Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hiér staan ons met kragstasies en Vaalrivier – Mabuza

’n Gebrek aan instandhouding en opknappingswerk aan Eskom se kragstasies oor jare heen het die sekuriteit van kragvoorsiening in gevaar gestel, sê adj.pres. David Mabuza.

Dié kommerwekkende situasie word vererger deur onder meer ’n gebrek aan steenkool of die verskaffing van substandaard- steenkool.

Hy het dié opmerkings Donderdag in vraetyd in die Nasionale Raad van Provinsies gemaak toe hy uitgevra is oor strategieë vir instandhouding by Eskom om die betroubaarheid van die kragnetwerk te verseker.

Mabuza sê Eskom is verantwoordelik vir die instandhouding van sy netwerk ingevolge gepubliseerde standaarde wat gemeet word teen internasionale praktyk.

“Oor tyd was daar swakplekke ten opsigte van die nakoming van die gepubliseerde standaarde. Ons werk egter hard daaraan om te verseker dat Eskom terugkeer na voldoening aan die gepubliseerde standaarde.”

Weens die ouerwordende kragstasies neem die noodsaaklikheid vir opknappingswerk toe. Kritieke gebiede is geïdentifiseer. Hulpbronne is beskikbaar gestel om kragaanlegte te vernuwe tot ’n meer betroubare toestand.

Ongelukkig is beurtkrag die afgelope drie weke toegepas.

Werk is egter volgens Mabuza aan die gang onder leiding van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, om te verseker dat onderbrekings in die steenkoolkragstasies verminder word en dat beurtkrag vermy word.

Mabuza het op ’n ander vraag oor die besoedeling van die Vaalrivierstelsel gesê hy het die gebied op 12 September besoek.

Hoewel die rivier steeds besoedel is, is hy aangemoedig deur die vordering wat gemaak is deur die ingryping van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die oplossing van die rioolstortings, blokkasies in die infrastruktuur-netwerk en rioolvuil wat in rivier vloei.

’n Ingrypingsplan is ontwikkel om 44 pompstasies en drie watersuiweringsaanlegte by Sebokeng, Leeuwkuil en Rietspruit te herstel.

Verskeie gesprekke het plaasgevind met die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie oor die situasie in Emfuleni en die besoedeling van die rivier.

Bykomend daartoe het die presidensie en die departemente van menslike nedersettings, water en sanitasie, en samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) deurlopend gesprekke met die kantoor van die premier van Gauteng, die LUR vir Cogta asook die munisipale leierskap op distrik- en plaaslike vlak.

“Gegewe die feit dat die Vaalrivierstelsel deur vier provinsies strek wat voordeel daaruit trek, is ooreengekom dat ’n gesamentlike tussenregeringsbenadering vereis word om omvattend te reageer op die uitdaging van die besoedeling dwarsoor die Vaalrivierstelsel.

“In dié verband sal Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga, en die Noord-Kaap moet saamwerk om gekoördineerde ingrypings in werking te stel wat die besoedeling in die Vaalrivier drasties sal verminder,” het Mabuza gesê.

Ondanks die vordering wat tot dusver gemaak is, moet besoedeling steeds dringend onder beheer gebring word. Dit sluit in die opgradering van die verouderende grootmaat riool- en retikulasie-infrastruktuur wat daartoe bydra dat riool tot in die rivier vloei, het Mabuza gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.