Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hy mislei NRP nié oor e-tol-stelsel, sê Mbalula

Hy het nie die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) twee weke terug in ’n sitting mislei toe hy gesê het die kabinet sal teen Donderdag ’n finale besluit oor die e-tolstelsel in Gauteng neem nie.

Só het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Vrydag gesê nadat hy onder kritiek van LP’s deurgeloop het oor die gebrek aan duidelikheid oor dié stelsel waarvoor talle padgebruikers weier om te betaal.

Khethamabala Sithole, IVP-LP, het in die parlement teen Mbalula se begrotingsrede vir die 2021-’22-boekjaar uitgevaar omdat daar nie by die spertyd gehou is nie.

“Die minister gee leë beloftes oor die e-tolstelsel. Hy neem ’n lui houding in om die kwessie aan te spreek en besef nie die verwoestende impak van die stelsel op padgebruikers en ondernemings in Gauteng nie.”

Fikile Mbalula Foto: Daily Sun

Mbalula het later teruggekap en gesê diegene wat nie ervaring met regering het nie, besef nie hoe moeilik dit is om ’n oplossing vir die e-tol-kwessie te kry nie.

“Die regering is egter op die punt daarvan om die kwessie op te los en die nasionale tesourie is deur die kabinet gelas om met ons saam te werk. ’n Aankondiging is naby,” het Mbalula gesê.

’n Mosie deur die DA in die Gautengse wetgewer om die e-tolstelsel te skrap, het Woensdag misluk nadat die ANC geweier het om ten gunste daarvan te stem.

Volgens Mbalula het hy nege moontlike opsies oor die e-tolstelsel voorgelê, en hy sê die uiteindelike oplossing moet volhoubaar en binne die wetlike raamwerk wees.

Die regering is egter op die punt daarvan om die kwessie op te los en die nasionale tesourie is deur die kabinet gelas om met ons saam te werk. ’n Aankondiging is naby.

Hy het aangekondig dat die besteding van die departement van vervoer op mediumtermyn van R57,3 miljoen in 2020-’21 tot R72,5 miljoen in die 2023-’24-boekjaar sal toeneem.

Hoewel die grootste deel van die begroting geoormerk is vir die spoornetwerk, sal ’n deel ook toegewys word vir die instandhouding en opknapping van paaie.

Oor planne vir die gehawende treinstelsel, het Mbalula gesê in die huidige boekjaar sal sewe korridors in Gauteng, drie in die Wes-Kaap, vier in KwaZulu-Natal, een in die Oos-Kaap en sewe hoofpassasierspoorlyne landwyd geprioritiseer word vir herstelwerk.

Chris Hunsinger, DA-LP, het onder meer kritiek uitgespreek oor die minister se planne wat nie tot uitvoering gebring word nie, en die swak vordering van sy departement om skoon oudits te behaal.

“Die massiewe R17 miljard-plan van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) om ons verouderde treine en infrastruktuur te moderniseer, vorder kwalik met slegs een stasie wat in die afgelope vyf jaar uit 135 beplande stasies voltooi is,” het hy gesê.

Nontando Nolutshungu, EFF-LP, het gesê die openbare vervoerstelsel het “ineengestort” en dat daar veral gebreke is in landelike gebiede in provinsies soos die Oos-Kaap.

Pieter Mey, VF Plus-LP, het gesê dat ekonomiese groei in ’n land afhang van ’n goeie openbare vervoerstelsel.

“Ons beskik oor agt metrogebiede wat elk dieselfde grootte as Singapoer is, en daarom is dit nie onmoontlik om dieselfde vervoerstelsel hier te vestig nie. As jy in Singapoer afklim van ’n trein, is jy binne 100 m van ’n huurmotor of bus.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.