Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hoogverraad om apartheid te ontken, sê Cyril
President Cyril Ramaphosa. (Esa Alexander)
Pres. Cyril Ramaphosa

Om apartheid se impak op elke lewende Suid-Afrikaner te ontken grens aan hoogverraad, het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag gesê.

Die debat oor die staatsrede wys die diverse sienings en die verdeeldheid wat steeds in die land en die politieke sektor heers, het Ramaphosa gesê.

Almal is egter steeds verenig daarin dat almal ’n beter toekoms vir die land wil hê, het Ramaphosa in die repliek op die debat oor sy staatsrede gesê.

Hy het aangehaal uit die aanhef tot die Grondwet dat Suid-Afrika aan almal behoort wat in die land woon.

Die Grondwet moet help om die verdeeldheid van die verlede te genees, en lê die grondslag vir ’n samelewing waar almal gelyk voor die reg is.

Dis belangrik dat die hele aanhef van die Grondwet in herinnering gebring behoort te word, “want dit beskryf die soort samelewing wat ons wil bou”.

Apartheid was inherent ’n misdaad teen die mensdom, het Ramaphosa gesê, met verwysing na die omstredenheid rondom oudpres. FW de Klerk wat in ’n BBC-onderhoud gemeen het hy stem nie regtig saam dat dit as ’n misdaad teen die mensdom beskryf kan word nie.

Die FW de Klerk-stigting het later om verskoning gevra vir dié uitlating.

Daar is geen Suid-Afrikaner wat tans lewe wat nie deur apartheid geraak is nie, en om dit te ontken grens aan hoogverraad, het Ramaphosa gesê.

Nie-rassigheid is ’n rigtinggewende beginsel vir die land, het hy gesê.

Hy het deelnemers aan die debat oor sy staatsrede bedank vir hul bydraes, al word nie saamgestem met alles nie. Selfs die ergste kritici wat gemeen het Ramaphosa het misluk, het tog juwele in sy staatsrede gevind, het hy gesê.

Ramaphosa het aangehaal uit ’n boodskap van ’n vrou wat aan hom geskryf het oor hoe teleurgesteld sy is oor die misbruik van geslagsgeweld in Dinsdag se debat. Dit was ’n verwysing na die heen-en-weer-beskuldigings wat tussen Julius Malema, EFF-leier, en ANC-parlementslede geslinger is oor geslagsgeweld.

Dié beskuldigings ondermyn volgens Ramaphosa die pogings van die regering om geslagsgeweld en diskriminasie teen vroue te bestry.

“Ons moet Suid-Afrika om verskoning vra vir die manier waarop geslagsgeweld in dié debat gebruik is.

“Ons moet alles in ons vermoë doen om geslagsgeweld en die moord op vroue te beveg,” het hy gesê.

Alle polisiekantore word nou toegerus met hulptoerusting om slagoffers van verkragting by te staan, en Ramaphosa het bevestig hy was in KwaZulu-Natal waar hy self kon sien dat dié toerusting by die polisiekantore teenwoordig is.

Die private sektor moet die regering se voorbeeld volg om vroue te bemagtig, ook in grondhervorming en verkryging.

Meer oor:  Cyril Rama­Phosa  |  Politiek  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.