Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hoekom so min entstof, inentings?

Suid-Afrikaners verdien om te weet wat verkeerd geloop en veroorsaak het dat die oorgrote meerderheid nog nie teen Covid-19 ingeënt is nie.

Daarom het die DA aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, geskryf en weer gevra dat die parlement ’n ad hoc-komitee aanstel om die vertragings in die aankoop van entstowwe en die nasionale inentingsprogram te ondersoek.

’n Soortgelyke versoek van die DA is vroeër afgekeur deur Modise, wat toe onder meer aangevoer het dat verskeie parlementêre portefeuljekomitees reeds daardie toesighoudende funksie verrig.

Siviwe Gwarube Foto: Daily Sun

“Die DA is egter van mening dat die ad hoc-komitee nie net ’n toesighoudende rol oor die interministeriële Covid-19-komitee (onder leiding van adj.pres. David Mabuza) sal hê nie, maar ook ondersoek sal instel na wat die vertraging veroorsaak in die entstofprogram en die aankoop van entstowwe,” sê Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid.

Gwarube en Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het Dinsdag dié party se jongste versoek vir ’n ad hoc-komitee op ’n aanlyn nuuskonferensie bekend gemaak.

“Soos die derde vlaag van infeksies momentum kry, wag miljoene Suid-Afrikaners angsbevange op hul inentings, met die regering se inentingsprogram wat sloer en baie lewens in gevaar stel.”

Volgens Gwarube moet so ’n komitee ondersoek waarom Suid-Afrika in 15 maande so min mense ingeënt het.

“Deur sy bevindinge sal dit ook druk plaas op die regering om sy teiken van 40 miljoen mense te bereik.”

Sy meen die Eskom-ondersoek, wat die parlement in die verlede gedoen het, dui daarop dat sulke ondersoeke werk.

“Dit is waarskynlik een van die grootste krisisse ooit in post-apartheid-Suid-Afrika en die parlement moet sy toesighoudende rol uitoefen om die regering aanspreeklik te hou.”

Volgens Gwarube versoek die DA ’n ad hoc-komitee omdat die meerderheid ANC-LP’s in die portefeuljekomitee oor gesondheid in die verlede vir dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, “teen aanspreeklikheid beskerm het”.

Mkhize is op spesiale verlof weens die Digital Vibes-tenderskandaal. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, neem in sy plek waar.

Gwarube het bygevoeg dat Kubayi-Ngubane en die departement van gesondheid se hoofprioriteit moet wees om so spoedig moontlik meer entstowwe vir Suid-Afrika te bekom, veral weens die 2 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson-entstof in Gqeberha wat nou onbruikbaar is.

Hill-Lewis het bygevoeg dat daar ’n “duidelike mislukking deur die uitvoerende gesag is”.

“Ons het nie entstowwe nie. Of nie genoeg om lewens te red óf om die 40 miljoen-teiken vanjaar te bereik nie.

“Alle Suid-Afrikaners en veral die parlement is geregtig daarop om te vra hoe ons hier beland het. Ons wil deur die ondersoek weet presies watter foute begaan is. Ons wil die dokumente en kontrakte sien.”

Volgens hom moet Mabuza, sowel as Tito Mboweni, minister van finansies, Mkhize, Kubayi-Ngubane en alle betrokke direkteurs-generaal vrae in die ondersoek beantwoord.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.