SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
IRV maak vuur onder Lesufi

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) sê hulle is vol vertroue dat die klagte wat hulle by die openbare beskermer (OB) teen Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys aanhangig gemaak het, die aandag sal kry wat dit verdien.

Herman Pretorius, veldtogkoördineerder van die IRV, het Donderdag by die kantore van die OB in Johannesburg met ondersoekers oor die instituut se klagte vergader.

Die IRV wil hê dat die OB onreëlmatige besteding van meer as R1,2 miljard in Lesufi se departement moet ondersoek, asook die departement se swak ontwerpte aanlyn-assesseringsplatform (gdecontent.co.za) en die Gautengse skoletoelatingskrisis, wat alles onder Lesufi se leierskap plaasgevind het.

Panyaza Lesufi. Foto: Elizabeth Sejake

Pretorius het ná die vergadering met die ondersoekers sy tevredenheid met die gesprek uitgespreek. “Dit was ’n opbouende vergadering en hulle het gesê hulle sal ons op hoogte hou. Hulle het die proses aan ons verduidelik (en gesê) die volgende stap is om die onderwysdepartement te nader oor die bewerings. Hierdie mense lyk na die regte mense om die regering verantwoordbaar te hou.”

Voor die vergadering het Pretorius daarop aangedring dat Lesufi verantwoordbaar gehou word vir die beweringe van wanadministrasie en ondoeltreffende uitgawes in sy departement.

“Die uitslag wat ons hier wil hê is verantwoordbaarheid.”

Lesufi het verlede maand in die provinsiale wetgewer in antwoord op vrae van die DA onthul dat sy departement onreëlmatige uitgawes van R1,2 miljard in die 2018/19-geldjaar aangegaan het weens tenderongerymdhede.

Steve Mabona, Lesufi se woordvoerder, het die IRV gedaag om die hof te nader met hul bewerings.

“Ons daag die IRV uit, as hulle seker is van hul storie om die hooggeregshof direk te nader sodat ons hul obsessie om ons skole op rassegronde te bedryf, kan blootlê,” het Mabona gesê.

Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB, het gesê hy kan nog nie kommentaar lewer op die klagte nie aangesien hy nog nie daaroor toegelig is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.