
Oudpres. Jacob Zuma het Maandagmiddag sy ondersteuners naby die Hill on Empire-gebou, waar hy voor die
kommissie verskyn het, in Parktown, Johannesburg, toegespreek. Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24 Felix Dlangamandla
Waarom moet hy voor die Zondo-kommissie verskyn terwyl die omstrede Gupta-familie ook met oudpres. Thabo Mbeki en selfs oudpres. Nelson Mandela bevriend was?
Dít was Maandag die strekking van oudpres. Jacob Zuma se getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg toe hy oor sy verhouding met die omstrede Gupta-familie uitgewei het.
“Toe ek adjunkpresident was, is lede van die familie na my ampswoning, Oliver Tambo-huis (in Pretoria), gebring. Hulle het van Mahlamba Ndlopfu (die presidensiële ampswoning in Pretoria) van pres. (Thabo) Mbeki af gekom. Dit is waar ek hulle die eerste keer gesien het,” sê hy.
“Essop Pahad het my aan hulle voorgestel. Hulle is as goeie sakemense voorgestel, maar hulle was ook kamerade – lede van die ANC. Dit is hoe van my familielede hulle leer ken het. Die jong man (sy seun) was nog baie jonk, hy was daar . . . dit is waarom hy onthou het dat hulle ’n IT-maatskappy bedryf toe hy later ’n werk gesoek het.”
Zuma sê hy het die Guptas as ’n “baie vriendelike familie” leer ken, maar ontken dat hy enigiets onwettigs saam met hulle gedoen het.
“Hulle het inderdaad baie kamerade geken. Ek het daarvan bewus geraak dat hulle vriende met Mandela was toe hy president was. Hulle was baie na aan mekaar. Toe Mandela weg is, was hulle vriende met Thabo ...”

Oudpres. Jacob Zuma het Maandag voor die Zondo-kommissie na staatskaping ontken dat hy toestemming gegee het vir 'n vliegtuig vol bruilofsgaste van die Guptas om in 2013 by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria, ’n nasionale sleutelpunt, te land. Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24 Felix Dlangamandla
Thabo Mbeki-stigting
Die Thabo Mbeki-stigting het Maandag in ’n verklaring in reaksie op ’n eNCA-berig ontken dat Mbeki Zuma aan die Gupta-familie voorgestel het.
“Vir die rekord, pres. Thabo Mbeki het in geen stadium lede van die Gupta-familie aan pres. Zuma voorgestel nie.” Maar al sou dit waar wees dat oudpres. Mbeki die familie aan Zuma voorgestel het, kan hy nie verantwoordelik gehou word vir dit wat daarna tussen pres. Zuma en die Gupta-familie gebeur het nie, lui die verklaring.
Mbeki sê ook dit is “onwaar” dat ’n lid van die Gupta-familie ’n ekonomiese adviseur van hom was.
Zuma sê hy kan nie verstaan hoekom hy in die visier is nie.
“Ek het gewonder waarom ek beskuldig word, waarom mense dink my verhouding met hulle is nie reg nie, terwyl hulle verhoudinge met ander gehad het. Twee ander presidente het verhoudinge met hulle gehad – trouens ’n sterker verhouding met kameraad Thabo Mbeki. Hy het op sosiale media verskyn waar hy hulle toegespreek het. Waarom dink mense dit is ’n manier om Zuma te kry? Alles wat gebeur het, word soort van met my verbind.”
Gupta-troue
Hy ontken ook dat hy toestemming gegee het vir ’n vliegtuig vol bruilofgaste van die Guptas om in 2013 by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria, ’n nasionale sleutelpunt, te land.
“Niemand het ooit vir my gevra of ek dit gedoen het en of daar enige inligting in dier voege was nie. Dit het nooit gebeur nie. Ek het nie geweet waar hulle sou land nie en dat daar ’n landing op ’n spesifieke dag sou wees nie. Maar dit was weer Zuma.”

Oudpres. Jacob Zuma
Netwerk24
New Age en ANN7-televisiekanaal
Wat die stigting van die New Age-koerant en ANN7-televisiekanaal betref, sê Zuma die media is baie negatief en krities en dat daar geen alternatiewe stem was nie. Hy het in sy hoedanigheid as ANC-president die idee by die familie geopper oor die moontlikheid om ’n mediamaatskappy, ’n koerant, te begin. Hulle het uiteindelik ingestem.
Hy het gehelp om die naam te kies vir die koerant wat toe tot stand gebring is. Ná die suksesvolle stigting van die koerant het hy die idee van die televisiekanaal voorgestel wat toe ook begin is.