Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Honderde kom luister na plan met Centurion-grondeis
Sowat 1 000 mense het Dinsdagaand by Leriba Lodge in Centurion AfriForum se vergadering oor die reuse-grondeis in die suide van Centurion bygewoon. Foto: Sarel van der Walt

Sowat 1 000 mense het Dinsdagaand by Leriba Lodge in Centurion AfriForum se vergadering bygewoon oor ’n reuse-grondeis wat meer as 2 000 huishoudings raak.

Die eis, wat al in 1998 namens 39 lede van die Mahlangu-familiegroep by die grondeisekommissie ingedien is, is in Junie verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer.

Dit raak groot dele (sowat 4 000 hektaar) van veral die suide van Centurion. Daar is ook ’n soortgelyke eis in die ooste van Pretoria.

AfriForum het op die vergadering ’n mandaat van die teenwoordiges gevra om namens hulle met ’n regstryd te begin. Hy het ook ’n aksieplan van 13 punte bekend gestel.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê sedert 1 Januarie was daar al 70 voorvalle van grondgrypery landwyd.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê eiendomsreg is ’n mensereg en dit word nou bedreig.

AfriForum het reeds ’n versoek aan die grondkommissie gerig en uitstel gevra om voorleggings teen die eis in te dien. Volle besonderhede van die eis is ook versoek.

Politici het onrealistiese verwagtinge oor grond by hul ondersteuners geskep en AfriForum gaan beslis nie terugstaan en toekyk hoe wettige grondeienaars die prys hiervoor betaal nie.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

“AfriForum tree tot die saak toe omdat die eiendomsreg van honderde eiendomseienaars – wat hard gewerk het vir wat hulle het – deur ’n grondeis sonder meriete bedreig word.

“Politici het onrealistiese verwagtinge oor grond by hul ondersteuners geskep en AfriForum gaan beslis nie terugstaan en toekyk hoe wettige grondeienaars die prys hiervoor betaal nie.

“Ons sal hierdie ongegronde grondeis met alle meganismes tot ons beskikking teenstaan,” het Kriel op die vergadering gesê.

“Ons moenie paniek saai nie, maar ons moet ook nie soos volstruise kop in die grond steek nie. Ons gaan dié geveg veg om te wen en om eiendomsreg te beskerm.”

Willie Spies, AfriForum se prokureur, het gesê die eerste stap sal ’n omvattende antropologiese ondersoek wees.

“Daar is tans groot onsekerheid oor die toekoms van eiendomsreg,” het Spies gesê. “Volgens wet moet mense wat in dié gebied woon, die grondeisekommissie in kennis stel indien hulle hul eiendom wil verkoop”.

Van die woonbuurte wat geraak word, is Zwartkop, Doornkloof, Rooihuiskraal, Olievenhoutbosch, Hoekplaats, Trigaardspoort, The Reeds, Brakfontein, Heuweloord, Louwlardia, Kosmosdal en Midstream (wat deel vorm van Ekurhuleni).

Die gesamentlike waarde van die residensiële eiendom wat geraak word, is sowat R4 miljard.

Selfs die grond waarop die Danie Joubert-snelweg (wat naby onder meer SuperSport Park deur Centurion loop) gebou is, word geëis. Van die eisers is al oorlede.

Die 13 punt-plan sluit in dat ’n regspan en deskundiges aangestel word, die beoordeling en assessering van die saak en litigasie.

Meer oor:  Grondeis  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.