Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Brackenfell: Ouers het al oor diversiteit gekla
Die skool distansieer hom van die geweld wat buite sy skoolhekke uitgebreek het. Foto: Jaco Marais

Die bestuur van Brackenfell Hoërskool in Kaapstad, wat hom te midde van ’n reuse-rasseherrie bevind, het reeds in Julie met ouers vergader nadat daar kommer uitgespreek is oor ’n gebrek aan diversiteit by die skool.

Dit is luidens ’n brief wat die skool se beheerliggaam Donderdag aan ouers uitgestuur het.

Die skool het na dié vergadering maatreëls ingestel om diversiteit te bevorder.

Die geweld wat Maandag naby die skool uitgebreek het toe ’n groot groep ouers van die skool en inwoners buite die perseel ’n groep EFF-betogers ingewag het, het die aanvanklike rasseherrie wat ontstaan het oor die skool se “wit matriekafskeid” verder aangeblaas.

Die polisie moes inwoners, wat ouers van die skool ingesluit het, fisies van die EFF-betogers weghou. Foto: Jaco Marais
Personeel van private veiligheidsmaatskappye was op die toneel waar inwoners die EFF-lede aangevat het. Foto: Jaco Marais

Die gewelddadige konfrontasie het selfs die nuus in die buiteland gehaal, en pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag in die parlement gesê die “rasseverdeeldheid” wat dié voorval gekenmerk het, wys hoe diepgewortelde rassisme in Suid-Afrika weer blitsvinnig in krisistye kan kop uitsteek.

In die brief, van dr. Guillaume Smit, voorsitter van die beheerliggaam, en Jannie Muller, skoolhoof, word die maatreëls uiteengesit waarop daar in Julie besluit is.

Dit sluit in dat ’n diversiteitskomitee reeds sy eerste vergadering gehou het; die skool se beleid oor meisies se hare is aangepas en op 4 November afgehandel; en konsultante word aangestel om diversiteitsopleiding aan leerlinge en onderwysers te bied, wat van volgende jaar gereeld sal plaasvind.

Die beheerraad verbind hom in die brief ten volle tot verdere gesprekke met leerlinge en hul ouers om ’n “konstruktiewe weg te baan vorentoe”.

“As ’n skool verbind ons daartoe om beter te luister, beter te wees en beter te doen.”

LEES OOK: Brackenfell: Ma sê oor ‘afskeid’ wat rasseherrie word

Die bestuur doen ook ’n beroep op ouers om nie betrokke te raak by “enige vorm van aggressie of geweld by of in die omgewing van die skool nie”.

In die brief veroordeel die skool die geweld “onomwonde” en distansieer homself van die voorval “en enige vorm van haatspraak op sosiale media as gevolg van hierdie gebeure”.

“Die skool kan nie verantwoordelikheid neem vir die private funksie wat sonder die skool se betrokkenheid gereël is nie. Ons erken en is diep spyt oor die pyn wat dit ons leerlinge aangedoen het, veral ons leerling van kleur.”

Die skoolbestuur sê sy prioriteit op die oomblik is die matriekeindeksamen en om te sorg dat daar nie ontwrigting is nie en dat die omgewing veilig is vir die leerlinge.

“Ons doen beroep op julle om kalm en dissipline toe te pas aangesien enige eskalasie van geweld slegs ons leerlinge, julle kinders, in gevaar sit en onnodige angs en afleidings tydens die eksamen veroorsaak.

“Hierdie aksies verteenwoordig nie die skool of die waardes wat ons hier leer nie. ”

Die ouers en gemeenskapslede het die EFF buite die skool ingewag. Foto: Jaco Marais

Die beheerliggaam se waardes sluit “eenheid, respek, verantwoordelikheid, burgerskap, integriteit en naasteliefde” in en hy verbind hom verder daartoe om ’n skool te skep waar elke leerling voel dat hulle veilig is en aanvaar word, “en die belangrikste, dat hulle gehoor word”.

“Ons visie is ’n skool van respek en verdraagsaamheid waar ons mekaar vier en hande met die gemeenskap vat om ’n beter toekoms vir ons kinders te skep”.

• Nadat ’n video van die funksie op sosiale media gedeel is, het die EFF dit as rassisties bestempel en Maandag het ’n groep van 30 EFF-ondersteunders na die skool opgeruk.

’n Heelwat groter groep ouers en inwoners het die EFF egter ingewag en die groep in ’n straat naby die skool bestorm.

Daar was ’n sterk polisieteenwoordigheid buite die skool en die polisie moes skokgranate afvuur om die groepe uiteen te dryf.

Minstens een EFF-ondersteuner het ’n klag van aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Die vrou is glo met ’n bofbalkolf op die rug geslaan.

Die enigste persoon wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, is Jaco Pretorius (39), wat glo skote naby in die lug geskiet het. Hy het Woensdag in die hof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat tot sy volgende hofverskyning in 2021.

Meer oor:  Betoging  |  Hoërskool Brackenfell  |  Rassisme  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.