Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Icosa eis dat Bredell moet bedank oor Kannaland

Die Independent Civic Organisation van Suid-Afrika (Icosa), ’n Wes-Kaapse politieke party, eis dat Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, bedank.

Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van Icosa.

Dit kom nadat die Wes-Kaapse regering Woensdag die groen lig gegee het dat die Kannaland-munisipaliteit onder administrasie geplaas word.

Die munisipaliteit het skuld van sowat R84 miljoen, waarvan R12,8 miljoen Eskom-skuld is. Die skuld is volgens die raad geërf ná die munisipale verkiesing in 2016. Die stadsraad het verlede week op ’n spesiale raadsvergadering besluit om Kannaland onder administrasie te laat plaas.

Die munisipaliteit word sedert 2016 deur die DA en ANC bestuur, wat ’n samewerkingsooreenkoms in Kannaland aangegaan het sonder die goedkeuring van hul partyleierskap.

Icosa het Donderdag in ’n verklaring gesê Bredell het in 2016 ’n herstelplan vir die munisipaliteit aangekondig toe die skuld R34 miljoen was. Die skuld het intussen met R50 miljoen gegroei tot R84 miljoen onder die DA se oorsig.

Volgens Icosa moet die raad en die LUR die eerbare ding doen en bedank. Die DA plaas homself onder administrasie en kon nie die herstelplan volhou nie, luidens die verklaring. Icosa vra voorts hoe die DA die Wes-Kaap wil bestuur as die DA en die ANC “nie eens die kleinste plek in Suid-Afrika kan bestuur nie”.

Volgens Icosa is dit die eerste keer dat raadslede self vra om onder administrasie geplaas te word en is dit ’n skande vir twee van die grootste partye net voor die 2019-verkiesing. Luidens die verklaring het die DA-ANC-koalisie die kiesers in die steek gelaat en het die mense nie vir ’n administrateur gestem nie.

Volgens Icosa het hy vrae oor die Eskom-skuld omdat Magdalena Barry, burgemeester, in Januarie vanjaar bekend gemaak het dat die munisipaliteit se R12 miljoen uitstaande Eskom-skuld vereffen is. Icosa sê die kiesers is mislei en dat die betrokkenes moet bedank. Volgens die verklaring het Icosa verskeie skrywes oor probleme in Kannaland aan Bredell gerig, maar dit is volgens hom nooit ondersoek nie.

Volgens Icosa het die DA die ANC gebruik om Kannaland te kaap en die kiesers ly daaronder.

*Icosa het voorheen die Kannaland-munisipaliteit beheer. Die streek bestaan uit dorpe soos Ladismith, Vanwyksdorp en Calitzdorp.

Meer oor:  Icosa  |  Anton Bredell  |  Kannaland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.