Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hoof in VS sê OB wil dié instelling vernietig

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), moet uit haar pos verwyder word omdat sy ’n “onbekwame” leier is “wat besig is om dié prestige-instelling te vernietig”.

Adv. Busisiwe MkhwebaneFoto: CONRAD BORNMAN

Só het Sphelo Samuel, hoof van die OB-kantoor in die Vrystaat, Maandag gesê en bygevoeg dat hy volstaan by dit wat hy in ’n verdoemende beëdigde verklaring oor Mkhwebane sê. Dié verklaring is vroeër aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, gestuur sodat die parlement dit kan ondersoek.

News24 en amaBhungane het Maandag berig dat Samuel onder meer in dié verklaring aanvoer dat Mkhwebane die kantoor wanbestuur in ’n “georkestreerde plan om die OB-kantoor te vernietig”. Hy beskuldig haar ook daarvan dat sy ingemeng het by die aanvanklike Vrede-suiwelplaas-ondersoekverslag deur voorstelle vir verdere ondersoeke teen Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal en voormalige Vrystaatse premier, en Mosebenzi Zwane, voormalige minister en LUR vir landbou in die Vrystaat, te verwyder.

Samuel het Maandag gesê hy wil nie verder oor laasgenoemde uitwei nie, “omdat ek die parlement met my beëdigde verklaring in my vertroue geneem het”.

“Ek wil hê die parlement moet die eerste platform wees waarmee ek die fyn besonderhede oor haar inmenging in die Vrede-projek deel.”

Volgens Samuel is die moreel van die personeel in die OB-kantoor baie laag sedert Mkhwebane OB geword het.

“Sy het uit die staanspoor gesê dat sy van almal wat met Thuli Madonsela, haar voorganger, gewerk het, ontslae sal raak. En sy doen dit. Ek het besluit om teen haar mishandeling van die personeel op te staan.

“Hulle kan my maar aankla. Ek is gereed vir hulle.”

As sy niks het om weg te steek nie, moet sy die (Vrede-) verslag publiseer soos wat dit van die ondersoekers af gekom het.

In reaksie op Samuel se bewerings het Mkhwebane se kantoor in ’n verklaring gesê daar is “ ’n kommerwekkende neiging” onder haar senior personeel om haar by die parlement te verkla wanneer hulle tugstappe in die gesig staar. Sy meen dit is om die parlementêre proses oor haar verwydering te beïnvloed.

Mkhwebane beweer dat Samuel tugstappe in die gesig staar nadat hy skuldig bevind is dat hy ’n klaer aangerand het wat in die OB-kantoor hulp gesoek het.

Samuel het Maandag gesê hy appelleer teen sy skuldigbevinding, en dat hy dit reeds in sy beëdigde verklaring aan Modise verklaar het “omdat ek geweet het sy gaan dit teen my gebruik”.

Mkhwebane sê sy appelleer nou teen ’n hofbevinding oor die Vrede-verslag en kan nie in dié stadium kommentaar daaroor lewer nie.

Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, het Maandag gesê Mkhwebane behoort weens Samuel se bewerings geskors te word “sodat sy nie by die ondersoek kan inmeng nie”.

“As sy niks het om weg te steek nie, moet sy die (Vrede-) verslag publiseer soos wat dit van die ondersoekers af gekom het.”

Cope meen Samuel se beëdigde verklaring moet deel van die parlementêre ondersoek oor Mkhwebane se geskiktheid vir haar pos vorm. “Sy moet dringend afgedank word omdat sy die integriteit en geloofwaardigheid van die hoogs gerespekteerde instelling vernietig.”

Die jongste bewerings teen Mkhwebane kom nadat sy Sondag ook vure moes doodslaan ná mediaberigte dat sy probeer om die Zondo-kommissie van ondersoek se werk in die wiele te ry. Sy het dit ook in ’n verklaring ten sterkste ontken.

* Intussen het die parlement Vrydag bevestig dat politieke partye hul benoemings vir die onafhanklike paneel ingedien het wat die voorlopige bewyse op die DA-mosie oor Mkhwebane se verwydering moet oorweeg.

Modise het in ’n verklaring gesê dat sy die name sal oorweeg en haar besluit einde Februarie sal aankondig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.