZulu-Natal het vroeër vandeesmaand onder plunderaars deurgeloop wat winkelrakke leeggesteel het. Verskeie geboue is ook aan die brand gesteek. Meer as 300 mense is sedert die begin van die onluste dood, wat moontlik met die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma op 7 Julie verband hou.

Uit Mazibuko se antwoorde lyk dit asof daar geen vaste tydlyn vir die herstel van die voertuie is nie. Van die voertuie is al langer as drie maande buite werking.

“Dit is omdat die voertuie by verskillende polisiewerkswinkels oor die provinsie heen is en omdat van die voertuie se herstelwerk uitgekontrakteer word,” sê Mazibuko in haar antwoorde aan die DA.

Dit, sê Shackleton in sy verklaring, is onaanvaarbaar.

Twee polisievoertuie tydens die onlangse onluste in Gauteng. Foto: Melinda Stuurman
Ons moet onthou die blitspatrollie is nie vir openbare orde verantwoordelik nie.

Mazibuko sê ook in haar antwoord hoewel die voertuie wat buite werking is ’n negatiewe impak op sigbare polisiëring het, word misdaadbrandpunte geprioritiseer. “Die metropolisie staan ons ook by om sigbare polisiëring te verskerp,” sê sy.

Die DA het Mazibuko versoek om so gou as moontlik met Bheki Cele, minister van polisie, in kontak te kom om te verseker dat die stukkende voertuie herstel word.

“Die gebrek aan genoeg polisievoertuie verhoed dienslewering en dit plaas die veiligheid van inwoners in gedrang,” sê Shackleton.

Dr. Guy Lamb, polisiekenner verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), het Maandag by navraag gesê die blitspatrollie se voertuie wat nie gebruik kan word nie, sal beslis ’n impak op misdaad in Gauteng hê.

“Dié mense moet misdaad voorkom en slagoffers van misdaad bystaan. Mense wat moontlik slagoffers van misdaad sou wees, gaan dit nou beslis word, want die respons van die polisie sal stadiger wees weens die gebrek aan beskikbare voertuie,” sê Lamb.

“Dit sal ook die gemeenskap se vertroue in die polisie verder verswak.”

Hy sê dit sou egter nie ’n groot verskil gemaak het as die voertuie in ’n werkende toestand was tydens die onluste in Gauteng nie.

“Ons moet onthou die blitspatrollie is nie vir openbare orde verantwoordelik nie. Hulle het nie die hulpbronne daarvoor nie,” sê Lamb.

“As die voertuie kon loop, sou die blitspatrollie wel kon bystand lewer deur klein groepe plunderaars in hegtenis te neem. Wat die groter prentjie betref, sou hulle egter nie veel kon help nie.”

Mazibuko het Netwerk24 se navrae na die provinsiale polisie verwys, maar dié het Maandag nie op die navrae gereageer nie.

Meer oor:  Faith Mazibuko  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.