Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hogan: Ek was ’n struikelblok vir Zuma

Barbara Hogan, ’n voormalige minister van openbare ondernemings, sê oudpres. Jacob Zuma het haar beskou as ’n “struikelblok” in sy pad om die aanstelling van direksielede en uitvoerende hoofde van staatsbeheerde instellings te beïnvloed.

Hogan het Woensdag aan die kommissie oor staatskaping in Parktown, Johannesburg, gesê sy “het ’n sterk vermoede” haar “ferm teenstand” teen Zuma se inmenging in aanstellings by staatsbeheerde instellings was die rede vir haar ontslag op 10 Oktober 2010.

Sy sê haar teenstand teen Zuma se inmenging in die aanstelling van Siyabonga Gama as Transnet se uitvoerende hoof, sy inmenging in 2009 om Jacob Maroga, die destydse uitvoerende hoof van Eskom, se bedanking te stuit, en die kansellering van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se roete na Mumbai in Indië, was die rede hoekom sy uit die kabinet geskop is.

“Ek en die president het baie uiteenlopende idees oor korporatiewe beheer gehad. Ek het die indruk gekry dat ek ’n struikelblok vir hom is,” het sy gesê.

“Ek is oortuig daarvan dat my teenstand teen die sterk menings van pres. Zuma in verband met die aanstelling van sekere voorkeurkandidate vir poste soos dié van uitvoerende hoof en voorsitter van Transnet toe ek minister was, het hom tot die gevolgtrekking laat kom dat ek nie sy wil sal uitvoer nie.

“Ek glo dit is die rede waarom Zuma my afgedank het.”

Duduzane Zuma, ’n seun van oudpres. Zuma, het vroeër by die kommissie opgedaag om klarigheid te kry oor die kommissie se besluit om sy kruisondervraging van Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, uit te stel.

Dit kom nadat die kommissie aan Zuma jr. toestemming gegee het om Jonas te kruisondervra. Jonas het vroeër getuig Zuma jr. was teenwoordig op ’n vergadering waar lede van die Gupta-familie na bewering omkoopgeld van R600 miljoen aan Jonas aangebied het.

Adv Piet Louw, SC, Zuma jr. se regsverteenwoordiger, het aan adjunk-hoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, gesê Zuma het van oorsee gekom – en sy hoogswanger vrou agtergelaat – om Jonas te kruisondervra. Dit is intussen van 14 tot 26 November uitgestel.

“Ek is hier om beswaar te maak, maar die koeël is deur die kerk, ons kan niks daaraan doen nie. Ons wil net die punt tuisbring dat ons kliënt ’n belang hierby het en dat dit uiters nadelig vir hom is dat dit uitgestel is,” het Louw gesê.

Zondo het gereageer dat dit betreurenswaardig is dat Jonas se aansoek vir die uitstel nie betyds aan Zuma se regspan bedien is nie.

Die sakeman Mzwanele Manyi het ook op die getuiebank dit betreur dat sy geskeduleerde getuienis oor Phumla Williams, waarnemende uitvoerende hoof van GCIS, die regering se kommunikasiediens, van 14 tot 23 November uitgestel is.

Adv. Vincent Maleka, SC, ’n lid van die kommissie se regspan, het gesê daar is ook ander kwessies waaroor die kommissie Manyi wil ondervra, waaronder die bewering dat hy opdrag gegee het dat GCIS se mediabesteding na die New Age-koerant gekanaliseer word toe hy die uitvoerende hoof van die instelling was.

Zondo het tussenbeide getree en beslis dat Manyi Woensdag toegelaat sou word om te getuig, maar dat dit beperk sou word tot sy antwoorde op Williams se getuieverklaring. Ander kwessies sal behandel word wanneer hy op 23 November terugkeer.

Zondo het gesê die getuies van Dennis Bloem, Cope-LP en die party se nasionale woordvoerder, is ook uitgestel.

Bloem het aan Netwerk24 gesê hy is gevra om te kom getuig ter stawing van die ANC-LP Vytjie Mentor se getuienis dat sy ’n pos as minister aangebied is deur ’n lid van die Gupta-familie in ruil daarvoor dat die SAL-roete na Mumbai gekanselleer word.

Levy Ndou, ’n politieke ontleder, sê omdat oudpres. Zuma se naam toenemend betrek word by bewerings van staatskaping, is dit net ’n kwessie van tyd voordat die kommissie hom gaan vra om te kom getuig.

“Hy het ’n morele en politieke verpligting om inligting aan hierdie kommissie te gee. Hy moet die kommissie kom help funksioneer.”

Meer oor:  Barbara Hogan  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.