Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
H&M sluit ná EFF se chaos

Alle Suid-Afrikaanse winkels van die Sweedse kleregroep H&M is Saterdag tot verdere kennisgewing gesluit nadat die EFF ses van H&M se 17 persele verniel het terwyl die polisie in die meeste gevalle met die hande gevou gestaan en kyk het.

In die East Rand Mall oos van Johannesburg het die polisie wel rubber­koeëls geskiet toe betogers die winkelvoorraad begin stroop het.

Die EFF het by H&M-winkels in Gauteng, die Wes-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal betoog oor “rassisme” in ’n oorsese promosiefoto.

Op die foto dra ’n swart seuntjie ’n groen sweetpakbostuk met die woorde: “Coolest monkey in the jungle.”

Daarnaas was ’n soortgelyke bostuk met ’n wit model en die woorde: “Survival expert.”

Die gewraakte advertensie.

Die bostuk was wêreldwyd te koop, maar H&M het ná kritiek in verskeie wêrelddele onvoorwaardelik om verskoning gevra en al die kledingstukke van hul rakke in 64 lande verwyder om vernietig te word.

Die model se ma het gesê sy verstaan nie die bohaai nie, maar bekendes in onder meer die VSA het die Sweedse groep op sosiale media gebraai.

Ná die gewelddadige betogings het die groep gistermiddag aangekondig hy sluit al sy winkels hier tot verdere kennisgewing.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê hulle moes by die East Rand Mall ingryp omdat betogers die winkel begin leeg dra het.

Dlamini was nie bewus van enige inhegtenisnemings nie.

Videomateriaal op sosiale netwerke het gewys hoe polisielede die chaos net staan en toekyk het.

Chaos in Menlyn in Pretoria.

In ander winkels, soos die een in Menlyn Park in die ooste van Pretoria, het betogers in rooi EFF-hemde en barette lede van die publiek rondgestamp en verjaag toe hulle foto’s en video’s begin neem.

In al die beskadigde winkels is kledingstukke op die grond gesmyt en spieëls en winkelpoppe gebreek.

Niemand is beseer nie.

Julius Malema, EFF-leier, het gister by ’n samekoms van sy party in Polo­kwane gesê die betogers het nou vir H&M gewys wat sal gebeur as hulle swart mense verneder.

“Alle H&M-winkels moet nou sluit, want hulle noem ons kinders bobbejane. Niemand mag toegelaat word om velkleur te gebruik om mense te verneder nie. Elke winkel wat swart mense ondermyn, moet sluit. Dié wat rassisme ondersteun, moet maar weet, ons kom vir hulle.

“Vanjaar is die jaar wat ons teen rassisme gaan baklei. Die tyd is verby om wit mense te vrees.

“Ons is swart en trots, swart en mooi, en ons is nie skaam om swart te wees nie.”

Dr. Bernadine Benson van Unisa se departement polisiepraktyk het aan Rapport gesê dit is onrusbarend dat die polisie nie opgetree het nie. Sy sê hoewel sy die ontsteltenis verstaan, kan dit nie ’n verskoning wees vir saakbeskadiging, diefstal en geweld nie.

“Ek hoop die polisie se topstruktuur neem kennis daarvan dat die polisie in van die gevalle klaarblyklik die EFF se optrede toegelaat het. Daar is video’s op sosiale media wat wys waar niks gedoen is nie en watter polisiemanne niks gedoen het nie.

“Enige polisieman se werk is om reg en orde te handhaaf en wat vandag (Saterdag) in die winkels gebeur het, is onaanvaarbaar op elke vlak.”

Sy sê die EFF het duidelik die optrede vooraf beplan en niemand in die polisie het die risiko geïdentifiseer nie.

Chaos in die East Rand Mall. Foto's: Deon Raath

Eldred de Klerk, ’n spesialis in poli­siëring verbonde aan die Africa Centre for Security and Intelligence Praxis, sê die polisie moes ’n oordeelsbesluit op die toneel neem en dat inhegtenisnemings die situasie kon laat oorkook. “As mense in die winkelsentrums se lewe nie in gevaar is nie, behoort die polisie nie betogers in hegtenis te neem of met rubberkoeëls of traangas te verjaag nie.”

Hy sê die winkelsentrums eerder as die polisie het die eerste verantwoordelikheid gehad om die sentrums dadelik te sluit en die situasie te ontlont.

Daar was benoude oomblikke namate die chaos na die land se grootste winkelsentrums versprei het.

In Menlyn Park was winkelgangers verstar. Kgadi Morobane (23) sê sy wou by die winkel Zara oorkant H&M gaan inkopies doen toe EFF-lede soos ’n mob by H&M se oop deure ingestorm het. “Daar was baie van hulle. Dit was mal, verskriklik!”

Sy sê sy het gesien hoe die winkelassistente, wat rondgestamp is, gehardloop het om skuiling te soek.

Winkelgangers het uit die tak gehardloop.

Die winkel is dadelik omgekeer. Poppe, staanders, rakke met klere is omgegooi en ’n groot spieël is gebreek.

Verskeie ander winkels het hul deure gesluit. Tientalle polisielede is na die sentrum ontbied, van wie talle daarna voor die winkel se geslote deure waggestaan het terwyl ’n groot groep EFF-lede gesing en gedans het.

Rapport verneem drie afdelings van die openbareordepolisie-eenheid is na die sentrum ontbied.

EFF-lede het die eenheid ook toegesnou dat hulle “die wit mense se kant vat”.

Menlyn

In Johannesburg se Sandton City het EFF-lede die winkel met piesangs bestook. Lawrence Mogaskoa, werknemer van ’n winkel oorkant H&M daar, sê daar het eers net sowat 20 mense om 11:00 opgedaag.

“Hulle het ’n uur voor die winkel gaan staan, gesing en hande geklap. Ons het gedink dit was maar net ’n gewone betoging, toe begin hulle skielik die winkel aanval. Hulle het winkelpoppe geskop, rakke gebreek en die hele winkel binne ’n paar minute verwoes. Hulle het die winkel van buite af met piesangs bestook en by drie verskillende uitgange weggehardloop.”

’n Uur later, nadat die winkel gesluit is, het sewe skoonmakers nog die vloere buite gewas en piesangskille opgetel.

In die East Rand Mall het inkopiegangers groot geskrik toe hulle ’n geluid wat soos ’n skoot klink, gehoor het. Sonya Caword, woordvoerder van die sentrum, sê daar was geen skerp ammunisie nie.

“ ’n Paar sekondes nadat die EFF-lede by die winkel ingestorm het, het ’n kind buite die winkel ’n ballon gebars. Die mense het groot geskrik.”

Vuyo Sigoolwana, wat by ’n winkel langsaan werk, sê ses mans het skielik by H&M ingestorm.

“Hulle het herhaaldelik geskree: ‘Dit is ’n rassistiese winkel!’ ”

In die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad het die plakkaat van een betoger gelui: “Haat en rassisme het geen plek in hierdie demokratiese land nie.”

Randall April het namens H&M ’n verskoning voorgelees. Die betogers het kort daarna verdaag.

H&M se winkels in Somerset-Wes, Bloubergstrand, Claremont en die V&A Waterfront is al vroegoggend as voorkomende maatreël gesluit.

Die drie winkels in KwaZulu-Natal het ook die staalroldeure laat sak toe dit duidelik word die veldtog is landwyd en gekoördineer.

Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, het oor EFF-lede se optrede in die Menlyn-sentrum op Twitter gesê H&M kry wat hy verdien.

“Alle rasionele mense sal saamstem dat H&M nie langer toegelaat behoort te word om in Suid-Afrika sake te doen nie. Welgedaan aan die vegters wat fisiek rassisme gekonfronteer het.”

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, sê op Twitter die EFF sal nooit verskoning vra dat hy ba­klei teen uitbuiting, vernedering en onderdrukking op grond van mense se velkleur nie.

Amelia-May Woudstra, woordvoerder van H&M Suid-Afrika, wou nie sê wat die skade aan hul winkels is nie.

“Wat die meeste vir ons saakmaak is die veiligheid van ons werknemers en ons kliënte. Ons het tydelik al ons winkels in Suid-Afrika gesluit.

“H&M beklemtoon weer dat hy gekant is teen enige vorm van rassisme of diskriminasie.

“Ons wil ook beklemtoon dat ons werknemers onskuldig is in die swak deurdagte produk wat H&M bemark het.”

H&M brei die laaste jare in Suid-Afrika uit en het luidens hul jongste jaarverslag 471 mense hier in diens. Die groep het in 2016-’17 byna R1 miljard se klere in Suid-Afrika verkoop.

Meer oor:  Floyd ­Shivambu  |  Menlyn Mall  |  East Rand Mall  |  Vandalisme  |  Betogings  |  Advertensie  |  H&M
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.