Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Húlle help om Vrystaat te ‘kaap’ – DA-verslag

Maatskappye soos Sedgars/Sedtrade, E’tsho en C-Squared moet almal onder die vergrootglas kom in ’n ondersoek na hoe die Vrystaat onder leiding van Ace Magashule, oudpremier, gekaap is. So sê die DA aan regter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping. Marietjie Gericke doen verslag.

Regter Raymond Zondo Foto: Netwerk24

Die Vrystaat is die provinsie wat voorloop ten opsigte van staatskaping en sekere maatskappye moet beslis ondersoek word.

So skryf Patricia Kopane, Vrystaatse DA-leier, en dr. Roy Jankielsohn, DA-LPW en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, in hul “dossier oor die kaping van die Vrystaat”.

Hulle noem die maatskappye Sedgars/Sedrade, E’tsho en C-Squared by name.

“Dié maatskappye hou moontlik meer as die helfte van die Vrystaatse staatskontrakte,” skryf hulle. Hulle beweer die kaping behels onder meer die Vredesuiwelprojek en die kommunikasiekontrakte van miljoene rande wat die Magashule-regering aan ANC-vriende en kaders soos Letlaka Media and Communications van Tumi Ntsele toegeken het.

Maar die DA sê daar is heelwat meer voorbeelde.

Kopane skryf terwyl Suid-Afrika voorberei het vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010, het Magashule na bewering toutjies getrek vir ’n tender van multimiljoene rande om 30 000 sokker-T-hemde en 20 000 komberse aan te skaf.

“Sewe jaar later het ’n sakeman wat midde-in die transaksie was, beweer sy maatskappy het as front gedien vir ’n entiteit wat baie na aan Magashule was.

Ace Magashule Foto: Netwerk24

“Hoewel die premier enige regstreekse rol ontken het in die toekenning van die tenders, wys die saak hoe Magashule sake glo kon bewimpel om seker te maak dat die kontrakte in sy vennote se sak beland,” lui die “dossier".

Daar is ook spore van kaping in die departement van gesondheid.

“Die finansieel beleërde Vrystaatse gesondheidsdepartement het voortdurend ’n gebrek aan medisyne en personeel, terwyl gesondheidsgeriewe in ’n algehele toestand van verval is.

“Volgens die oudit van die 2016-’17-boekjaar het die departement onreëlmatige uitgawes van meer as R3,5 miljard gehad. Die departement word boonop deur R1,5 miljard se regseise weens beweerde nalatigheid in die gesig gestaar.

“Die jongste toevoeging van ’n R76,5 miljoen-tender oor 36 maande aan Sedtrade vir die aflewering van medisyne van die provinsiale depot na verskeie klinieke en hospitale in die provinsie, is ’n voorbeeld van hoe tenders misbruik word ten koste van dienslewering.

“Dieselfde tender was voorheen op R36 miljoen gewaardeer en het nou met ’n buitensporige R40,5 miljoen toegeneem.”

Patricia Kopane Foto: News24

Kopane skryf hoewel die nuwe spesifikasies strepieskodering en skandeertoerusting insluit, het die DA vanuit die private sektor verneem dat die tender nie meer as R44 miljoen moes gewees het nie. Dit sluit ’n goeie wins in.

Dit beteken die tender is minstens R32 miljoen te hoog.

Kopane sê Sedtrade het reeds verskeie winsgewende kontrakte van die provinsiale regering bekom vir die bou en onderhoud van paaie, behuisingsontwikkelings en die verskaffing van bemarkingsmateriaal.

“Dit is verstommend dat ’n maatskappy wat eintlik net klere verskaf het, so ’n diverse tender-portefeulje het.

“Sedgars/Sedtrade, wat klereverskaffers in Vanderbijlpark is, volg dieselfde patroon in die Vrystaat as wat die Guptas nasionaal gevolg het deur te begin om rekenaars aan staatsdepartemente en skole te verskaf en later oudpres. Jacob Zuma te beheer.”

Zair Docrat, uitvoerende hoof van Sedtrade, het vroeër by navraag van Netwerk24 geweier om te sê hoeveel kontrakte Sedtrade in die Vrystaat het en wat die waarde van elke kontrak is.

Kopane skryf op dieselfde wyse het die maatskappy E’tsho aanvanklik vir bouprojekte getender, maar is hy later as die toepassingsagent vir die bestuur van die omstrede Vredesuiwelprojek aangestel.

Dr. Roy Jankielsohn Foto: Netwerk24

“Boonop het E’tsho ook die toepassingsagent vir ’n klomp ander landbouprojekte in die Vrystaat geword.”

Kopane skryf ná die onttrekking van die Gupta-verbonde Estina-maatskappy is E’tsho R1 miljoen per maand betaal om die Vredesuiwelprojek te bestuur, wat onder meer die melk van tussen 100 en 160 koeie per dag behels het.

“Subkontrakteurs aan wie E’tsho geld skuld vir hul rol in die bou van ’n skool in ’n township buite Bloemfontein, beweer dat Dora Kotzeé, LUR vir openbare werke, hulle ingelig het dat Sedtrade en E’tsho eintlik ’n konsortium is.”

Die DA beweer ook die maatskappy C-Squared het die afgelope tien jaar baie winsgewende kontrakte by die provinsiale regering gekry en het ’n monopolie in die aanbied van geleenthede soos die provinsiale rede en die Macufe-kultuurfees in Bloemfontein, wat die provinsiale regering tienmiljoene rande kos.

Opposisieleiers van die Vrystaat voor die Ramkraal-tronkgebou. Van links is Wouter Wessels, VF Plus-LP en voormalige lid van die VF-wetgewer in Bloemfontein, Kgotso Morapela, Vrystaatse EFF-leier, en dr. Roy Jankielsohn, DA-LPW en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer. Besteding van R120 miljoen aan die Ramkraal-projek kon nog nie behoorlik deur die Vrystaatse regering verklaar word nie. Foto: Mlungisi Louw

Ramskraaltronk

Die DA vra ook dat verskeie Vrystaatse projekte weens beweerde korrupsie ondersoek moet word. ’n Voorbeeld is die Ramkraal-projek waar die regering nie behoorlik rekenskap kan gee van sowat R120 miljoen se besteding nie.

“Die geld was bedoel vir die bou van ’n nuwe wetgewergebou vir die Vrystaat waar die Ramkraal-tronk staan, maar daar is nog geen sooi gespit of steen gelê nie.”

Die projek word ook deur die nasionale ouditeur-generaal ondersoek.

Die DA sê die ou Ramkraaltronk is in 2009 geoormerk as die ideale plek om ’n nuwe wetgewergebou op te rig.

“Die projek is in 2010 deur die Vrystaatse provinsiale regering geïnisieer. R120 miljoen is sedertdien bestee aan sekere slopings aan die gebou en aan sekuriteit, maar steeds is omtrent alles aan dié erfenisgebou beskadig, geplunder en verwaarloos.”

Die natuur het begin oorneem en bome en ander plante het in die daklose gebou begin groei, wat die struktuur beskadig.

“Luidens ’n skriftelike antwoord van die LUR vir openbare werke is R26 miljoen in die eerste fase bestee om sekere dele van die gebou af te breek en ’n heining om die gebou op te rig om dit te beskerm.” Die heining is egter nooit opgerig nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Erfenisraad is die gebou van kulturele en argitektoniese belang en moes dit ingevolge wetgewing beskerm gewees het. Dit is nie gedoen nie.

“Die saak is nou voor die gesamentlike komitee vir finansies en infrastruktuur, wat op ’n verslag van die departement openbare werke en die provinsiale tesourie wag.

“Sover was die Vrystaatse regering nie in staat om werklik rekenskap aan die gesamentlike komitee te gee oor hoe die R120 miljoen bestee is nie,” sê Kopane en Jankielsohn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.