Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Inligting is ingevolge reëls verkry, beklemtoon OB

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se ondersoek na pres. Cyril Ramaphosa is volgens haar ingevolge die reëls gedoen en dat daar was “geen onwettige aktiwiteit” nie.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Daily Sun

Mkhwebane het dít Vrydag benadruk nadat Ramaphosa se regspan Donderdag die hooggeregshof in Pretoria in ’n brief gevra het om te verseker dat sy sekere inligting, insluitend e-pos wat sy in haar ondersoek na hom bekom het, nie aan die publiek bekend maak nie. Hy meen dit is vertroulik en hy vermoed dat dit op ’n onwettige wyse bekom is.

Ramaphosa het vroeër gesê dat hy Mkhwebane se verslag waarin sy bevind het dat hy die parlement doelbewus mislei het oor ’n skenking van R500 000 van die omstrede maatskappy Bosasa vir sy interne CR17-veldtog, op hersiening gaan neem.

Peter Harris, Ramaphosa se prokureur, het Donderdag aan die adjunkregterpresident van die Pretoriase hooggeregshof geskryf en gevra dat die hof sekere inligting verseël en slegs aan die hof en die respondente in die saak en nie die publiek nie, openbaar maak. Dit sluit in:

* Die bankstate van EFG2, Linked Environmental Services, die Ria Tenda Trust en die Cyril Ramaphosa-stigting;

* Inligting wat sy bekom het as deel van haar “onwettige uitbreiding van haar ondersoek”;

* Inligting wat sy van ’n anonieme verklikker bekom het; en

* Uitgelekte epos “wat na bewering toon dat ons kliënt bewus was van die identiteit van die skenkers van die CR17-veldtog”.

Sowat ’n week gelede het News24 berig oor uitgelekte e-posboodskappe wat glo wys dat Ramaphosa inderdaad geweet het watter skenkers genader is vir sy veldtog.

Ramaphosa het vroeër gesê hy het natuurlik geweet dat geld ingesamel word, maar hy is nooit oor al die “ingewikkelde kwessies” ingelig nie of het nie geweet van al die besonderhede van die veldtogspan se aktiwiteite nie.

Mkhwebane het Vrydag bevestig haar regspan het Ramaphosa se brief ontvang.

Oupa Segalwe, haar woordvoerder, het gesê ingevolge die mosie voor die hof word die OB versoek om ’n rekord van haar ondersoek of al die getuienis waarop sy staatgemaak het om tot die gevolgtrekking in haar verslag te kom, aan die hof te gee. Sy sal dit ingevolge die reëls van die hof teen 15 Augustus doen.

“Sodra dit geliasseer is, word die dokumente openbare inligting en enigiemand kan die registrateur van die hof nader om toegang tot die inligting te bekom. Sy is in dié stadium nie in staat om kommentaar te lewer op die brief van die president se prokureurs nie, veral aangesien dit gerig is aan die adjunkregterpresident en nie aan haar nie.

“Die brief is gestuur aan ons regsverteenwoordiger van wie die OB advies sal neem oor hoe om die kwessie te hanteer. Die OB het die ondersoek volgens die reëls uitgevoer. Daar was geen onwettige aktiwiteit nie,” het Segalwe gesê.

Die brief is gestuur aan ons regsverteenwoordiger van wie die OB advies sal neem oor hoe om die kwessie te hanteer.

Prof. Somadoda Fikeni, politieke ontleder aan Unisa, het gesê dit kan wees dat Ramaphosa iets nie bekend wil laat word wat iemand in die verleentheid kan stel nie, of van sy skenkers kan druk op hom plaas omdat hulle nie betrek wil word by die fiasko waarin hy hom bevind nie.

Hy het verduidelik selfs al was alles wettig, kan die dokumente ander inligting benewens besonderhede oor die skenking self bevat. Daar kon dalk ’n private gesprek plaasgevind het waarin private persoonlike inligting bekend gemaak word wat iemand moontlik in die verleentheid kan stel.

“Dit dui daarop dat die beginsel waarvolgens dokumente bekom word, net so belangrik is as die proses self. Adv. Mkhwebane kan dalk later gedwing word om bekend te maak hoe sy die inligting bekom het. As dit verkeerdelik bekom is, sal dit die aandag aflei van die kwessie van finansiering.”

Volgens Fikeni is die hofstryd ’n toets vir die land se reg- en grondwetlike stelsel sowel as die etiek van leiers.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-universiteit, sê die OB is stadig maar seker besig om haarself vas te knoop in ’n reeks regsgedinge wat net tot nadeel van haar kantoor is. Die presidensie het nou aktief toegetree, maar op goeie regsgronde.

“Ek dink Ramaphosa is bang dat baie persoonlike en vertroulike bankrekeningnommers en name in die openbare domein kan beland en hom skade berokken.

“Ek dink dit gaan oor die beskerming van persoonlike inligting. Dit kan selfs wees dat daar nommers verskyn in bankrekeningstate wat dalk kan aandui waar die geld vandaan gekom het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.