Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Helfte van staatsplase produseer niks nie

Sowat die helfte van die plase wat die regering opgekoop het vir grondhervorming word nie aan enigiemand verhuur nie en geen kos word daarop geproduseer nie.

Boonop is meer as 80% van die gemeenskapsverenigings wat gemeenskaplike grond besit, wanfunksioneel en kom nie hul wetlike verpligtinge na nie. Die verenigings besit saam met die In­gonyama-trust sowat 3,8 miljoen ha se landbougrond. Dis gelykstaande aan die helfte van Mpumalanga.

Dít blyk uit ’n reeks skriftelike vrae wat LP’s verlede jaar aan Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gevra het en waarop sy Donderdag en Vrydag antwoorde verskaf het. Daarin skets sy ’n skokkende prentjie oor die gemeenskapseiendomsverenigings, beter bekend as CPA’s, en hoe dié stelsels grootliks misluk het.

Volgens Didiza besit die regering 6 459 plase wat vir grondhervorming aangekoop is. Hiervan word net 3 172 verhuur.

“Dit beteken die helfte van die produktiewe landbougrond wat die staat vir grondhervorming aangekoop het, is uit produksie geneem,” sê die ekonoom Johann Bornman, wat twee jaar gelede die eerste volwaardige grondoudit sedert 1994 gedoen het.

“Die produksieverlies kom terwyl die landboubedryf probeer oorleef in een van die ergste droogtes wat die land in dekades gehad het en daar geweldige onsekerheid by beleggers is oor eiendomsreg weens planne om die Grondwet te wysig,” sê Bornman.

Didiza se antwoorde is egter misleidend, want dis onmoontlik dat die regering werklik soveel plase gekoop het. “Didiza sê dis plase, maar dis waarskynlik titelaktes van die plase wat die staat gekoop het. Meer as 90% van die plase in Suid-Afrika bestaan uit meer as een titelakte om ’n ekonomiese eenheid te kan vorm,” sê Bornman. Volgens sy oudit het die regering teen einde 1998 sowat 2,35 miljoen hektaar landbougrond besit wat vir grondhervorming aangekoop is. As Didiza se syfer regtig plase is, beteken dit elke plaas is gemiddeld sowat 360 ha groot – hopeloos te klein.

Die DA se vrae is aangevoor deur Annette Steyn, woordvoerder oor landbou, wat talle LP’s afsonderlik vrae laat vra het oor landbougrond in staatsbesit in elke provinsie. Elke provinsie is ook gevra om te verduidelik waarom landbougrond in staatsbesit nie verhuur word nie.

Die redes het ingesluit:

* Sommige plase word deur meer as een huurder bewoon en moet nog onderverdeel word;

* Sommige plase is nie meer verhuurbaar nie omdat dit deur gemeenskappe beset word;

* Sommige plase is oorgedra aan huurpagboere en probleme moet eers uitgestryk word met die regsentiteite met wie huureenkomste aangegaan word.

“Die meeste daarvan is onwaar,” sê Steyn. “Ek word oorval met klagtes van swart boere wat grond huur by die staat, maar wat kennis gekry het om die plaas te verlaat wanneer die huurkontrak verstryk. Die huurkontrakte is tot dusver vir tussen een en drie jaar toegeken.”

Die DA het begin druk uitoefen om die departement sover te kry om huurkontrakte vir 30 jaar toe te ken met opsies aan swart boere om die grond ná vyf of tien jaar te koop.

“Die afgelope vyf jaar is bykans geen nuwe huurkontrakte toegeken nie. En as ’n boer geen huurkontrak het vir die grond nie, kan hy geen voorskot by ’n koöperasie of ’n bank kry vir saad of toerusting nie. Só ’n plaas hou baie vinnig op produseer,” sê Steyn.

Die regering wil nie titelaktes toestaan nie uit vrees dat eienaars die grond sal verkoop.

Vrae deur Kenneth Montwedi, die EFF se woordvoerder oor landbou, het gewys dat die stelsel van gemeenskapseiendomsverenigings wat in 1996 geskep is sodat daar regsentiteite is wat die eienaar kan wees van grond waarop gemeenskaplik geboer word, ’n klaaglike mislukking is.

Volgens Didiza is daar 1 612 CPA’s, maar 1 370 van hulle is wanfunksioneel. Die organisasies word oorheers deur sentrale besluitnemers en gewone lede het min of geen seggenskap.

“Dis meestal in onderontwikkelde streke. ’n Aansienlike aantal lede is ongeletterd . . . Dit het ’n uitwerking op die vermoë van CPA-lede om dokumente en die reëls van grondbestuur te verstaan,” sê Didiza.

Volgens Steyn is die CPA’s “ ’n nagmerrie”. “Ons probeer die regering oorreed om liewer aan die lede van elke CPA ’n stuk grond toe te ken waarvoor hy ’n titelakte kry. “Baie van die lede wil nie op die grond boer nie, maar ander wat wil boer, kan grond daarnaas huur of koop. Dis wat in China gedoen is met sulke grond, met ’n redelike mate van sukses.”

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.