Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hier's Faith weer, hier's Faith weer

Faith Muthambi, wat 18 maande gelede deur pres. Cyril Ramaphosa afgedank is as minister van staatsdiens en administrasie, is Donderdag deur die parlementêre koukus aangewys as voorkeurkandidaat vir die voorsitterskap van die portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste.

Ace Magashule en pres. Cyril Ramaphosa. Foto: thua
Ace Magashule en pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Thualeni Mbele

Dit gons al sedert vroeg verlede week in die gange van die parlement dat Mu­thambi, een van oudpres. Jacob Zuma se mees omstrede kabinetslede, deur Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, voorgestoot word om voorsitter van dié belangrike portefeuljekomitee te wees. Een van die komitee se eerste take wanneer die nuwe parlement ná Donderdag se staatsrede in volle gang kom, sal wees om ’n versoek te oorweeg van die DA se hoofsweep, John Steenhuisen, dat die bevoegdheid van die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, ondersoek word. Thandi Modise, die speaker, het Vrydag in ’n brief aan die DA gesê sy staan hul versoek toe.

Die ANC se koukusvergadering Donderdag is gehou om sy kandidatelyste vir portefeuljekomitee-voorsitters te finaliseer. Magashule het ook die vergadering in die ou raadsaal van die parlement bygewoon.

As sekretaris-generaal is hy die regstreekse skakel tussen die ANC se hoofkantoor en sy parlementêre koukus. Hy moet toesien dat politieke besluite van Luthuli-huis in die parlement afgedwing word.

' Sy hoort nie in die parlement nie.’

“Die ondervoorsitter van die portefeuljekomitee gaan adv. Hisamodien Mohamed wees, ’n nuweling-LP uit die Wes-Kaap. Dis die voorstelle van die koukus,” het ’n onberispelike bron in die koukus gesê.

Topleiers in die ANC is egter hewig ontsteld.

“Muthambi is een van die mense wat die party die grootste skade berokken het. Sy hoort nie in die parlement nie en moes nooit op ons kandidatelys gewees het nie,” het ’n ander bron in die party, wat die benoeming bevestig het, aan Rapport gesê.

Muthambi het onder meer die weg gebaan vir die vernietigingswerk wat Hlaudi Motsoeneng by die SAUK gedoen het.

Al die koukusbesluite vir portefeuljekomitees moet vandeesweek aan die ANC se topses ampsdraers voorgelê word vir goedkeuring.

Die topleiers het in vorige jare nie gehuiwer om die koukusvoorstelle te verander nie.

Faith Muthambi, een van oudpres. Zuma se mees omstrede kabinetslede.

Die aanwys van die portefeuljekomitee-voorsitters het Donderdag tot verskeie botsings tussen ondersteuners van Ramaphosa en Magashule aanleiding gegee.

Die Ramaphosa-groep het die oorhand gekry in een van die belangrikste koukusbesluite om die voorsitterskap van die invloedryke staande komitee vir openbare rekeninge (Skoor) aan die IVP se gewilde woordvoerder Mkhuleko Hlengwa toe teken.

Sedert die inhuldiging van die parlementslede word druk bespiegel daaroor of die ANC gaan volhou met die tradisie om die voorsitterskap van Skoor ter wille van onafhanklikheid aan ’n kleiner opposisiepartye af te staan. Die vorige voorsitter, Themba Godi van die African People’s Convention (APC), het groot respek afgedwing, maar het in die verkiesing sy setel verloor.

“Daar is aanvanklik vooraf steun gewerf daarvoor om die voorsitterskap aan die EFF te gee, onder andere deur Magashule. Die argument daarvoor was dat die EFF waarskynlik vir Veronica Mente sal aanwys, wat in die vorige parlement die EFF se verteenwoordiger by Skoor was en as ’n baie bekwame EFF-LP beskou word. Teenstanders het egter gesê die gevaar is te groot dat die EFF die amp vir ander politieke doeleindes sal gebruik en nie die amp vir Mente sal gee nie.

“Die bykanse vuisslanery tussen ANC- en EFF-parlementslede Woensdag tydens ’n opleidingsessie het die deurslag gegee. Die koukus het besluit om die Skoor-voorsitterskap aan die IVP te gee. Hulle gaan Hlengwa waarskynlik die voorsitter maak,” sê Rapport se bron.

Sfiso Buthelezi, voormalige adjunkminister van finansies onder Pravin Gor­dhan, wat Zuma wou inspan om Gor­dhan op te volg, is die koukus se kandidaat om voorsitter van die portefeulje- komitee vir finansies te wees. Hy word ook as ’n vertroueling van Zuma beskou.

Daar was sterk sprake dat die Zuma-Magashule-gesinde faksie in die koukus vir Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne, die voorsitterstoel in dié belangrike portefeuljekomitee wil gee. Buthelezi het aanvanklik nie gekwalifiseer om ’n LP te wees nie omdat hy net-net te laag op die ANC se kandidatelys was om verkies te word. Die bedanking van verskeie voormalige ministers wat weggelaat is uit Ramaphosa se nuwe kabinet, het egter daarop uitgeloop dat Buthelezi Dinsdag as parlementslid ingehuldig is.

Gratitude Magwanishe, wat deur Zuma as adjunkminister van handel en nywerheid ingespan is, maar weggelaat is van Ramaphosa se nuwe lys adjunkministers, is deur die koukus voorgestel as voorsitter van die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Faith Muthambi  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.