Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Herstelpad vir W-Kaap verg ‘dapper, moeilike besluite’

Dapper, moeilike besluite is nou nodig om die Wes-Kaap se ekonomie te herbou, met opofferings wat voorlê om werkskepping, veiligheid en waardigheid te prioritiseer.

Alan Winde, premier, het Donderdag aan die Wes-Kaapse wetgewer gesê die provinsie staan voor ’n kruispad as gevolg van die rigting waarin die land se ekonomie beweeg en die uitwerking van die koronaviruspandemie en inperkings. Dié spesiale toespraak het oor die herstelplan vir die provinsie gehandel.

Hy het daarop gewys dat dit ’n “heeltemal ander wêreld” is as in Februarie toe hy die provinsiale staatsrede gelewer het en niemand sou kon dink dat ’n staat van inperking ’n maand daarna aangekondig sou word nie.

Winde sê die land se ekonomie krimp, werkloosheid neem toe en ’n skuldkrisis dreig. “Ons staar nou in die seekoei se bek in.”

Die nagevolge van die pandemie en inperkings het armoede, honger en ongelykheid vererger en dié sameloop van faktore het die provinsie “voor ’n kruispad gebring. Ons kan nie teruggaan na die status quo, waar projekte jare neem om aan die gang te kom nie. Aksie en dapperheid is nou nodig sodat ons vorentoe kan beweeg.”

Winde het die bekommernis herhaal dat provinsiale begrotings besnoei kan word, “ondanks beloftes wat gemaak is”, om ’n finansiële inspuiting vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te finansier.

“Laat ek dit duidelik stel: Meer as R10 miljard gaan uit die mond van armes geneem word om vir ons mislukte staatslugdiens te betaal. Ons het nie ‘hoender of bief’ nodig wat bedien word aan mense in die lug wat reeds ’n inkomste verdien nie, maar goeie voeding vir ons kinders sodat honger uitgewis kan word.”

Vier kwessies waaroor hy moet besluit, is deur die provinsiale regering uitgewys, naamlik prioritisering, doeltreffendheid, besteding en die model van dienslewering wat gebruik word.

Volgens Winde is daar besluit om eerder te fokus op minder projekte, maar met die grootse uitwerking, nuwe maniere om te werk te gaan en kostedoeltreffend te wees en poste wat nie noodsaaklik is nie te bevries.

Laat ek dit duidelik stel: Meer as R10 miljard gaan uit die mond van armes geneem word om vir ons mislukte staatslugdiens te betaal.

Die president en die minister van staatsdiens en administrasie is genader om “vir ’n sitplek by die onderhandelingstafel te vra” wanneer loonooreenkomste gesluit word, omdat die provinsies ook daarvoor moet betaal.

“Noordsterre”

Drie “noordsterre” is deur die provinsiale regering uitgewys wat al sy werk moet lei: die skep van ’n omgewing wat werkskepping aanmoedig, veiligheid teen misdaad en geweld, en waardigheid en welstand vir elkeen.

’n Noodprogram vir ekonomiese hulp en herstel is op die been gebring, wat versagting moet bied vir die werkverliese in die provinsie vanjaar, wat na raming 150 000 kan oorskry.

Met dié plan word daar beoog om 20 000 nuwe poste deur “vinnige ingrypings” te skep, insluitend die bespoediging en uitbreiding van infrastruktuurprojekte en ooreenkomste vir private belegging.

“Ek wil dit weer eens benadruk dat in die Wes-Kaap glo ons die private sektor, en nie die staat nie, dryf ekonomiese groei en werkskepping.”

Om dié groei aan te moedig, word daar na burokratiese rompslomp en wysigings aan wetgewing en regulasies gekyk om struikelblokke uit die weg te ruim, sê Winde.

Ek wil dit weer eens benadruk dat in die Wes-Kaap glo ons die private sektor, en nie die staat nie, dryf ekonomiese groei en werkskepping.

Elke departement en span is beveel om te kyk na waar hul stelsels en reëls kan verander om dit makliker te maak om sake te doen. Daar is ook ’n beroep gedoen op enige onderneming of voornemende entrepreneurs om die provinsiale regering te laat weet wat hy kan doen om groei aan te moedig.

Beleggings

Meer as 26 private beleggings word gefinaliseer, wat na verwagting meer as 3 000 werkgeleenthede sal skep en soveel as R30 miljard tot die ekonomie kan bydra.

Dit sluit in beleggings in eiendom, bouwerk, logistiek, gesondheidstegnologie, die Saldanhabaai-nywerheidsontwikkelingsone (IDZ) en die Atlantis- spesiale ekonomiese sone vir groentegnologie.

Daarby mik die provinsiale regering om uitvoer met 5% te laat groei deur bystand te lewer met marktoegang en opleiding.

Op mediumtermyn sal ondersteuningsprogramme aan klein en middelslagondernemings ook voortgesit word.

’n Toegewyde infrastruktuuragentskap gaan begin word wat bates kan besit, transaksies kan doen en geld leen.

Die provinsie gaan ook, glo vir die eerste keer in sy geskiedenis, die moontlikheid ondersoek om geld te leen “spesifiek vir infrastruktuur wat ekonomiese groei en werkskepping sal versterk”.

Beurtkrag

“Om ons doelwitte te behaal, moet beurtkrag egter ’n ding van die verlede raak,” sê Winde.

Die provinsie gaan munisipaliteite bystaan om die geleentheid aan te gryp om krag van onafhanklike produsente te koop of self op te wek.

Hy beloof dat die Wes-Kaap die eerste provinsie gaan wees wat beurtkrag oorwin.

Vervoer

’n “Blue Dot”-taxidiens word beoog, met ’n vrywillige program wat tegnologie en belonings gebruik om gedragsverandering in die bedryf aan te moedig.

Dit sal in fases in werking gestel word in samewerking met taxiverenigings, met gehalte en veiligheid wat elektronies gemonitor en punte wat daarvoor toegeken word.

Drank

Volgens Winde gaan die Wes-Kaap se “dodelike verhouding” met alkohol moet verander, selfs al kan dit nie onbepaald verbied word nie.

Hy sê die uitwerking op gesondheidsdienste was duidelik toe drankverkope verbied is en verkope hervat het.

Die provinsiale regering gaan dus “groot wysigings” aan die drankwet voorstel wat dringend bespoedig moet word, insluitend pryse per eenheid van alkohol om sterker drankies duurder te maak en strenger ure vir verkope, selfs ná die ramptoestand se regulasies verval.

Lede van die wetgewer sal Vrydag die geleentheid hê vir debat oor Winde se toespraak en herstelplan.

• Kyk hier na die volle uitsending. 

Meer oor:  Alan Winde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.