Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Hemelhoë vlakke' van werkloosheid onaanvaarbaar, sê Cyril

Die hemelhoë vlakke van werkloosheid onder jeugdiges is tans die grootste en belangrikste politieke en ekonomiese krisis waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word en is heeltemal onaanvaarbaar, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Ramaphosa het Woensdagmiddag op die vooraand van sy staatsrede talle jeugdiges op die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NJA) se dialoogberaad in die Kaapstadse internasionale konferensiesentrum toegespreek. “Daarom is dit my topprioriteit om werksgeleenthede vir jeugdiges te skep.”

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Daily Sun

‘Ambisieus en ongekend’

Volgens Ramaphosa kan hy egter eers Donderdagaand in sy staatsrede in fyner besonderhede uitwei oor sy nuwe “ambisieuse en ongekende” agenda om jeugwerkloosheid oor die volgende vyf jaar daadwerklik te takel.

Intussen het Sifiso Mtsweni, NJA-voorsitter, in reaksie op Julius Malema en die EFF se dreigement om die staatsrede te ontwrig, aan Ramaphosa gesê die jeug van Suid-Afrika sien uit daarna om na die staatsrede te kan luister.

“Moet nie afgeskrik word om dit (die staatsrede) te lewer nie. Onthou net elke huis het muskiete. Gebruik net Doom om hulle stil te maak – en gaan dan aan met die staatsrede,” het Mtsweni gesê.

Ramaphosa sê hoewel werkloosheidsvlakke onder jeugdiges wêreldwyd ’n probleem is, “moet dít nie ’n verskoning vir ons bied om nie oplossings daarvoor te vind nie.

“Ons het baie tyd en energie daarin belê om oplossings vir hierdie krisis te vind. Ons is op die oomblik ook besig om ’n openbare beleid te formuleer en te kyk na deurdagte ingrypings om werksgeleenthede te skep wat die menigte werklose jeugdiges kan absorbeer,” sê Ramaphosa.

“Ons het aanvaar dat ons die werkloosheid van jeugdiges op verskeie maniere moet bestuur.”

Jeugdiges moet volgens Ramaphosa ook deel van die proses wees om oplossings vir die werkloosheidsprobleem te vind.

“Dit is omdat ons nie enigiets betreffende die jeug sonder die jeug se insette wil doen nie. Ons is ook daartoe verbind om dit makliker vir jong entrepreneurs te maak om hul eie klein en mediumonderneming te kan begin.”

Jeugwerkloosheid veroorsaak slapelose nagte

Volgens Ramaphosa kan enige land wat ernstig is oor sy eie ontwikkeling nie selfvoldaan wees terwyl die grootste deel van sy bevolking (jeugdiges) werkloos is nie.

“Daarom moet baie meer werksgeleenthede geskep word. Jaarliks tree sowat 1,2 miljoen jeugdiges tot die arbeidsmark toe, maar sowat twee derdes van hulle kry nie verder tersiêre onderrig en opleiding of werk nie. Daarom bly die skep van werksgeleenthede tans my hoogste prioriteit.”

Volgens hom is sy administrasie as deel van bogenoemde ambisieuse plan teen jeugwerkloosheid ook tans besig met die sogenaamde presidensiële jeugindiensneming-ingrypingsprogram, wat daarna sal streef om die verskillende regeringsfere betrokke te kry om jeugwerkloosheid op ’n groot skaal te kan takel.

“Ons het dit vir baie lank beplan. Ek sal môre (Donderdag) in die staatsrede uitwei oor hoe hierdie probleem opgelos kan word.”

Ramaphosa het ook verklap dat ’n jeugdiensprogram deel van die planne is om die probleem te takel.

Jeugdiges sal volgens Ramaphosa kan terugploeg in hul gemeenskappe, terwyl hulle vaardighede geleer word.

“Dit sal sulke jeugdiges ook in staat stel om ’n inkomste te verdien, terwyl hulle vir permanente werksgeleenthede opgelei word,” sê hy.

“Ons is ernstig om hierdie politieke en ekonomiese probleem op te los.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.