Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Israeli’s en Palestyne kan by SA leer – Ramaphosa

Die huidige verhewiging van die konflik tussen die Israeli’s en die Palestyne bevestig wat Suid-Afrikaners alte goed weet – hardnekkige konflik kan slegs deur vreedsame onderhandelinge opgelos word.

So skryf pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste weeklikse nuusbrief, wat Maandae verskyn, en wys daarop dat Suid-Afrika se ervaring van demokratiese oorgang ’n les “oor die mag van empatie, onderhandelinge en toegewings is”.

Ramaphosa was in die vroeë 1990’s die ANC se hoofonderhandelaar in die Kodesa-onderhandelinge vir ’n nuwe demokratiese politieke bestel in die land.

Hy skryf die konflik tussen die Israeli’s en die Palestyne kan net bygelê word deur dít wat die skuldoorsaak van die probleme is op te los.

In dié geval is die oorsaak van die probleme Israel se onwettige besetting van Palestynse grondgebied en sy weiering van die Palestyne se reg tot selfbeskikking.

As dié probleem nie aandag geniet nie, sal daar nooit vrede wees nie.

Palestynse betogers kyk na bande wat aan die brand gesteek is in betoging teen die geweldpleging tussen die Israeli’s en Palestyne. Foto: Reuters

“’n Uitspraak deur ’n hof in Israel dat ’n groep gesinne uit hul wonings in die Sheikh Jarrah-buurt in die ooste van Jerusalem uitgesit word om vir Israelse burgers plek te maak was die vlam in die kruitvat vir die jongste konflik.”

Tientalle mense is in die afgelope sowat tien dae se geweldpleging dood sedert Israel se veiligheidsmagte mense by die Al Aqsa-moskee in die ooste van Jerusalem aangeval het.

Beide Israel en die Palestyne maak aanspraak op Oos-Jerusalem.

Ramaphosa skryf die aanval op die moskee herinner baie aan ’n aanval op 24 Mei 1921 – volgende Maandag is dit presies 100 jaar gelede – toe die Unie se veiligheidsmagte in die Oos-Kaap in die Bulhoek-opstand met masjiengewere en kanonne op aanbidders geskiet het.

Meer as 160 mense is dood en 130 is gewond.

“Net soos die dispuut in die Sheik Jarrah-buurt was die gruweldaad destyds in Bulhoek meer as net ’n plaaslike geskil.

“Dit het hoofsaaklik gegaan oor die gedwonge onteiening van grond, koloniale besetting, rassediskriminasie en die gewelddadige onderdrukking van teëpratery,” skryf hy.

“Die tonele van mans, vroue en kinders wat (in Israel) uit die huise gesit word waarin hul families geslagte lank gewoon het, bring pynlike kollektiewe en persoonlike herinneringe vir die meeste Suid-Afrikaners terug.

“Dit herinner hulle aan hul gedwonge verwydering en die vervreemding van hul grond,” skryf Ramaphosa.

Sy eie familie is by twee geleenthede op gewelddadige wyse uit verskillende dele van die land verwyder.

Hy skryf almal wat glo in gelykheid, regverdigheid en menseregte kan nie onaangeraak wees deur die pyn en die vernedering waardeur die Palestyne gaan nie.

Dit waardeur hulle gaan, is ’n weergalming van dit wat destyds in Suid-Afrika gebeur het.

“Israel se aksies is ’n skending van die internasionale reg. Deur sy optrede minag hy verskeie resolusies van die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies waarin gevra word vir die beëindiging van die besetting van Palestynse grondgebied en die verwesenliking van die regte van die Palestyne.

Die geweldpleging het na die Gasa-strook, die Wesoewer-gebied en verskeie dorpe en stede in Israel uitgebrei.

Die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) het verlede week geraam dat sowat 40 kinders, van wie die helfte jonger as tien jaar is, in die jongste geweldpleging gesterf het.

Ramaphosa skryf alles moontlik moet gedoen word om die Israeli’s sowel as die Palestyne te oortuig om die geweldpleging te beëindig en menselewens te respekteer.

“Te veel mense het al in dié weerbarstige konflik met hul lewens geboet.”

Suid-Afrika wil deel wees van ’n internasionale poging wat sal lei tot ’n lewensvatbare Palestynse staat wat in vrede en buurmanskap met Israel bestaan.

’n Tweestaat-oplossing bly die enigste lewensvatbare keuse vir die mense van beide Palestina en Israel, skryf die president.

Meer oor:  Palestina  |  Cyril Ramaphosa  |  Israel  |  Gasa-Konflik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.