Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hersiene ministeriële handboek nou by president

Die hersiening van die ministeriële handboek deur die departement van staatsdiens en administrasie is afgehandel en is nou op pres. Cyril Ramaphosa se tafel vir sy finale goedkeuring.

Ayanda Dlodlo, minister van staatsdiens en administrasie, het volgens haar woordvoerder, Mava Scott, dié proses in die vier maande afgehandel sedert sy vanaf Februarie se kabinetskommeling terug is in dié amp.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Daily Sun

Scott het Woensdag in ’n kort telefoniese onderhoud gesê die werk aan dié dokument “van die departement se kant af” is voltooi.

Scott het egter nie uitgebrei op presies watter veranderinge aangebring is nie.

“Dit is na die president gestuur vir sy finale goedkeuring. Die dokument is egter nog nie terug van die president se kantoor nie. Ons verwag dit terug sodra die Mandela-vieringe afgehandel is,” het hy gesê.

Hy het onderneem om nadere besonderhede te verskaf onder meer oor wanneer die presidensie waarskynlik die finale dokument sal goedkeur. Hy kon egter Donderdag ná herhaaldelike telefoonoproepe nie vir kommentaar bereik word nie.

Ook Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, het nie op ’n navraag in dié verband gereageer nie.

Voordele ten opsigte van onder meer ampswonings, ampsmotors, reise en ondersteuningspersoneel vir lede van die uitvoerende gesag en sommige lede van hul gesinne word in dié dokument uiteengesit.

Die hersiening van die handboek sloer reeds etlike jare te midde van oproepe deur politieke partye dat die proses versnel moet word aangesien ministers dit onder meer voorhou om die aankoop van luukse ampsmotors te regverdig.

Die DA het ook vroeër voorgestel dat Ramaphosa dit moet oorweeg om ’n moratorium daarop te plaas dat ministers se gades hulle op amptelike oorsese reise vergesel.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het Donderdag gesê die hersiening van die handboek is lank uitstaande.

“As die hersiening reeds vroeër afgehandel was, kon sommige van die misbruike wat die afgelope agt jaar voorgekom het, vermy gewees het.

“Gewone Suid-Afrikaners word verplig om die styging in brandstof en die 1%-verhoging in BTW te hanteer, maar die uitvoerende gesag is nie bereid om hul bestedingspatrone te verander nie. Dié luukse besteding is eenvoudig nie volhoubaar nie.

“Elke dag dat die hersiening van die ministeriële handboek vertraag word, is nóg ’n dag dat die misbruik kan voortduur. Daar kan nie net van gewone mense verwag word om die gordel stywer te trek nie. Die ministeriële handboek is vir gans te lank gebruik om luukse uitgawes te regverdig,” het Steenhuisen gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.