Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Inperk: Wes-Kaap kry grasie, maar . . .

Pres. Cyril Ramaphosa het gisteraand grasie aan die Wes-Kaap gegee deur nie strenger inperkings in die provinsie aan te kondig nie, maar die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth is vanaf middernag amptelik ’n Covid-19-brandpunt.

Daar is aanvanklik gevrees die Wes-Kaap sou ook as ’n brandpunt geïdentifiseer word, maar die Wes-Kaapse regering het erg daarteen vasgeskop en gesê dit is nie nodig nie omdat hy die situasie onder beheer het.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: GCIS

Ramaphosa sê die besluit om die Nelson Mandelabaai-metro as brandpunt te verklaar was op aanbeveling van die nasionale koronavirusraad en ná konsultasie met premiers, burgemeesters en tradisionele leiers.

Die doel met dié besluit is om die verspreiding van die koronavirus na ander dele van die land te beperk.

Die instelling van die streng maatreëls is nodig weens die skerp styging van infeksies in die Oos-Kaap en veral in die omgewing van Port Elizabeth.

Daar is benewens die Nelson Mandelabaai-gebied ook ’n skerp toename van infeksies in die Sarah Baartman-distrik in die Oos-Kaap sowel as die Tuinroete in die Wes-Kaap.

“In albei provinsies is ’n styging in oortollige sterftes ook waargeneem. Dit moet ’n bron van ernstige kommer wees,” sê Ramaphosa.

Ramaphosa sê in die eerste week van November is gemiddeld 1 500 nuwe Covid-19-gevalle per dag in die land aangemeld.

In die laaste week van November het dié getal byna verdubbel na rondom 2 900 gevalle per dag.

Woensdag het die land sy hoogste daaglikse getal nuwe infeksies aangemeld met 4 400 wat ook die hoogste daaglikse toename sedert middel Augustus is.

Die totale aantal hospitaalopnames is tans meer as 5 800 na­sionaal en neem steeds toe.

Ons kan nie terugkeer tot die donker maande van Junie en Julie nie. Onthou julle, ons het almal in daardie tyd in vrees geleef.
Pres. Cyril Ramaphosa

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal binnekort ook die Sarah Baartman-distrik en die Tuinroete besoek om vas te stel hoe ernstig die situasie is. Verdere aanbevelings sal indien nodig ook daar in plek gestel word.

Die nasionale Covid-19-ramptoestand word tot 15 Januarie verleng.

Die president sê dit is nie nodig om ander gebiede in die land tot brandpunte te verklaar nie – solank as wat mense in die res van die land gehoor gee aan die koronavirus-veiligheidsmaat­reëls.

Hy het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om veral in die komende vakansieseisoen alles moontlik te doen om te keer dat die virus nie versprei nie. Hulle moet reis beperk waar moontlik.

“Ons kan nie terugkeer tot die donker maande van Junie en Julie nie. Onthou julle, ons het almal in daardie tyd in vrees geleef.

“Ons almal weet ’n tweede golf (van die virus) is moontlik. Ons moet almal ons herverbind tot die geveg teen die virus.

“Ons veg hier vir ons lewens. Net soos in die vroeë dae van die pandemie moet ons nou saamstaan en saamwerk,” het Rama-phosa gesê.

Die president sê ’n aandklokreël sal vanaf 22:00 saans tot 04:00 soggens in die Nelson Mandelabaai-omgewing geld. Net noodsaaklike werkers sal binne dié tye mag rondbeweeg.

Alkohol sal in dié gebied slegs van 10:00 tot 18:00 van Maandag tot Donderdag verkoop mag word.

Alkoholverbruik in openbare plekke soos strande en parke is ook nou streng verbode om groot sosiale saamtrekke te voorkom.

“Daar mag ook nou nie meer as 100 mense (250 buitenshuis) by saamtrekke wees nie,” het Ramaphosa gesê.

Inisiasieskole sal vir eers in dié omgewing slegs onder streng voorsorgsmaatreëls mag voortaan. Onthale ná begrafnisse mag nie gehou word nie.

Deur maskers te dra sal ons mekaar kan veilig hou. Ook deur die handhawing van behoorlike afstande, die vermyding van groot saamtrekke en die was van hande, kan ons onsself veilig hou.
Pres. Cyril Ramaphosa.

Hy sê taxi-operateurs moet seker maak dat al hul passasiers te alle tye maskers dra. Ons almal moet ook voldoen aan die nagklok-tye.

“Openbare gesondheidsingrypings soos sifting, meer toetse en die opsporing van kontakte sal ook voortduur.”

Ramaphosa sê hy het vroeër gesê die enigste manier om die Covid-19-virus doeltreffend te beveg is deur ’n entstof. Daar is tans verskeie entstowwe wat wêreldwyd getoets word.

Die president sê daar was reeds gesprekke dat geen land agtergelaat moet word om toegang tot dié entstowwe te kry wanneer dit beskikbaar word nie.

Die regering se solidariteitsfonds het R327 miljoen bewillig om die land te help om die entstowwe aan te koop.

Solank daar nog nie entstowwe beskikbaar is nie, bly dit elke mens se eie verantwoordelikheid om hom- of haarself teen die virus te beskerm.

“Deur maskers te dra sal ons mekaar kan veilig hou. Ook deur die handhawing van behoorlike afstande, die vermyding van groot saamtrekke en die was van hande, kan ons onsself veilig hou.

“Daarom herhaal ek telkens dié boodskap,” het Ramaphosa gesê.

Meer oor:  Covd-19  |  Koranavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.