Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hiér kry OB oral slae in hof

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), is geen onbekende in die land se howe nie en het al op verskeie kere daarin slae gekry.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Felix Dlangamandla

8 Augustus 2019 – Regter Lettie Molopa-Sethosa beslis ten gunste van pres. Cyril Ramaphosa in die hooggeregshof in Pretoria dat hy voldoen het aan die regstellende optrede wat die OB in haar verslag teen Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, aanbeveel het. Dit het verband gehou met die vervroegde aftrede van Ivan Pillay, die voormalige adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Ramaphosa het aan Mkhwebane geskryf en gesê hy het kennis geneem van haar verslag en dat hy wil wag vir die finalisering van die hersieningsaansoek in die hof voordat hy optree.

Die hof het gelas dat die OB en die EFF, wat haar in die aansoek gesteun het, die regskoste moet betaal.

15 Augustus 2019 – Die hooggeregshof in Pretoria beslis dat Mkhwebane ’n gedeelte van die regskoste vir die saak oor haar verslag oor die Estina-suiwelprojek in die Vrystaat self moet betaal.

Regter Ronél Tolmay beslis dat Mkhwebane 7,5% van die DA en die grondwetwaghond Casac se regskoste in die saak uit haar eie sak moet betaal. Sy moet ook 85% van die regskoste in haar amptelike hoedanigheid as OB betaal.

Dit het gevolg nadat Tolmay in Mei vanjaar bevind het dat Mkhwebane se verslag oor die Estina-suiwelprojek ongrondwetlik en ongeldig was omdat sy in haar plig versuim het om die suiwelprojek na behore te ondersoek en daaroor verslag te doen.

30 Julie 2019 – Die perdewedrenmaatskappy Phumelela Gaming and Leisure bekom ’n interdik in die hooggeregshof in Pretoria om Mkhwebane se regstellende aanbevelings teen hom stop te sit totdat ’n hersieningsaansoek daaroor afgehandel is.

29 Julie 2019 – Gordhan wen ’n tydelike hofbevel om Mkhwebane se regstellende aanbevelings op te skort totdat ’n hersieningsaansoek oor haar verslag afgehandel is.

Mkhwebane het in dié verslag bevind dat Gordhan die Grondwet en die etiese kode van die uitvoerende gesag oortree het deur die parlement te mislei oor ’n vergadering met ’n Gupta-broer én die “geheime eenheid” in die SAID.

Regter Sulet Potterill bevind in die Pretoriase hooggeregshof dat Mkhwebane se remediërende aanbevelings oor Gordhan in dié verslag “vaag, teenstrydig en/of sinloos” is.

Mkhwebane en die EFF, wat hom by haar aansoek geskaar het, is beveel om alle regskoste vir die aansoek te betaal.

22 Julie 2019 – Regter Sisi Khampepe en ’n meerderheid regters in die konstitusionele hof in Johannesburg wys Mkhwebane se appèl teen ’n strafkostebevel van die hand en stem saam met die hooggeregshof dat sy aanspreeklik is vir 15% van die Absa/CIEX/Reserwebank-hofgeding se regskoste.

Khampepe het in die uitspraak gevind Mkhwebane was “oneerlik en bevooroordeeld” en het ter kwader trou opgetree en “die perke oorskry”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.