Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gigaba ‘toevallig’ tydens staatskaping minister

Om iemand te ken maak jou nie aandadig aan wat hulle verkeerd doen nie.

So het oudminister Malusi Gigaba Woensdag ter afsluiting van sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sy vriendskap met Ajay Gupta verduidelik.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MARCH 12: Former Mini
Malusi Gigaba voor die Zondo-kommissie. Foto: Gallo Images

Adv. Anton Myburgh, SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Gigaba gestel volgens die jongste berekeninge het die Guptas se staatskaping die land R57 miljard gekos. “Dit is baie duidelik dat die Guptas betrokke was by ’n gekoördineerde projek waarin hulle nie ’n kans laat verbygaan het om die staatskas te stroop nie,” het Myburgh gesê.

Gigaba se antwoord hierop was dat hy nie in staat is om bloot saam te stem met die stelling wat hy dink Myburgh maak nie.

’n Beduidende stroping van openbare entiteite, veral ook by Transnet, het gebeur in die tyd toe hy die minister van openbare ondernemings was en ’n toesigrol gespeel het, het Myburgh dit aan Gigaba gestel. Hierop het hy geantwoord dit word beweer, maar sekerlik beteken dit nie dat hy daarby betrokke was nie. “Ek self was nie betrokke by enige daarvan nie,” volgens Gigaba.

Hy het gesê “niks, absoluut niks” plaas hom enigsins naby die geld nie. Hy het nie geld ontvang nie en dit is blote toeval dat dit in die tyd gebeur het toe hy die minister was, het Gigaba getuig.

Myburgh het dit aan Gigaba gestel dat die Guptas nie hul stropery-projek sou kon deurvoer tensy hy nie op die een of ander manier saam met hulle gewerk het nie.

Gigaba het sy ontevredenheid uitgespreek oor die manier waarop Myburgh hom ondervra en gesê hy is nie in ’n hof nie en hy kan antwoord op die manier wat hy goed dink.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het verduidelik Myburgh se vraag is nie so gestel dat aangevoer word hy het enige geld gevat of was ’n deel van die staatskapingsprojek nie. Al wat hy gesê het, is dat ’n groot deel van die stroping by Transnet gebeur het in die tyd toe Gigaba die minister van openbare ondernemings was. Gigaba moet bloot die vraag beantwoord wat aan hom gestel is.

Hierop het Myburgh aan Gigaba gevra hoe die Guptas iets so groot en omvangryk kon deurgevoer kry sonder dat Gigaba betrokke was. Gigaba se antwoord hierop: “Op watter manier?”

Myburgh het dit aan Gigaba gestel op enige manier, hetsy regstreeks of onregstreeks. Zondo het hierna aan Gigaba verduidelik dit gaan oor sy rol as minister. “Hoe was jy as minister nie bewus van die stropery nie? Hoe was die kabinet nie bewus nie? Hoe het die uitvoerende hoofde en finansiële hoofde en ander uitvoerende bestuurders van die staatsentiteite nie geweet nie?”

Gigaba het getuig die maand- en jaarverslae wat opgestel word vir die aandag van die minister, is nie so geformuleer dat dít wat deur die Zondo-kommissie ondersoek word, daarin genoem sal word nie. Die verslae het ’n bepaalde formaat en sal nie kwessies noem soos die beweerde R57 miljard wat die Guptas se kontrakte die staat gekos het nie.

Die inligting wat na die minister kom, is beperk. Jy raak nie betrokke by die kontrakte of tenders nie, het Gigaba getuig.

Gigaba het Woensdag sy getuienis voor die kommissie afgehandel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.