Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Herstel van reg en orde was doel van CR se toespraak’

Die herstel van reg en orde was duidelik die oorwoë bedoeling van pres. Cyril Ramaphosa se toespraak Woensdagmiddag in die dringende en buitengewone sitting van die parlement oor geweld.

Dit is die mening van die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool in Potchefstroom.

Pres. Cyril Ramaphosa praat Woensdagmiddag in die gesamentlike sitting in die parlement in Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

Venter sê die president het reguit oor die maatskaplike probleme in die land gepraat.

“Dit was lankal nodig.”

Ramaphosa het volgens Venter ook nie geskroom om sekere goed wat pla by die naam te noem nie.

“ ’n Voorbeeld hiervan is die probleem met stamgebondenheid wat eintlik op ’n manier interne xenofobie is.”

Venter sê daar was ook goed in die president se toespraak waarmee hy nie saamstem nie.

“Die vernaamste een is sy aankondiging dat hy munisipaliteite gaan betrek in die stryd teen geslagsgeweld. Dis ’n mors van geld as ’n mens sien hoeveel korrupsie daar in baie plaaslike owerhede is.”

Ramaphosa het onder meer in sy toespraak gesê verdagtes in gevalle van geslagsgeweld moenie borgtog of parool kry nie.

“Lewenslange tronkstraf moet beteken wat dit sê – lewenslank in die tronk,” het die president gesê.

Oor dié uitlatings van Ramaphosa sê Venter hy glo die president het daarmee vir die paviljoen gespeel in ’n poging om aan die land se mense te wys hy reageer op die dringendheid van geslagsgeweld.

“Ek glo nie die howe sal dié fundamentele menseregte van oortreders ignoreer nie,” sê Venter.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het vroeër reeds gewaarsku Ramaphosa moet versigtig wees om nie die teenstaan van borgtog aan beskuldigdes as straf te beskou nie.

Daar behoort nie “voortydig vergelding” gesoek te word nie, het Curlewis aan Philda Essop gesê.

LEES MEER: Cyril moet oppas met borgtog-opmerking, sê kenner

Hy sê by implikasie beteken dié opmerking dat verdagtes sommer dadelik gestraf moet word nog voordat hulle in die hof skuldig bevind is.

“Dit kan nie reg wees nie. Dit kan nie suiwer wees nie. Dit beteken jy wil die reg vooruitloop. Dit druis in teen alle gesonde regsbeginsels wat nog ooit uitgedink is. Iemand moet eers skuldig bevind word voordat hy gestraf kan word,” sê hy.

“Die president moet baie versigtig wees om nie die teenstaan van borgtog as ’n straf te beskou nie. Dit moenie

verwar word met die uiteindelike vonnisoplegging nie. Borgtog is bloot ’n waarborg tussen die staat en die

beskuldigde waarin die beskuldigde onderneem dat hy sy verhoor sal bywoon en in ruil daarvoor is hy bereid

om geld te betaal as sekuriteit.”

Een van die vryhede in die Grondwet is dat mense onskuldig is totdat hulle skuldig bewys word, sê Curlewis.

Emiritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa, sê Ramaphosa se probleem is dat hy reaktief en nie proaktief optree nie.

“Dit is asof sy balansering van uiteenlopende faksies hom immobiliseer. Hierdie toespraak in die parlement sal op sy beste beperkte waarde hê,” glo Labuschagne.

“Wat moet gebeur, is dat morele skepping in die land moet plaasvind in tandem met maatskaplike en ekonomiese opbloei. Dit sal ’n lang en moeilike pad wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.