Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Honderde in staat se diens vra: Waar is ons pensioen?

Vir 26 jaar het Cecilia Motaung duisende mense verpleeg in staatshospitale in Gauteng. Sedert sy in Maart afgetree het, het sy egter nog nie ’n sent van haar pensioen gekry nie. Haar storie is een van honderde.

Denver Jansen, ’n afgetrede adjunkskoolhoof, moes vyf maande wag vir sy eerste pensioenuitbetaling.

Motaung (60), van Rusloo in Vosloorus aan die Oos-Rand, sê sy moes sedert April soveel geld leen om aan die lewe te bly dat sy haar bure nie meer in die oë kan kyk nie.

“Die bank gaan volgende week op my kar kom beslag lê, want ek het nie meer geld nie. Ek kan nie meer kos koop nie,” sê Motaung.

“Ek het gehoor dit kan ’n maand of twee neem voordat jy jou pensioen ontvang aangesien mensehulpbronne soms sukkel om iemand by die staatsdienspensioenfonds (GEPF) in die hande te kry,” sê sy.

Maar toe ’n skoonmaker wat saam met haar afgetree het einde April haar pensioen kry, het Motaung onrustig geraak.

In Mei het haar spaargeld min geraak en sy het die GEPF gekontak.

“Vir ure en ure moes ek op die telefoon bly net om geen antwoord te kry nie. My e-posse is eers ná ses weke geantwoord.”

In Julie het sy uiteindelik by ’n GEPF-beampte van Gauteng uitgekom. Dié het gesê die probleem was dat haar huweliksertifikaat nie by haar dokumente ingesluit was nie, maar Motaung sê dis verregaande. Sy is al in 2002 geskei.

Rama­phosa moet vir my verduidelik hoekom ek so ly.

“Pres. Cyril Ramaphosa moet vir my verduidelik hoekom ek so ly nadat ek hierdie land vir jare met respek en integriteit gedien het,” sê sy.

Rapport het die afgelope week met nog vyf mense gesels wat al lank wag vir hul eerste pensioenuitbetalings.

* Rina van Zyl (64) was 36 jaar ’n administratiewe beampte in die lugmag by Langebaanweg aan die Weskus. Sy het in Desember 2019 uitgetree, maar reeds in Augustus 2019 al haar dokumente aan die GEPF gestuur. Sy het tot vandag toe nog nie haar uitbetalings gekry nie: “Ek bel partykeer elke tweede dag die GEPF-kantore. Ek is verskriklik ontsteld hieroor en het reeds my mediese dekking verloor.”

* Denver Jansen (55), ’n voormalige adjunkskoolhoof van Lotusrivier in Kaapstad met 30 jaar diens, is in September verlede jaar medies ongeskik verklaar nadat hy ’n beroerte gehad het. Hy het eers in Februarie pensioenuitbetalings ontvang nadat hy uitgevind het dat sy dokumente vir maande lank op een persoon se lessenaar gelê het: “Dankie tog my vrou werk, want my geld was op. Ek is weer hospitaal toe weens die stres.”

* ’n Voormalige lid van die weermag, wat op voorwaarde van anonimiteit praat uit vrees dat hy sy pensioen kan verloor, wag al sedert Februarie vir ’n uitbetaling. Die man (55), wat in Bloemfontein woon, moes geld by sy ouers leen om sy mediese onkoste te dek: “Dit is nie wat ek verwag het ná 36 jaar se getroue diens nie.”

* ’n Verpleegster van Krugersdorp (60) wag al vyf maande: “Hulle vat hul tyd by die GEPF en vergeet dat hulle met mense se inkomste werk.”

* ’n Dokter (62) van Westville in KwaZulu-Natal wag al meer as ’n jaar: “Die laaste keer wat ek met die GEPF gepraat het, het hulle gesê my aansoek is by die betaalafdeling. Dit is nou al vyf maande daar.”

Op ’n Facebook-blad met die naam GEPF Forum, met 31 000 lede, kla honderde pensioentrekkers oor dieselfde probleem.

’n Administrateur van die Facebookgroep sê sy help daagliks mense om probleme met uitbetalings te probeer uitstryk. Dit is onmoontlik om te sê presies hoeveel mense met dieselfde probleem sit, “maar dit is te veel”. Sy wil nie haar naam bekend maak nie omdat sy nie brûe wil verbrand by die GEPF-kantore nie.

Die Vereniging vir die Monitering van Staatspensioene (Amagp) het in Julie ’n ontleding bekend gemaak waarin beweer is dat die GEPF verlede jaar R6,8 miljard aan rente op laat betalings van pensioenvoordele bestee het. In 2018 was dit R2,2 miljard.

Mack Lewele, woordvoerder van die regering se pensioenfonds-administrasie agentskap (GPAA), sê daar is verskeie redes vir die agterstande om aansoeke te verwerk waaronder dokumente wat nie reg ingedien word nie, bedrog wat ondersoek moet word, en sterftes.

“Daar word meestal verkeerdelik aanvaar dat ons die vertragings veroorsaak. Maar die meeste lede oefen nie druk uit op hul werkgewers om dokumente betyds in te dien nie,” sê Lewele. Hy sê hoewel Covid-19 nie die agterstande veroorsaak het nie, het dit sake vererger. “Pensioenadministrasie het uit die aard van die saak agterstande.” Hy voeg by dat die GPAA aanhou probeer om hul dienste te verbeter.

Die DA-LP Geordin Hill-Lewis sê dit wat met Motaung gebeur, gebeur met baie staatsamptenare. “Dit wys hoe mense ly aan die hande van ’n onbekwame staat wat so baie mag oor mense se lewens toe-eien, maar dan nie enige toewyding of professionalisme wys wanneer daardie mag uitgeoefen moet word nie.”

Meer oor:  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.