Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Inwoners van Alexandra verhoed dat Mashaba praat
Ontstoke inwoners van Alexandra het Maandagaand ’n vergadering met Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, ontwrig toe hy hulle oor hul griewe wou toespreek na ’n vlaag betogings oor knellende kwessies in dié township, in die noorde van Johannesburg, die afgelope tyd.Foto: Felix Dlangamandla

Ontstoke inwoners van Alexandra het Maandagaand ’n vergadering met Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, ontwrig toe hy hulle oor hul griewe wou toespreek na ’n vlaag betogings oor knellende kwessies in dié township, in die noorde van Johannesburg, die afgelope tyd.

Hy moes die gemeenskapsaal in Marlborough waar die vergadering gehou sou word onder polisiebewaking verlaat.

Inwoners kla al ’n geruime tyd oor die groeiende aantal buitelanders in die township, swak dienslewering en ontwikkeling en die hoë vlakke van misdaad.

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek, tydens sy besoek aan Alexandra, gesê dat die stadsraad van Johannesburg, wat onder die leiding van die DA is, moet ingryp om seker te maak dat die woongebied oor behoorlike sanitasiegeriewe beskik.

Mashaba, is Maandagaand met sy aankoms by die gemeenskapsaal in die aangrensende Marlborough deur inwoners uitgejou. Inwoners het vroeër gesê dat hulle ongelukkig is met die keuse van die plek waar die vergadering gehou word, wat aan die buitewyke van die township is.

Sandile Mavundla, leier van die Alexandra Totalshutdown-beweging het gesukkel om die skare tot bedaring te bring sodat die vergadering kon voortgaan.

Die inwoners het gesing terwyl hulle papiere na Mashaba en sy span gegooi en verhoed het dat die vergadering voortgaan. ’n Memorandum is voorgelees waarin die inwoners van Alexandra onder meer eis dat politici ophou om onderling vingers na mekaar te wys en eerder planne beraam om die gebrekkige dienslewering in die gebied te verbeter.

Mashaba het vroeër die dag getwiet dat hy uitsien daarna om met die inwoners van Alexandra te ontmoet. Hy het ook wat hy noem bewyse getwiet waarin hy aanvoer dat die ANC agter die gewelddadige betogings in Alexandra sit.

Volgens Mashaba het lede van die Johannesburgse metropolisie op ’n ANC-gemerkte voertuig in Berea afgekom waarin ou bande is wat in die betogings gebruik word. ’n Man is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Inwoners van Alexandra in Johannesburg jou Herman Mashaba uit. Foto: Felix Dlangamandla

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.