Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Inperking: Dit gaan beter raak

Ingrypende verligting van die streng inperkingsmaatreëls wat al meer as twee maande geld, word voorgestel in ’n konsepdokument waarin regulasies vir ’n vlak 3-inperking uiteengesit word.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering.

Die dokument bepaal onder meer dat die meeste ondernemings onder streng voorwaardes weer kan oopmaak. Sigarette mag steeds nie verkoop word nie, maar drankwinkels kan van Maandag tot Donderdag handel dryf — ten spyte daarvan dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, en dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, volgens berigte steeds gekant is daarteen.

Die dokument is gedateer 20 Mei en sit die wysiging van die regulasies kragtens art. 27 van die Rampbestuurswet uiteen. Dit is gemerk “confidential draft”. Rapport kon nie die egtheid van die dokument bo alle twyfel bevestig nie.

Mlungisi Mtshali, woordvoerder vir Dlamini-Zuma, wou nie oor die egtheid van die dokument kommentaar lewer nie, en was slegs bereid om te sê “dat hy nog nie konsepregulasies vir vlak 3 gesien het nie”.

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, het gesê die dokument is ook vir hom gestuur is en dat dit lyk na ’n dokument wat geskep is na afloop van die gesprekke wat Ramaphosa Woensdag met leiers van opposisiepartye gehad het.

‘41 munisipaliteite was reg om na vlak 3 te skuif.’

Daar bestaan steeds aansienlike onsekerheid of die hele land op 1 Junie na vlak 3 afgegradeer sal word. Indien die regulasies in die konsepdokument aanvaar word, sal dit byvoorbeeld beteken dat drankwinkels in een distrik kan oopmaak, maar ’n paar kilometer verder in ’n ander distrik gesluit bly.

Ander regulasies in die konsepdokument sluit in:

* Jy mag nie ’n begrafnis bywoon in ’n gebied waar vlak 4- of 5-inperkings steeds geld nie, behalwe dié van nabye familielede.

* Beperkings op oefening word verder verlig en dit sal nou ook wettig wees om op die strand te stap met klaarblyklik geen beperkings op die ure waarbinne jy mag oefen nie. Speelgronde bly egter gesluit.

* Kerkdienste en kulturele byeenkomste bly verbode. 

* Professionele niekontaksport mag hervat word, maar mag net bygewoon word deur die spelers, wedstrydamptenare, mediese en televisiepersoneel en twee joernaliste. Sportgronde en swembaddens bly gesluit, behalwe vir professionele atlete.

* Die ondernemings wat in vlak 3 oopmaak, moet bereid wees om aan “relevante gesondheidsprotokolle” te voldoen. Dit sluit in dat ondernemings met meer as 50 werknemers bereid moet wees om werksure te versprei. Maatskappye met meer as 500 werknemers moet bereid wees om vervoer vir hul werknemers te verskaf.

* Gimnasiums, restaurante, kroeë, haarkappers, skoonheidsalonne, vlooimarkte, nagklubs, casino’s, hotelle, gastehuise, natuurreservate en teaters bly toe.

* Huiswerkers mag werk indien hulle inslaap, op die werkgewer se onkoste van private vervoer voorsien word, of werk vir enigiemand wat kragtens die regulasies mag werk.

Die dokument maak sy verskyning teen die agtergrond van groot onduidelikheid of die hele land teen volgende week na vlak 3 afgegradeer word.

Ten spyte daarvan dat talle mediese kenners – insluitende die regering se eie raadgewers – die afgelope tyd gesê het dat die inperkingsmaatreëls geen doel meer dien nie, het die president sowel as die minister van gesondheid gesê dat die vlak 4 beperkings net in sekere dele van die land opgehef sal word. Daar is egter aansienlike teenstand teen die idee, met die Wes-Kaapse én Gautengse premiers wat sê dit sal onhoudbaar wees om distrikte binne hul provinsie op verskillende vlakke van inperking te hê.

Mkhize het Dinsdag ’n voorlegging getiteld “Easing the Lockdown” aan die nasionale Covid-19-bevelsraad gemaak waarin voorgestel word dat distrikte wat minder as vyf aktiewe Covid-gevalle per 100 000 mense het, kan afbeweeg na vlak 3 van die inperking. Hy het ’n landkaart voorgehou waarop dié syfers aangedui word, soos gemeet oor die tydperk 8 tot 16 Mei (sien grafika op bl. 1).

Volgens dié kaart was 41 van die land se 53 distriks- en metromunisipaliteite verlede naweek reg om na vlak 3 te skuif. Al die metro’s sou egter op vlak 4 moes bly, net soos die distriksmunisipaliteite van die Weskus, Overberg, Kaapse Wynland (almal in die Wes-Kaap), Chris Hani (Cradock) in die Oos-Kaap en iLembe (tussen Durban en Richardsbaai), wat almal ook meer as vyf aktiewe gevalle per 100 000 van die bevolking gehad het.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Woensdag in ’n verklaring gesê die humanitêre ondersteuning wat die regering tans bied is “onvolhoubaar” en dat “meer en meer mense hul werk gaan verloor” as die inperking aanhou. Hy sê dit sal bykans onmoontlik wees om rampbestuur-regulasies af te dwing indien naburige distrikte in verskillende vlakke van inperking sou wees. Nadat David Makhura, Gautengse premier, Dinsdag aanvanklik vir die Gautengse wetgewer gesê het dat die hele provinsie op 1 Junie na vlak 3 sal skuif, het hy Vrydag teruggekrabbel. By ’n perskonferensie het Makhura benadruk dat sy provinsie reg is vir ’n skuif na vlak 3, maar toe bygevoeg dat die besluit uiteindelik by die nasionale bevelsraad lê. Makhura was aanvanklik ook van mening dat dit nie prakties haalbaar is dat sekere dele van die land op vlak 3 is terwyl vlak 4 elders geld nie.

Mkhize maan in sy voorlegging ook dat daar ’n balans gevind moet word tussen die voor- en uitdagings van die streng inperking. Hy het veral verwys na die verlies aan mense se inkomste, hongersnood, die ekonomiese impak en die sosiale onrus wat gepaardgaan met mense wat nie begrafnisse, troues en ander godsdienstige byeenkomste kan bywoon nie.

* Pres. Cyril Ramaphosa sal die land Sondagaand om 19:00 toespreek, het die presidensie Saterdagaand gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.