Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Holomisa verkla Trollip by OG

Die stryd tussen die DA en die UDM, eertydse koalisievennote in die Nelson Mandelabaai-metro, het nog ’n wending geneem.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het ’n skerp bewoorde brief aan Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), geskryf met die opdrag dat hy beweringe van korrupsie teen Athol Trollip, voormalige burgemeester, en Johann Mettler, munisipale bestuurder, ondersoek.

Bantu Holomisa, leier van die UDM. Foto: Tebogo Letsie, City Press

In die brief beweer Holomisa sy party het ’n dossier in sy besit wat deur ’n fluitjieblaser opgestel is en waarin beweer word dat Trollip met die interne ouditproses ingemeng het om Mettler en dr. Crispian Olver, skrywer van die boek How to Steal a City: The Battle for Nelson Mandela Bay, te beskerm.

“Trollip en Mettler het ingemeng met en verskeie vertragingstaktieke gebruik om die interne forensiese ondersoek te kelder oor wat in die dossier beweer word onwettige kontrakte met Mohlaleng Media is,” skryf Holomisa in die brief.

Trollip het die metro se kontrakte met Mohlaleng Media in 2016 gevries nadat die stad na bewering meer as R21 miljoen daaraan bestee het en van die geld volgens Trollip gebruik is om politieke aanstellings te finansier.

Holomisa beweer egter dat Trollip bewus was van Mettler se beweerde rol in die vermeende korrupsie ten opsigte van Mohlaleng Media, “maar nie die inligting aan die raad geopenbaar het nie”.

“Trollip het volhard met sy beskerming van Mettler en voortgegaan om sy aanstelling as stadsbestuurder te help verwesenlik, en het sodoende die wesenlike inligting waaroor hy beskik het, onder die mat ingevee,” beweer Holomisa.

Trollip het in reaksie op die brief gesê hy verwelkom dit dat Holomisa die OG betrek, aangesien dit hy (Trollip) was wat alle betalings aan Mohlaleng gestaak het.

“Ek het die ondersoek ingestel en die verslag daaroor is by die raad,” het Trollip gesê.

Trollip het in gebreke gebly om die raad, en inderwaarheid die inwoners van die metro, in sy vertroue te neem en verslag te doen oor enige vordering wat met die ondersoek gedoen is.

Hierop sê Holomisa weer dat die ondersoek nie deur die munisipaliteit se interne waghond behartig is nie, maar eerder deur ’n buite-instelling van Trollip se keuse.

“Trollip het in gebreke gebly om die raad, en inderwaarheid die inwoners van die metro, in sy vertroue te neem en verslag te doen oor enige vordering wat met die ondersoek gedoen is.”

Afskrifte van Holomisa se brief is ook gestuur aan Fikile Xasa, Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Mongameli Bobani, die nuwe burgemeester van Nelson Mandela-baai, sowel as aan Buyelwa Mafaya, die nuwe speaker.

Meer oor:  Da  |  Udm  |  Athol ­Trollip  |  Bantu Holomisa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.