Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hoës oorgehaal om voor Zondo te getuig
06 September 2018

Twee senior kabinetslede asook huidige en voormalige senior staatsamptenare berei hulle voor om te verskyn voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, wat Donderdag hervat word.

Nhlanhla Nene, die minister van finansies, het Woensdag bevestig dat hy voor die kommissie, onder leiding van adjunk-hoofregter Raymond Zondo, sal verskyn.

Nhlanhla Nene, minister van finansies. Foto: Elvira Wood

Jabulani Sikhakhane, woordvoerder van Nene, sê die minister sal in sy getuienis later vandeesmaand besonderhede verskaf oor wat daartoe aanleiding gegee het dat hy in 2009 skielik deur oudpres. Jacob Zuma afgedank is.

“Die minister sal in die loop van die maand voor die kommissie verskyn. Die datum vir sy verskyning moet nog bevestig word,” sê Sikhakhane.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het ook deur sy woordvoerder, Adrian Lackay, bevestig dat hy binnekort ’n skriftelike voorlegging aan die ondersoek sal doen en bevestig dat hy beskikbaar is om te getuig, indien hy gevra word.

“Die voorlegging kon nie voltooi word voordat hy op sy staatsbesoek aan China saam met die president (Cyril Ramaphosa) vertrek het nie. Maar hy sal ten volle met die kommissie saamwerk,” sê Lackay.

Intussen het Netwerk24 verneem dat talle voormalige senior staatsamptenare inligting oor staatskaping voorberei ná die kommissie se oproep op hulle om na vore te kom.

Pravin Gordhan.

Frank Chikane, voormalige direkteur-generaal (DG) in die presidensie, het Woensdag bevestig dat hy bereid is om voor die kommissie te verskyn. Chikane was een van 27 oud-DG’s wat in 2016 ’n brief aan die kabinet gestuur het waarin hulle ’n beroep doen vir ’n kommissie van ondersoek na staatskaping.

“Ek is bewus daarvan dat sommige (van die) DG’s gekontak is. Hulle beoog om binnekort inligting bekend te maak,” sê Chikane.

“Die DG’s is bereid om voor die kommissie te verskyn om oor die brief te praat.”

Dit kom nadat Themba Maseko, voormalige hoof van regeringskommunikasie en inligtingstelsels (GCIS), verlede week aan die kommissie gesê het hy glo dat daar ’n aantal staatsamptenare is wat bereid sou wees om die kommissie met inligting oor staatskaping te help.

Mavuso Msimang, voormalige DG van binnelandse sake, wat ook die brief in 2016 onderteken het, het bevestig dat die kommissie na hom en ander uitgereik het.

 ”Ons is gekontak, ons sal ten volle saamwerk,” het hy gesê.

Siphiwe Nyanda, ’n voormalige minister van kommunikasie, het ander oudstaatsamptenare aangemoedig om na vore te kom.

“Ek staan by die gees waarin die brief geskryf is. Ons moedig direkteurs-generaal aan om met ’n morele ingesteldheid te dien en op te tree op die manier wat van staatsamptenare verwag word,” sê hy.

Levy Ndou, ’n politieke ontleder verbonde aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, sê Maseko se getuienis was deurslaggewend vir huidige en voormalige senior staatsamptenare om na vore te tree.

“Maseko se bydrae het die sluise oopgedraai. Die kommissie moet hulle (staatsamptenare) nou voldoende versekering gee dat hul optrede nie hul huidige posisies sal beïnvloed nie,” sê Maseko.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.