Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hier is nuwe parlementêre leiers

Pres. Cyril Ramaphosa sal Woensdag vir sy eerste volle termyn deur Pemmy Majodina, nuwe ANC-hoofsweep, as Suid-Afrika se nuwe president benoem word.

Majodina se benoeming sal deur Derek Hanekom, ANC-LP en tans minister van toerisme, vir die benoeming in die Nasionale Vergadering (NV) by die parlement gesekondeer word.

Die ANC het Dinsdag bogenoemde as deel van sy plan van aksie vir Woensdag se benoemingsproses van die president, nuwe speaker en nuwe adjunkspeaker bekend gemaak.

Ramaphosa en die ander se benoeming sal plaasvind nadat al 400 die nuwe LP’s eers deur hoofregter Mogoeng Mogoeng amptelik beëdig is.

Volgens die ANC sal Thandi Modise, wat as nuwe speaker benoem sal word, deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, ANC-LP en tans minister in die presidensie belas met beplanning, monitering en evaluasie, vir die pos benoem word. Madala Ntombela, ANC-LP, sal dit sekondeer.

Lechesa Tsenoli sal deur Alvin Botes, ANC-LP, as adjunkspeaker benoem word. Hierdie benoeming sal deur dr. Zweli Mkhize, ANC-LP en tans minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gesekondeer word.

* Die ANC het as meerderheidsparty Maandag ná ’n spesiale sitting van sy nasionale uitvoerende komitee ook bekend gemaak wie die parlement vir die volgende termyn van vyf jaar sal lei.

Wie is die nuwe parlementêre leiers en wat behels hul onderskeie posisies?

Speaker van die NV: Thandi Modise

Thandi ModiseFoto: DEON RAATH

Modise is voormalige voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

Sy was van 2010 tot 2014 Noordwes-premier.

Sy is die eerste vrou in Suid-Afrika se geskiedenis wat tronk toe gestuur is weens MK-bedrywighede.

In die Kroonstad-gevangenis het sy haar matriek en ’n BCom-graad in bedryfsielkunde en ekonomie voltooi.

Sy is tans ook kanselier van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie.

* Wat is die speaker se pligte ?

Die speaker is die leier van die NV en moet politieke leierskap en strategiese leiding aan die NV verskaf en moet ten alle tye onpartydig wees in die uitvoering hiervan.

Sy is voorsittende beampte tydens die benoeming van die president of die verwydering van die president in die NV.

Sy roep LP’s saam om oor enige wetsontwerp te stem.

Die speaker word ook deur die president gekonsulteer voordat hy of sy enige regters aanstel.

Die speaker word bygestaan deur die adjunkspeaker en drie komiteevoorsitters.

Adjunkspeaker: Lechesa Tsenoli:

Lechesa Tsenoli. Foto: NASIEF MANIE

Hy was in die vorige termyn ook adjunkspeaker.

Hy is tans lid van die SAKP se nasionale bestuurskomitee.

Hy was voorheen minister van samewerkende regering en tradisionele sake en was voor dit ook adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Nog vroeër was hy ’n LUR in die Vrystaat.

Hy was vir baie lank ’n politieke aktivis in die UDF, Sanco en die ANC.

Hy het sertifikate in volwasse onderrig, openbare beleid en fasilitering.

Wat is die adjunkspeaker se pligte?

Die adjunkspeaker is die voorsittende beampte oor NV-sittings.

Hy of sy behartig die speaker se take as dié nie beskikbaar is nie.

Hy of sy het die verantwoordelikheid om die gladde verloop van sommige parlementêre projekte wat aan hom of haar toegeken word te verseker en om korrespondensie te hanteer wat die speaker verwys het, terwyl die adjunk ook die speaker van raad voorsien.

Voorsitter van die NRP: Amos Masondo

Amos Masondo. Foto: BONGIWE GUMEDE

ANC-LP en voormalige burgemeester van Johannesburg tussen 2001 en 2011.

Hy was in ’n vorige termyn medevoorsitter van die parlementêre komitee oor etiek en ledebelange.

Hy het voorheen ook in die Gautengse wetgewer gedien.

Hy het destyds MK-selle in Soweto gestig en was van 1975 tot 1981 politieke gevangene op Robbeneiland, terwyl hy ook ’n stigterslid van die UDF en ’n Cosatu-leier was.

Wat is die pligte van die NRP-voorsitter?

Hy of sy verskaf strategiese leierskap aan die NRP.

Hy of sy is ook medevoorsittende beampte in gesamentlike sittings van die NV en NRP.

Hy of sy verteenwoordig ook die parlement op internasionale multilaterale forums en die NRP in bilaterale forums.

Adjunkvoorsitter van die NRP: Sylvia Lucas

Sylvia Lucas. Foto: CHRISTIAAN CLOETE

Uittredende premier van die Noord-Kaap.

Sy het voor dit ook ander rolle in die Noord-Kaapse wetgewer vervul.

Sy het in 1980 by politiek betrokke geraak terwyl sy nog op hoërskool in Upington was.

Sy was daarna gemeenskaps- en ANC-aktivis wat by die destydse Rosedale-boikotte in Upington betrokke was.

Vroeër is berig hoe sy in 2013 egter in die pekel was nadat dit aan die lig gekom het dat sy in die eerste tien weke van haar premierskap meer as R50 000 se kitskos met haar amptelike kredietkaart gekoop het.

Wat is die adjunkvoorsitter se pligte?

Hy of sy staan in vir die voorsitter as dié nie beskikbaar is vir bogenoemde pligte nie.

Van hom of haar word ook van tyd tot tyd verwag om seker projekte namens die NRP te onderneem.

Komiteevoorsitter: Nomvula Mokonyane

Nomvula Mokonyane. Foto: DAILY SUN

Tans minister van omgewingsake. Verdoemende getuienis is vroeër oor haar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer waar Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, getuig het dat sy na bewering van 2002 tot 2016 maandeliks R50 000 van Bosasa ontvang het weens haar noue verhouding met oudpres. Jacob Zuma.

Sy is ’n voormalige minister van water en sanitasie en van kommunikasie, terwyl sy ook ’n oudpremier van Gauteng is.

Sy het opleiding in plaaslike regering, beplanningsbestuur en gemeenskapsontwikkeling in Swede ondergaan, terwyl sy ook leierskap en regeerkunde by die Harvard-Universiteit in Amerika gestudeer het.

Wat behels die komiteevoorsitter se pligte?

Dit is ’n baie magtige posisie omdat die bekleër daarvan ’n breë verantwoordelikheid het om enige beleid te implementeer en leiding te gee oor die skedulering en koördinasie van portefeuljekomitee-vergaderings, sowel as die algemene bestuur van alle NV-komitees en subkomitees.

Hy of sy is verantwoordelik vir die implementering van die parlement se oorsigmodel, sowel as die openbaredeelname-model.

Hy of sy is ook verantwoordelik vir die parlement se inligting-en-kommunikasietegnologie-beleid.

ANC-hoofsweep: Pemmy Majodina

Pemmy Majodina. Foto: ADRIAN DE KOCK

Het in verskeie portefeuljekomitees as LUR in die Oos-Kaap gedien.

Sy is ook bekend vir haar flambojante uitrustings, soos die kleurvolle pienk ensemble waarmee sy vroeër vanjaar die oog getref het by die provinsiale rede.

Sy is in die verlede al op die vingers getik nadat sy vier jaar gelede op ’n reis na New York ’n toelaag van amper R20 000 vir onder meer etes geëis het.

Wat doen ’n hoofsweep?

Hy of sy is hoof van die ANC-koukus en help met die organisering van sy of haar party se parlementêre sake.

Hy of sy hou ook hul LP’s op hoogte van partysake.

Hy of sy verseker dat LP’s komiteesittings en debatte in die NV bywoon.

Het as hoofsweep van die meerderheidsparty ook sekere pligte met betrekking tot prosedures in die NV.

Adjunk-ANC-hoofsweep: Doris Dlakude

Doris Dlakude. Foto: CITY PRESS

Dis haar tweede termyn in die posisie.

Sy het voorheen in verskeie ANC-strukture in Mbombela (Nelspruit), Mpumalanga, gedien.

Het kwalifikasie in onder meer rekeningkunde, menslike hulpbronne en openbare leierskap en regering.

Wat behels haar pligte?

Ondersteun die hoofsweep in bogenoemde pligte.

ANC-hoofsweep in die NRP en ANC-koukusvoorsitter: Seiso Mohai

Seiso Mohai. Foto: DAILY SUN

Was in vorige termyn ook hoofsweep in die NRP.

Hy het op hoërskool reeds by ANC-, UDF- en studentestrukture in Botshabelo, Bloemfontein, betrokke geraak.

Hy was voorheen ook hoofsweep en LUR in die Vrystaatse wetgewer.

Wat behels sy pligte?

Dieselfde as ANC-hoofsweep s’n in NV.

As koukusvoorsitter sal hy ook ANC-koukusvergaderings lei.

Bykomende bronne: Parlement, People’s Assembly en Noord-Kaapse provinsiale regering

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.