Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
IT-skandaal: Tesourie geroskam oor R1 miljard

Parlementslede het die nasionale tesourie behoorlik geroskam oor ’n IT-stelsel waaraan meer as R1 miljard bestee is, maar wat ná meer as ’n dekade steeds nie doeltreffend werk nie.

Die tesourie en die staat se inligtingstegnologie-agentskap (Sita) het Dinsdag voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verskyn om verslag te doen oor sy geïntegreerde finansiële bestuurstelsel (IFMS), wat steeds nie ten volle in werking is nie.

Ons verwag beter van die nasionale tesourie
Themba Godi, voorsitter van Skoor

Dié stelsel, wat die kabinet in 2005 goedgekeur het, se doelwit is om al die regering se verouderde en gefragmenteerde finansiële-, verkrygings- en mensehulpbronne-stelsels in een IT-stelsel saam te voeg.

As die stelsel uiteindelik voltooi is, sal dit sowat R4,3 miljard kos.

Dit is dié IT-stelsel waaroor die Gupta-beheerde ANN7-televisiekanaal vroeër vanjaar berig het en Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, vir die mislukte stelsel en verkwiste geld geblameer het.

Malusi Gigaba, minister van finansies, het aan die komitee gesê die Valke ondersoek die kwessie en almal wat aan wandade daarby betrokke is, moet aan die pen ry.

Gigaba het gepleit dat die IFMS-skandaal nie die land se vertroue in die tesourie moet vernietig nie. Daar word dringend aandag aan die kwessie gegee. Die IFMS sal reggeruk word omdat die land dit broodnodig het.

Dondo Mogajane Foto: www.foto24.co.za

LP’s het geen genade vir Dondo Mogajane, direkteur-generaal in die tesourie, gehad nie.

Hy is vroeër vanjaar as direkteur-generaal aangestel nadat Lungisa Fuzile bedank het.

Nyami Booi, ANC-LP, wou by Mogajane weet: “Hoe het ons by hierdie krisis uitgekom? Meer as R1 miljard is hieraan bestee en steeds is daar geen resultate nie. Ons word reeds beskuldig dat ons ’n korrupte regering is. Die tesourie is een departement wat ’n oase van hoop vir Suid-Afrikaners moet wees. Maar jul eie prosesse is in wanorde. Hoekom is die tesourie in hierdie toestand? Wat het gebeur?”

Mogajane het gesê daar is enorme uitdagings met die stelsel. “Ek dink nie ons moet hoop verloor nie. Dit is belangrik dat ons moet aanhou om die vertroue van die komitee, die parlement en die land terug te wen, aangesien daar ’n enorme verantwoordelikheid op ons rus.”

Die tesourie se projekbestuurskantoor, wat die stelsel moes implementeer, sal binnekort geherstruktureer word.

Tim Brauteseth, DA-LP, het gesê die tesourie het niks om vir die R1 miljard te wys nie en David Ross, DA-LP, het die stelsel as “’n krisis in wording en ’n ernstige kommer beskryf”.

Themba Godi, voorsitter van Skoor, wou weet hoe die tesourie vingers na ander departemente kan wys wat staatsgeld verkwis, as hy dieselfde doen. “Ons verwag beter van die nasionale tesourie.”

Meer oor:  Sita  |  Dondo Mogajane  |  Malusi Gigaba  |  Parlement  |  Skandaal  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.