Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Herstelplan van Mangaung-metro net ‘windeier’

Die finansiële herstelplan van die bankrot Mangaung-metro is ’n uitstekende plan, maar dit word nie in werking gestel nie. Die metro hou nie by die tydraamwerk nie. Dit is soos ’n vlieër wat nie wil vlieg nie. Net ’n “windeier”.

So het Pieter Lotriet, DA-raadslid, op die jongste raadsvergadering Donderdag in Bloemfontein gewaarsku in ’n ferm en emosionele pleidooi aan die metroraad en sy munisipale amptenary om die erns van die saak te besef en daadwerklik betrokke te raak.

Die EFF-raadslede het uit die Mangaung-metro se raadsvergadering geloop nadat hulle dit probeer ontwrig het. Die EFF het ook die vorige raadsvergadering so ontwrig dat dit nie kon voortgaan nie en tot Donderdag uitgestel moes word. Van links is Ikahgeng Gailele, Tsholo Ranchobe en Tumo Mapitse. Foto: Mlungisi Louw

“Die metro maak nie erns met die saak nie, terwyl daar maandeliks aan die nasionale tesourie en minister Zweli Mkhize van samewerkende regering en tradisionele sake (Kogta) verslag gedoen moet word omdat dit deel van die metro se regrukstrategie is.”

Die metro is een van tien Vrystaatse munisipaliteite waarby Mkhize vroeër vanjaar ingegryp het.

Lotriet het gesê dit is onaanvaarbaar dat die bestuur van die metro net elke drie maande oor die vordering van die plan aan die raad verslag wil doen. “Ons soek ’n maandelikse verslag gesien in die lig van die groot geldelike penarie waarin die metro verkeer.”

Lotriet het aan adv. Tankiso Mea en die departementshoofde teenwoordig gesê hulle moet nou die bul by die horings pak.

Hy het ook vir Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester, gesê dit is haar laaste kans om ’n nalatenskap te laat.

Die ANC het nie die politieke wil of vaardighede onder sy werknemers om van die finansiële herstelplan ’n sukses te maak nie.
Hans Britz, ook ’n DA-raadslid.

Hans Britz, ook ’n DA-raadslid, het gesê die plan van 213 bladsye wat nooit voor die raad gedien het nie, en dus nie voor die raad goedgekeur is nie, kan nie in die beperkte tyd wat toegelaat word, volledig bespreek word nie.

Britz het gesê ’n plan is net so goed soos die uitvoering daarvan. “Die uitvoerende burgemeester het van ’n vaardigheidsoudit gepraat wat sy onder personeel wil laat uitvoer toe sy die burgemeester geword het. Sedertdien lyk dit eerder asof sy van bekwame mense ontslae geraak het en hulle vervang het met diegene wat nie werk kan doen nie.”

Hy het gesê die metro het in 2004 met ’n 100%-veldtog vorendag gekom om aan verbruikers inligting te gee oor hoe om maandelikse verbruik van grootmaatdienste te verminder en om die betalingskoers te verhoog. “Sedertdien het die uitstaande debiteure van R500 miljoen tot R5 000 miljoen vermeerder, ’n jaarlikse vermeerdering van 17,8 %.”

Britz het gesê vorige planne soos die plaaslike regeringsregrukstrategie van Kogta van 2009, die plaaslike regeringsregrukstrategie-riglyne van Kogta van 2010, die inkomsteversterkingstrategie van November 2013, die Terug-na-die-basiese-strategie van 2014 en die kostebesparingsmaatreëls van 2016, is nie een suksesvol uitgevoer nie.

“Die ANC het nie die politieke wil of vaardighede onder sy werknemers om van die finansiële herstelplan ’n sukses te maak nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.