Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Internasionale reis: 'Wat van Suid-Afrikaners wat wil vlieg?'

Terwyl internasionale reise Donderdag hervat het, was dit nag vir plaaslike reisagentskappe weens onduidelikheid oor vereistes vir veral Suid-Afrikaners wat oorsee wil reis.

Die regering het ook onder verdere kritiek deurgeloop oor sy streng beperkings op reise vir inwoners van sommige van Suid-Afrika se grootste toeriste-toevoerlande.

Otto de Vries, uitvoerende hoof van die vereniging van Suider-Afrikaanse reisagente (Asata), sê as die regering nie duidelikheid verskaf oor die vereistes vir Suid-Afrikaners wat na die buiteland reis nie, kan besprekings nie gedoen word nie.

“Die regering het in die regulasies baie gefokus op buitelanders, maar eintlik glad nie op Suid-Afrikaners wat na die buiteland wil reis nie.”

Die onduidelikheid handel hoofsaaklik daaroor of die Suid-Afrikaanse regering vereis dat sy eie burgers oor reisversekering moet beskik en of hulle in die buiteland ’n koronavirustoets moet ondergaan kort voordat hulle terugkeer.

emirates
Die eerste internasionale vlug sedert die reisverbod opgehef is het Donderdag net voor 13:00 op Kaapstad- internasionale lughawe geland. Dit was 'n Emirates-vlug uit Dubai met 48 passasiers aan boord die Boeing 777-300. Foto: Jaco Marais
emirates
Twee voertuie van die lughawe se brandweer het die Emirates-vliegtuig en die een daarna met 'n waterboog verwelkom. Foto: Jaco Marais

Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het Donderdag herbevestig dat die Suid-Afrikaanse regering nie sy eie burgers kan keer om na ander lande te reis of om terug te keer na Suid-Afrika nie.

Ngqengelele en woordvoerders van die departement van toerisme en vervoer het navrae oor die spesifieke vereistes na die departement van binnelandse sake verwys.

Siya Qoza, woordvoerder van die departement van binnelandse sake, het nie op navrae gereageer nie.

Andrew Stark, uitvoerende hoof van Flight Centre, sê die situasie word verder gekompliseer deur afsonderlike en uiteenlopende regulasies in ander lande.

“Om die landgrense te sluit was die maklike deel, maar om te heropen, is moeiliker. Die bedryf sal hopelik teen die einde van die week sy voete vind,” sê hy.

Besoek eerder dié lande

Stark raai Suid-Afrikaners wat met vakansie oorsee wil gaan aan om na Oosterse lande, lande langs die Indiese Oseaan en ander Afrika-lande te kyk omdat regulasies nie daar so streng is nie.

Marisa Jacobs, direkteur van Xpatweb, sê hulle word oorval met navrae van mense wat hul familie wat oorsee woon wil sien, asook van mense wat vir sake oorsee wil reis.

“Daar is ’n definitiewe honger onder Suid-Afrikaners om weer internasionaal te kan reis. Baie mense kon nie tydens die inperking hul familie wat in die buiteland woon, sien nie,” sê sy.

Volgens haar sal lugdienste hul passasiers ook vooraf in kennis stel van vereistes waaraan voldoen moet word vir internasionale reis.

Cindy Daymond, bestuurder by Sure Travelways, sê internasionale lugdienste soos British Airways, Ethiopian Airlines, Emirates en Lufthansa het almal internasionale vlugte van en na Suid-Afrika Donderdag hervat.

“Die lugdienste het egter sekere roetes vir eers nie hervat nie en die  aantal vlugte na bestemmings is ook vir eers afgeskaal,” sê Daymond.

DA kritiseer lys

Manny de Freitas, DA-woordvoerder oor toerisme, het intussen gesê die regering se lys van hoërisikolande is irrasioneel.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Woensdag op ’n mediakonferensie aangekondig dat lande as hoë, medium- en lae risiko geklassifiseer word.

Die klassifikasielys sal elke twee weke hersien word.

Van Suid-Afrika se grootse toerismelande – Brittanje, Amerika, Frankryk en Nederland – word as hoë risiko bestempel, wat beteken dat mense van dié lande nie in Suid-Afrika mag kom vakansie hou nie.

Sekere sakereisigers soos diegene met kritieke vaardighede, diplomate, professionele sportlui en beleggers, sal egter wel van dié lande na Suid-Afrika mag reis.

Pandor het verduidelik dat riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en lande se sterfte- en infeksiekoers van die koronavirus in berekening gebring is om te besluit in watter kategorie lande val.

Suid-Afrika en lande met ’n soortgelyke koers word as mediumrisiko geklassifiseer, en lande met ’n hoër en laer berekende koers as Suid-Afrika, onderskeidelik as hoë- en mediumrisikolande.

Buitelanders wat na Suid-Afrikaners reis sal ’n koronavirus-toets moet ondergaan 72 uur voordat hulle op ’n vliegtuig klim, en bewys van hul negatiewe uitslag moet lewer.

Volgens De Freitas meen die DA die lys in sy huidige vorm is belaglik, omdat toeriste wat negatief getoets is en die regering se nasporings-app afgelaai het, nie ’n gesondheidsgevaar hoort te wees nie.

“Die DA doen ’n beroep dat die data wat gebruik is om lande in die hoë-risiko-kategorie te plaas, openbaar gemaak word. Dit lyk asof die regering se kommerwekkende neiging om mag te probeer gryp hom nou op die internasionale verhoog afspeel.”

Graham Wood, groephoof van gasvryheid van Sun International, sê hulle kyk eers die kat uit die boom omdat toeriste van Brittanje en die Amerika nog nie in Suid-Afrika mag kom vakansie hou nie.

“Duitsland en China is egter van ons kernvennote, maar dit sal ’n ruk neem vir albei hierdie markte om terug te bons tot op die vlakke van voor die inperking.”

Wood het die minimale beperkings op reisigers vanuit ander Afrika-lande verwelkom.

Intussen het die Franse ambassade in Suid-Afrika in ’n verklaring gesê hy neem kennis van die besluit van die Suid-Afrikaanse owerhede om reis vanaf Frankryk te beperk.

“Terwyl reis vir plesier tot tyd en wyl nie van Frankryk af toegelaat word nie, is die ambassade bemoedig deur die aankondiging dat sakereisigers en beleggers van Frankryk toegelaat sal word om Suid-Afrika te besoek.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Vlugte  |  Toeriste  |  Covid-19  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.