Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hy't verblyf in ‘Gupta-hotel’ in Dubai betaal – Gama

Hy het self die rekening vir sy verblyf in ’n luukse vyfsterhotel in Dubai betaal en nié die Guptas nie, het Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, gesê.

Gama het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping erken dat hy van 22 tot 24 Januarie 2016 in die Oberoi Hotel in Dubai tuisgegaan het.

Hy het ook bevestig dat hy tydens sy verblyf in Dubai met Salim Essa, sakevennoot van die Guptas, vergader het.

Volgens Gama sou hy ’n aansluitingsvlug in Dubai kry. Essa het gesê hulle moet vergader, en hy het ingestem om ’n dag oor te bly.

Gama het aangevoer dat die kommissie hom met die dokumentasie oor die hotelrekening in ’n lokval probeer lei sonder dat enige beskrywing van waaroor dit handel aan hom per e-pos gestuur is. Die inligting is deel van die Gupta-e-posse wat uitgelek is.

“Ek weet nie of dit ’n strik is wat vir my gestel word nie. ’n Mens kry net dokumente. Jy kan nie help om te dink jy word vrae gevra om jou in ’n lokval te lei nie,” het hy gesê. “Daarná word jy vrae gevra in die hoop dat jy uitgevang kan word.”

Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, getuig Vrydag voor die Zondo-kommissie in Johannesburg. Foto: Skermgreep

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het gesê hy moet in ag neem dat die kommissie se ondersoek steeds aan die gang is. Inligting oor die Oberoi Hotel is deur ’n ander ondersoekspan van die kommissie verkry, wat die vloei van geld na verskeie rekeninge ondersoek. Die inligting is nie dadelik aangestuur na die span wat Transnet se sake ondersoek nie, hoewel dit in die besit van die kommissie was.

In teenstelling met die Gupta-e-posse, wat die kommissie het en waaruit dit blyk dat die Oberoi Hotel die rekening na die Guptas se Sahara Computers-onderneming gestuur het, beweer Gama dat hy self vir sy verblyf betaal het.

Myburgh het na die Gupta-e-posse verwys en gesê daarin word aangedui dat hy op 22 Januarie 2016 by die hotel sou aangekom het en tot 24 Januarie sou bly, en dat ’n luukse suite vir hom bespreek moes word.

Die e-pos is op 20 Januarie 2014 na Sahara Computers en uiteindelik ook na Essa gestuur.

Myburgh het aan Gama uitgewys dat hy reeds voorheen erken het dat Essa hom gehelp het om die bespreking te maak.

Volgens Myburgh is daar verdere e-posse wat op sigwaarde lyk asof die Oberoi Hotel uiteindelik ’n rekening van 4 650 dirham (in huidige randwaarde sowat R18 000) na Sahara Computers gestuur het.

Gama het gesê hy is nie die outeur van die dokumente nie en gaan nie daarvoor verantwoordelikheid neem nie. Hy het volgehou dat hy self die rekening vereffen het toe hy die hotel verlaat het.

Myburgh het gesê uit inligting blyk dit dat mense soos Duduzane Zuma en Ajay Gupta, asook Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet en Eskom, ook al in dié hotel tuisgegaan het.

Gama het herhaal dat hy nie oor die dokument kan getuig nie – dit wys dat die rekening vir sy hotelverblyf uitstaande was, hoewel hy dit betaal het.

“Dit is nie my plek om hieroor kommentaar te lewer nie,” het hy volgehou.

Gama het ’n afskrif van ’n kwitansie by die kommissie ingedien en gesê hy het die hotel gekontak en gevra om die inligting beskikbaar te stel wat kan bewys dat hy die rekening betaal het toe hy die hotel verlaat het, en dié bewys is deur die hotel aan hom gestuur.

Oor sy vergadering met Essa in Dubai het Gama gesê toe Essa hoor dat hy ’n aansluitingsvlug in Dubai sou haal, het hy gevra dat hulle daar vergader.

Dit is nou ses jaar later en hy kan nie woordeliks onthou waaroor die vergadering was nie, behalwe dat Essa met hom gesels het oor ’n nuwe swartbemagtigingsmaatskappy wat hy oorweeg om te begin.

Volgens sy kommentaar in ’n mediaberig het Gama in 2017 gesê hulle het op die vergadering gepraat oor Essa se voorneme om die konsultasiemaatskappy Trillian te begin.

Hy het getuig dat dié berig se inhoud korrek kan wees, want die vergadering was dalk toe varser in sy geheue.

Meer oor:  Siyabonga Gama  |  Dubai  |  Verblyf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.