Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hulp vir opkomende boere ‘kan populisme afweer’

Die Wes-Kaapse landbou moet leiding bied met die ontwikkeling van opkomende boere om te verhoed dat populistiese politiek oor grondbesit opvlam.

Alan Winde, LUR vir landbou en ekonomiese geleenthede, het daarom ’n beroep op die sektor gedoen om te bou op die vordering wat al behaal is om jong boerderye op dreef te kry en bystand te bied.

“Dit moet voortgaan sodat wanneer Julius (Malema) en sy populisme na dié provinsie kom, swart boere sal opstaan en sê ‘hokaai, stop. Ons is klaar reggehelp, gaan kyk maar elders.’ ”

Alan Winde

Winde het Donderdag by Agri Wes-Kaap se 2018-jaarkongres by die ATKV-Goudini Spa gepraat.

“Ons was al voorheen hier. Elke keer voor ’n verkiesing is daar ’n debat oor grond. Dit is nou erger, maar waarom? Omdat daar 25 jaar later nie genoeg verandering is nie.”

Suksesvolle grondhervorming en die ontwikkeling van boere kan egter slegs deur die private sektor en gevestigde boere behaal word, volgens Winde.

Hy het verwys na prof. Mohammad Karaan van die nasionale beplanningskommissie wat gesê het dat die regering kan nie dié proses dryf nie.

“Dit moet die private sektor wees, want die regering verstaan nie jou bedryf, die daaglikse bedrywighede en wat dit geverg het om te kom tot waar jy is nie.”

Winde het die Wes-Kaapse boere geprys vir hul leierskap “te midde van chaos” met die droogte, ekonomiese druk en politieke onstuimigheid.

Dit moet die private sektor wees, want die regering verstaan nie jou bedryf, die daaglikse bedrywighede en wat dit geverg het om te kom tot waar jy is nie.

Net 7 000 werkgeleenthede het met die droogte verlore gegaan en nie 30 000 soos wat vroeër geraam is nie. Volgens Winde help die landbou 300 000 mense in die provinsie om kos op die tafel te sit.

123 000 van die 165 000 werkgeleenthede wat op ’n jaargrodslag in Suid-Afrika geskep is, was in die Wes-Kaap.

Hoewel die groot waterbesparings wat in die provinsie behaal is ’n standaard vir ander wêrelddele gestel het, het beperkings ook die insetkoste vir boere verhoog en maak dit dit vir hulle moeiliker om mededingend te bly, sê Winde.

“Die landbou was die enigste sektor wat water regtig verstaan het, want dit is so ’n groot deel van jul lewe en winsgewendheid. Ek dink mense het daardie verandering vir ewig aangeneem en mense in die stad verstaan nou.”

Hy het genoem dat een melkery se waterkoste byvoorbeeld van net meer as R200 000 verlede jaar tot R700 000 toegeneem het, terwyl dié styging ’n uitwerking op vervaardigers van suiwelprodukte het.

Ten spyte van die uitdagings wat landbou ervaar, het wynuitvoer na China sedert 2014 met 109% gegroei en staan sitrusuitvoer na China op R11 miljard.

Meer oor:  Gronddebat  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.