Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Is Jiba en Mrwebi vry om te werk?

Die regstryd om die omstrede advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi uit hul senior en invloedryke poste by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te hou, is nog lank nie verby nie.

Die appèlhof in Bloemfontein het Dinsdag ’n bevinding van die hooggeregshof dat Jiba en Mrwebi van die rol van advokate geskrap moet word, ter syde gestel.

Adv. Nomgcobo Jiba Foto: Jeanne-Marié Versluis

Adv Luvuyo Mfaku, woordvoerder vir die NVG, het Woensdag gesê dat niks die twee ná die appèlhofuitspraak verhoed om terug te keer werk toe nie.

“Toe hulle op spesiale verlof geplaas is, het hulle direk daaroor met die nasionale direkteur van openbare vervolging (adv. Shaun Abrahams) as hul werkgewer gekorrespondeer. Die verwagtinge is dat hulle dit weer sal doen voordat hulle terugkeer.”

Jiba is die huidige adjunkdirekteur van die NVG en Mrwebi die spesiale direkteur van openbare vervolging.

Die hooggeregshof het hulle op 15 September van die rol van advokate geskrap nadat daar bevind is dat hulle “nie gepas” vir hul werk is nie.

Mrwebi en Jiba is van die rol geskrap weens hul hantering van die polities gelaaide strafsaak teen lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.

Intussen het die Algemene Balieraad, wat die aansoek teen die twee ingedien het om hulle van die rol van advokate te skrap, aangedui dat ’n besluit na verwagting oor die komende naweek geneem sal word oor of hulle teen die appèlhofuitspraak sal appelleer of nie.

Adv. Vuyani Ngalwana SC, voorsitter van die Algemene Balieraad, het Woensdag gesê die balieraad hou die komende naweek sy algemene jaarvergadering waar Jiba en verskeie ander tugkwessies op die agenda sal wees vir bespreking.

Volgens Ngalwana sal die balieraad ook eers regsadvies inwin. Dit sal ook by die jaarvergadering bespreek word. “Ons sal dus eers vroeg volgende week ’n aanduiding kan gee oor waar ons met dié aangeleentheid staan.”

Vroeër is berig hoe daardie aanklagte verband hou met Jiba se destydse besluit om genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, vir rampokkery te vervolg.

Die burgerregteorganisasie Afriforum het Woensdag gesê dat hy intussen “volstoom” voortgaan om Jiba privaat te vervolg en dat die appèlhofuitspraak “geen struikelblok” vir die instel van ’n strafregtelike klag teen haar is nie.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, het Dinsdag gesê die NVG “het nou geen rede om nié ’n besluit te neem oor AfriForum se aansoek vir ’n nolle prosequi-sertifikaat nie”.

“Dit is nou noodsaakliker as ooit dat Jiba strafregtelik vervolg word. Die NVG se antwoord op ons versoek vir ’n nolle prosequi-sertifikaat was dat hulle daaroor sal besluit hangende die uitspraak in die appèlproses.

“Indien die NVG besluit om nie te vervolg nie, staan AfriForum se private vervolgingseenheid gereed om haar te vervolg.”

Nicole Fritz, woordvoerder vir die organisasie Freedom Under Law (FUL), het Woensdag gesê dat die hofstryd teen veral Jiba nog nie verby is nie omdat daar steeds ’n appèlaansoek hangende is waarin FUL wil hê dat Abrahams se vroeëre besluit om klagtes van meineed en bedrog teen Jiba terug te trek, hersien moet word.

Vroeër is berig hoe daardie aanklagte verband hou met Jiba se destydse besluit om genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, vir rampokkery te vervolg.

Die appèlaansoek word in Augustus aangehoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.