Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hoe lank nog? Taxi-verenigings wil nie bes gee

’n Vergadering Woensdag tussen die taxiverenigings Cata en Codeta, Fikile Mbalula, minister van vervoer, en Daylin Mitchell, LUR vir vervoer in die Wes-Kaap, het weer op ’n dooiepunt geëindig.

Die vergadering het Woensdag kort ná 15:00 by die Gene Louw-verkeerskollege in Brackenfell begin.

Volgens bronne wil die taxiverenigings nie bes gee nie en “elkeen wil hul sin kry”.

Die geskil gaan oor die B97-roete tussen Mbekweni, die Paarl en Bellville.

Erge taxigeweld het op 5 Julie tussen die twee taxiverenigings uitgebreek nadat Cata geweier het dat lede van die Codeta-geaffilieerde Paarl Alliance Taxi Association dienste by die taxistaanplek in Mohajanestraat en by die Shoprite-sentrum in Mbekweni lewer.

Dit het toe op sy beurt na Bellville oorgespoel en ook na die onwettige Bellrail-taxistaanplek in Bellrailstraat.

Kapenaars moes Donderdag weer die reën en koue trotseer en ver ente loop om ’n bus na hul werksplekke te haal. Foto: Jaco Marais

Die bronne het gesê die vergadering Woensdag was ses uur lank.

“Die mense kan en wil net nie tot ’n vergelyk kom nie,” het die een bron gesê. Albei verenigings meen glo die roete behoort aan hulle. Toe daar glo aan hulle uitgewys is dat roetes nie aan ’n taxivereniging behoort nie, maar aan die regering, het hulle glo op die vergadering gesê die regering “het nie reg opgetree toe hy meer as een taxivereniging op roetes toegelaat het nie”.

Die voortslepende taxigeweld, waarin 84 mense sedert die begin van die jaar dood is, het die bedryf die afgelope week in Kaapstad en dele van die Boland tot ’n stilstand gedwing. Pendelaars moes Donderdagoggend weer die koue en reën in Kaapstad trotseer en ver loop om ’n Golden Arrow-bus of alternatiewe vervoer na hul werksplekke te haal.

Golden Arrow het Donderdag gesê tussen 80% en 85% van sy busse is weer in bedryf. Hy het Maandag sy busdienste verminder nadat twee van sy busse – een in Nyanga en een op Borcherds Quarry – deur gewapende mans aangeval is. Die bestuurder van die bus wat op Borcherds Quarry aangeval is, is in die gesig geskiet.

Vir nou sal pendelaars wat in Nyanga woon egter nog tot by die Borcherds Quarry-afrit na die Kaapstadse lughawe moet gaan om van daar af ’n bus te haal.

Daar was Donderdagoggend ’n groot teenwoordigheid van lede van die metro- en verkeerspolisie in Bellville waar pendelaars Golden Arrow-busse gehaal het. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Cata  |  Codeta  |  Golden Arrow-Bus  |  Fikile Mbalula  |  Kaapstad  |  Moord  |  Intimidasie  |  Geweld  |  Taxigeweld  |  Taxistaking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.