Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Hou op om mekaar op grond van kleur te beoordeel’ – Cyril

Hy doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om mekaar te aanvaar en dat hulle moet ophou om hul landgenote op grond van hul velkleur te beoordeel, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Pres. Cyril Ramaphosa

Die president sê in sy jongste weeklikse nuusbrief Suid-Afrikaners moet seker maak almal, ongeag hul velkleur, het die geleentheid om ’n bydrae te lewer tot ’n beter, regverdiger en welvarende land.

Ramaphosa waarsku dat waar dit kom by transformasie in die werkplek, steek die private sektor sleg af by die openbare sektor.

“Hoewel ons sedert 1994 ’n lang pad gekom het, wys rassistiese en etniese uitlatings wat van tyd tot tyd gemaak word, dat ons gemeenskap nog kwessies, wat Joe Slovo op ’n keer die ‘sielkundige versperring’ genoem het, moet oorkom.

“Of dit nou weerspieël word in die interne dinamika van politieke partye, die werkplek, óf in briewe aan die koerante, kry ’n mens die indruk sommige mense is huiwerig om te aanvaar dat swart mense, wit mense, Indiërs en bruin mense almal gelyke regte het om aan die tafel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap te sit,” skryf Ramaphosa.

“As ’n land moet ons nie toelaat om op dié donker pad gelei te word nie. Ons het gesien wat elders in die wêreld die gevolge is van vorme van nasionalisme wat gegrond is op ras en etnisiteit.

“Dít is nie die gemeenskap wat ons vir ons kinders en onsself wil hê nie.”

Ramaphosa sê die doel is om bekwame, gekwalifiseerde en etiese mense aan te stel wat die waardes van die staatsdiens verpersoonlik, of hulle swart, wit of man of vrou is.

Hy skryf dit nie, maar dié uitlating van hom verwys moontlik na die kritiek oor die aanstelling van André de Ruyter, aangewese uitvoerende hoof van Eskom.

“Die betekenisvolle vooruitgang wat in die openbare sektor gemaak is, word nie deur die private sektor geëwenaar nie.

“Die boonste vlakke van bestuur in private maatskappye word steeds oorheers deur wit mans – al is hulle net 5% van die ekonomies aktiewe bevolking.

“Daarenteen is net 15% swart mense deel van topbestuur, terwyl hulle 79% van die aktiewe ekonomiese bevolking uitmaak.

“Besighede moet ernstige selfondersoek doen. Ons transformasie-agenda sal nie slaag as ons nie saamwerk om die deelname van alle Suid-Afrikaners in ons ekonomie te bevorder nie. En dít begin in die werkplek.

Ons transformasie-agenda sal nie slaag as ons nie saamwerk om die deelname van alle Suid-Afrikaners in ons ekonomie te bevorder nie. En dít begin in die werkplek.

“Swak arbeidsverhoudings word deels aangevuur deur opvattings dat swart werknemers beperk is tot die fabrieksvloere, terwyl die wit mense bestuursposte beklee.”

Die president, wat op sy dag ’n leiersrol in die vakbondwese in die land gespeel het, skryf dié onbillikheid het uiteraard nadelige gevolge waar dit kom by die teenstrydighede in inkomste waar swart werkers, volgens hom, altyd ’n fraksie verdien van dit wat wit werkers en bestuurders verdien.

“Die bevordering van (die aanstelling) van swart en vrouewerkers moet die hoeksteen wees van enige maatskappy se werksaamhede,” skryf die president.

Daar moet meer gedoen word as om bloot aan die vereistes te voldoen.

Dit moet ook monitering, opleiding, die oordrag van vaardighede en opvolgbeplanning insluit om aan die werknemers ’n beduidende belang te gee in die maatskappy waarvoor hulle werk.

Die ongeregtighede van die verlede moet getakel word. Swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie is belangrike gereedskap om nierassige transformasie te bevorder, skryf Ramaphosa.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.