Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hofsake hang reeds oor Vrystaatse ‘ANC-sirkus’

Die ANC se Vrystaatse provinsiale verkiesingskonferensie wat Sondag in Parys moet begin, is reeds in groot omstredenheid gedompel. Die Cyril Ramaphosa-faksie het dit as ’n “Boswell-sirkus” bestempel.

Die Ramaphosa-faksie het ook net voor die leierskonferensie in die Woodlands Lodge-konferensiesentrum kon begin, gedreig om al die besluite hier deur ’n nuwe hofaansoek nietig te laat verklaar.

Dit kan ’n slaggat in die pad wees vir die Vrystaat om aan die nasionale konferensie deel te neem en Nkosazana Dlamini-Zuma se kanse om die ANC-leier en president te word, ernstig belemmer.

Afgevaardigdes vir die ANC se Vrystaatse konferensie kamp op die sypaadjie uit in Parys terwyl hulle wag dat die konferensie begin. Dit moet vandag hier begin. Teen 12:00 was die afgevaardigdes van drie streke nog nie in Parys nie. Foto: Mlungisi Louw

Thabo Meeko, Vrystaatse ANC-woordvoerder, het egter volgehou die verkiesingskonferensie sál Sondag en Maandag voortgaan, terwyl die party probeer om te reageer op ’n vorige hofuitspraak ingevolge waarvan takverkiesings weer gehou moes word.

Joernaliste en ander belanghebbendes sukkel intussen om geakkrediteer te word en wag al die hele Sondagoggend om deur die trae ANC-masjien bedien te word. Daarby wag die ANC steeds op die afgevaardigdes van drie streke, waaronder Mangaung, om op te daag. Sonder hulle is daar nie ’n kworum nie.

“Dit gaan voort volgens bepalings van die ANC-grondwet en volgens die nasionale konferensiepadkaart,” sê Meeko oor die hofbevel en nuwe hofaansoeke wat die proses hier nietig kan verklaar.

Die nasionale konferensie word van 16 tot 20 Desember by Nasrec in Johannesburg gehou.

Meeko sê die 29 ANC-takke wat verkiesings moes oorhou ingevolge ’n hofuitspraak sou dit van 6 tot 10 Desember doen.

Volgens hom het die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC moeite gedoen om seker te maak dat dit dié keer suksesvol sal wees. Al die betrokke takke is vooraf oor die hofuitspraak ingelig.

Die takke is ook ingelig oor die logistiek van die provinsiale verkiesingskonferensie en die benadering van die provinsiale uitvoerende komitee oor al die breë kwessies waarmee die organisasie te kampe het.

Meeko sê hierdie takke is deel van die geouditeerde takke en kwalifiseer dus om na albei konferensies te gaan. Hulle bestaan uit 90% van alle takke soos wat die ANC-grondwet vereis vir die konferensie om voort te gaan.

Hy sê op die provinsiale konferensie sal verslae bekyk word en beleidsake en die verkies van nuwe leiers vir die ANC sal bespreek word.

Die eenheid van die ANC, die alliansie en die mense van Suid-Afrika sal sentraal tot die konferensie wees.

Intussen dreig ontevredenes in die groep wat hulle by adj.pres. Cyril Ramaphosa skaar dat “ ’n groot hofsaak” wag op die kamp van Ace Magashule, Vrystaatse premier, en dat al die besluite wat die naweek geneem word, tot niet verklaar gaan word. Ook die PUK sal Dinsdag of Woensdag in ’n hofsaak in die Vrystaatse hooggeregshof deur hulle tot niet verklaar word.

Vroulike afgevaardigdes lê hier in die koelte op die gras en wag vir die Vrystaatse ANC-leierskonferensie in Parys om te begin.Foto: Mlungisi Louw

Spirit Monyobo, kommunikasiekoordineërder van die ontevredenes, wat glo nie almal Cyril Ramaphosa-ondersteuners is nie, sê dit wat die naweek in Parys gebeur “is niks anders as ’n Boswell-sirkus nie”.

“Maar ons kom met ’n groot hofsaak Woensdag. Alles gaan beter word as Ramaphosa eers aan bewind kom.”

Hy sê al 29 takke wat volgens ’n uitspraak in die hooggeregshof weer verkiesings moes hou, is steeds verknoei, terwyl daar in sommige gevalle nie kworums op die vergaderings was nie en in ander gevalle mense weggebly het omdat dit gereën het.

Verder het 84 takke wat dispute verklaar het, nooit hierop geantwoord nie. Daar is dus fout by 113 ANC-takke. Daar is nie ’n manier dat die naweek se konferensie kon voortgaan nie.

“Maar ons gaan hulle los. Laat alles mooi afgehandel word en dan bots hulle volgende week met die gereg in die hof.”

Hy sê die ANC-takke wat steeds nie volgens die ANC-grondwet se bepalings aan die vereistes voldoen nie, is 11 takke in Xhariep, 25 in Mangaung, 25 in Thabo Mofutsanyana, nege in Fezile Dabi en 14 in Lejweleputswa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.