Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hoër BTW: 'Dís ons redes, maar ons sal luister . . .'

’n Hoër BTW-koers was nodig om die land se finansies te stabiliseer. As dít nie gedoen word nie, sal die armes veel erger ly.

Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal vir belasting en finansiële-sektor-beleid in die nasionale tesourie, het Vrydag namens die tesourie voor ’n gesamentlike sitting van die parlement se staande en verkose komitees oor finansies reageer op die openbare kommentaar op die begrotingsrede, en veral die belastingvoorstelle.

Ismail Momoniat. Foto: Mary-Ann Palmer

Die verhoging van een persentasiepunt in die koers van belasting op toegevoegde waarde (BTW) is erg gekritiseer deur opposisiepartye, vakbondfederasies en die burgerlike samelewing, wat almal meen dit gaan die armste landsburgers die ergste raak.

Momoniat sê Suid-Afrika is in ’n moeilike (fiskale) situasie en moet daarom meer geld invorder. “As ons dit nie doen nie, sal ons deur verdere kredietafgraderings in die gesig gestaar word, wat finansiering duurder sal maak en wat ’n impak op inflasie en die armstes sal hê.”

Ian Stuart, waarnemende adjunk-direkteur-generaal van die begrotingskantoor in die tesourie, het aan die komitees gesê Suid-Afrika se ekonomie is wel bevoordeel deur sterk groei in veral die landbousektor, hoër kommoditeitspryse en, meer onlangs, beter beleggersentiment.

“Ons dink die huidige begroting is wat vereis word om die ekonomie reg te ruk. Dit is absoluut noodsaaklik dat ons die ekonomie stabiliseer sodat dit kan groei en meer werkgeleenthede kan skep.”

Stuart het ’n verslag aan die komitees voorgelê waarin gesê word BTW is ’n seker bron van inkomste, gegewe dat die ontwerp daarvan eenvoudig gehou word.

“Deur die BTW-koers met een persentasiepunt te laat styg, sal na raming die minste nadelige uitwerking op ekonomiese groei en indiensneming op mediumtermyn hê. BTW is laas in 1993 aangepas en is laer as die wêreld- en Afrika-gemiddelde,” lui die verslag.

Ons sal na mense luister. Ons kyk altyd na die impak van enige begrotingsvoorstel.
Ismail Momoniat

Momoniat sê van die openbare kommentaar was onder meer dat ’n BTW-verhoging, tesame met ’n verhoging in die brandstofheffing, die armstes die ergste sal raak.

Volgens hom is daar in die openbare insette baie min alternatiewe aangebied, maar is die tesourie bereid om diegene wat insette gelewer het, te vra vir bewyse om hul insette te staaf.

“Ons sal na mense luister. Ons kyk altyd na die impak van enige begrotingsvoorstel.”

Volgens Momoniat was van die publiek se insette dat daar eerder gekyk moet word om ryk individue meer te belas en maatskappybelasting te verhoog.

“Van dit is reeds in die begroting gedoen. Die vraag is of daardie verhogings genoeg geld sal invorder om die begrotingstekort te verminder.”

Momoniat erken dit was nie net swak ekonomiese omstandighede wat daartoe gelei het dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) minder belasting as verwag ingevorder het nie.

Hy meen die SAID se administratiewe en bestuursprobleme het daartoe bygedra. Dit moet dringend aandag kry en dit is waarom pres. Cyril Ramaphosa ’n kommissie van ondersoek na die SAID in sy staatsrede aangekondig het.

Volgens Momoniat was daar die afgelope jare ook ongetwyfeld massiewe korrupsie en vermorste staatsuitgawes wat dringend aandag moet kry omdat dit ’n groot uitwerking op Suid-Afrikaners se belastingmoraliteit het.

Meer oor:  Ismail Momoniat  |  Tesourie  |  Btw  |  Luister
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.