Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
In die staatsdiens ‘doen jy nie te min of te veel’

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping erken hy het nié ’n kontrak met die Estina-maatskappy deur senior regskenners laat nagaan voordat hy die kontrak onderteken het nie.

Boonop het die departement nie die kontrak opgestel nie, maar is dit deur Estina self gedoen.

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, getuig Vrydag voor die Zondo-kommissie.Foto: Skermgreep

Met dié kontrak is Estina as die bestuurder van die Vrede-melkplaas aangestel.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo wou van Thabethe weet of hy die ooreenkoms onderteken het sonder dat ’n regskenner daarna gekyk het, waarop Thabethe geantwoord het daar is regskenners in die verskillende departemente, soos in die Vrystaatse landboudepartement, maar hulle “is nie op ’n vlak wat mens wil hê nie”. In die geval van die Estina-ooreenkoms het hy dit aan ’n junior staatsamptenaar met regskennis gegee om na te gaan en hy het verwag indien dié staatsamptenaar nie opgewasse was vir die taak nie, sou hy dit genoem en na senior regskenners aangestuur het.

Thabethe het eers die ooreenkoms na die staatsprokureurs gestuur nadat hy dit onderteken het. “Die enigste kwessie wat die staatsprokureurs uitgelig het, is dat die staat nie beskerm is nie,” het Thabethe getuig.

Hierop het Zondo geantwoord maar dit is ’n groot kwessie. Die ooreenkoms het nie die regering se belange beskerm nie so die regering kon miljoene rand verloor.

Waarom het Thabethe as hoof van die departement dit aanvaarbaar gevind om te vertrou op ’n baie junior amptenaar wat deur die ooreenkoms gegaan het en dit nié na ’n senior regsgeleerde geneem nie?

Thabethe het geantwoord hy stem saam met Zondo, maar soos hy verstaan is dit die junior amptenaar wat moes sê hulle het ’n meer senior regskenner se raad ook nodig. Thabethe het hierna gesê hy aanvaar dat hy meer regskenners moes raadpleeg voordat hy die kontrakte onderteken het.

Adv. Leah Gcabashe SC, ’n getuienisleier van die kommissie, het ook vir Thabethe uitgevra oor die status van die Estina-maatskappy toe die Vrystaatse regering besluit het om dit as plaaslike vennoot te aanvaar vir die Indiese suiwelmaatskappy, Paras.

Zondo het gesê dit gaan daaroor dat daar meer as R300 miljoen van belastingbetalers se geld aan die maatskappy oorgedra sou word en dat mens sou verwag dat die agtergrond van die maatskappy nagegaan sou word. Hy wou weet of Thabethe dan nie geïnteresseerd was in die agtergrond van hierdie Estina-maatskappy nie, of dit dalk by onwettige sakepraktyke betrokke is?

Thabethe het geantwoord dit is ’n baie moeilik vraag.

Hierop het Zondo gesê Thabethe was dan die hoof van die landboudepartement, hy moes mos vra wie en wat die plaaslike maatskappy is, met wie daar ’n ooreenkoms aangegaan word? Gaan dit dalk enige skade inhou vir die provinsiale regering?

Thabethe het geantwoord dit is nie hoe dit gedoen word nie. Dit is nog nooit so gedoen nie. Daar word gekyk of die maatskappy belastingklaring het.

Zondo het uitgewys maar indien jy ’n private persoon is en jy wil met ’n maatskappy sake doen, doen jy nie navraag oor die maatskappy se agtergrond nie? Was die mense vir 10 jaar in die tronk vir bedrog, het die maatskappy eiendom indien daar ’n eis vir skade sal wees?

Hy het gesê hier word belastinggeld gebruik, Thabethe het die mag om miljoene rande belastinggeld te bestee, hy is in die pos aangestel omdat hy ’n sekere vlak van kundigheid het. Kan hy vertrou word om belastingbetalers se geld te beskerm?

Thabethe se antwoord was in die staatsdiens is daar regulasies oor hoe goed gedoen word, en mens beperk jouself tot daardie regulasies. Jy kan nie jou eie regulasies instel nie, die ingewikkeldheid met die staat is as jy minder doen, het jy probleme, as jy meer doen, het jy probleme - so jy doen net wat van jou gevra word.

Meer oor:  Peter Thabethe  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.