Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Inwoners van Upington keelvol vir korrupsie, besoedeling

Inwoners van Upington wat Donderdag ’n optog teen onder meer korrupsie en die besoedeling van die Oranjerivier gehou het, sê hulle is moeg om minderwaardige behandeling te ontvang.

Dit volg op ’n vreedsame optog van 300 mense waarin griefskrifte aan die Dawid Kruiper-munisipaliteit, ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit, departement van samewerkende regering en die ANC oorhandig is. Die optoggangers eis binne sewe dae antwoorde op hul griewe.

Die optog is deur The OutCry of the Body of Christ-kerk en AfriForum gereël.

Sommige van die ontevrede inwoners van Upington wat Donderdag ’n optog teen onder meer korrupsie en die besoedeling van die Oranjerivier gehou het. Foto: Esau Montzinger

Apostel Cobus Boorman sê een van die grootste klagtes is dat net sekere rasse by die munisipaliteite in diens geneem word.

“Ons vermoed daar is nepotisme en korrupsie, want net sekere organisasies en mense word bevoordeel. Die gemeenskap voel uitgesluit. Ons word minderwaardig behandel. Daar is algehele ongelykheid,” sê Boorman.

“Daarbenewens het die omgewing ’n skreiende werkloosheidsyfer. Daar is geen projekte en inisiatiewe om werk te skep nie. Die regering staan ook net sekere niewinsgewende organisasies geldelik by. Ons word uitgesluit.”

Hy sê hulle eis dat die kerk by onderhandelinge oor grondonteiening betrek word.

“Die kerk was destyds voor 1994 deel van die onderhandelde skikking. Die vrees is dat net sekere mense grond sal kry, tot nadeel van ander en die ekonomie. ’n Mens kan nie nou grond onder mense uitruk wat die meeste mense sal benadeel nie. Ons vrees dat werkloosheid sal vererger.”

Die optoggangers het verskeie plekke aangedoen om griefskrifte te oorhandig. Foto: Esau Montzinger

Boorman voel die munisipaliteit moet verder teen die besoedeling van die Oranjerivier optree.

“Ons uitvoerdruiwebedryf is in die gedrang. As die produkte met rioolvuil besmet is, kan derduisende werkgeleenthede verlore gaan. Die omgewing en sy mense se oorlewing is afhanklik van die rivier.”

Nog ’n inwoner sê dit is skreiend dat toeriste en besoekers met die reuk van riool begroet word wanneer hulle die dorp inry. Dit hang veral oor toeristebestemmings soos by Sakkie se Arkie.

“Die riool loop oral in die omgewing uit en skep ’n baie ongesonde omgewing,” sê die persoon.

“Die ergste is egter die houding van amptenare wanneer jy bel om te kla. ’n Mens moet alewig vloek en skreeu voordat hulle waterlekke herstel of rioolverstoppings skoonmaak. Hoekom moet ’n mens baklei voordat iets gedoen word? Dit skep ’n baie onaangename atmosfeer in ons dorp.”

André Phete, distriksdirekteur van die departement van samewerkende regering, ontvang ’n griefskrif van Willem Pofadder, president van The OutCry of the Body of Christ-kerk. Foto: Esau Montzinger
Meer oor:  Afriforum  |  Upington  |  Betoging  |  Korrupsie  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.