Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
IVP vra vlak 4-inperking en sluiting van skole

Die regulasies wat pres. Cyril Ramaphosa pas weer in die land se stryd teen die Covid-19-pandemie bekend gemaak het, is nie streng genoeg nie, meen die IVP.

Dit kom nadat die aangepaste rampbestuurregulasies Sondagaand byna onmiddellik ná afloop van Ramaphosa se toespraak in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit behels onder meer dat die verbod op drankverkope hervat word, die versuim om ’n masker in die openbaar te dra ’n strafregtelike oortreding is en die herinstelling van ’n aandklokreël wat daagliks van 21:00 en 04:00 van krag is. Besoeke aan familielede en vriende word steeds verbied.

Hoewel die IVP dié regulasies verwelkom, het hy ’n beroep gedoen op Ramaphosa, die Covid-19-bevelsraad asook die kabinet om die strenger vlak 4-inperking in te stel om die toename in infeksies te stuit.

Ramaphosa het in sy toespraak gesê die regering het besluit om die land op vlak 3 te hou om die nadelige uitwerking op die ekonomie te beperk. Hy het eerder ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die bestaande gesondheidsmaatreëls na te kom.

Die president het gesê die roekelose gedrag van sommige Suid-Afrikaners wat onder meer partytjies hou en nie hul maskers in openbare plekke dra nie, laat die virussiekte vinniger versprei.

 President Ramaphosa declared a national lockdown
Gevalle van die Covid-19-virussiekte is besig om aansienlik te styg. Foto: GCIS

Die DA en die VF Plus het vroeër in onderskeie verklarings gesê Ramaphosa het in sy toespraak eintlik erken dat die regering nie die inperking doeltreffend benut het om die gesondheidstelsel en sy kapasiteit om mense vir die virussiekte te toets voor te berei nie.

Mediese kenners het vroeër gesê weens strukturele gebreke sal dit jare neem om die gesondheidstelsel in Suid-Afrika voor te brei tot op die vlak wat dit moet wees, aangesien Covid-19 van die beste gesondheidstelsels ter wêreld oorweldig het.

Luidens die IVP was Ramaphosa se toespraak ’n verspilde kans om daadwerklik op te tree.

“Die grotendeelse kosmetiese veranderinge wat deur die president aangekondig is, is gebrekkig om die risiko van die oordrag te verlaag,” sê dié party.

Die IVP sê verder die president moes die sluiting van die skole aangekondig het. Die party meen dat die skole tot ná die piek van die pandemie gesluit moet bly.

Luidens dié party moet die regering hernude samesprekings voer met die taxi-bedryf omdat die aankondiging dat ’n 100%-laaikapasiteit vir taxi’s vir plaaslike vervoer teen die grein van sosiale distansiëring indruis.

“Die president was in die kol dat ons ’n dodelike storm ingaan – ons stem saam dat ons nog nie die oog van die storm bereik het nie en daarom eggo ons die aankondigings van die president.

“Burgers moet gehoor gee aan die voorkomende maatreëls. Deur dit nie te doen nie, sal dit pogings ondermyn om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan,” sê die IVP.

Prof. Susan Goldstein, gesondheidsekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het die ingrypings wat Ramaphosa aangekondig het, verwelkom. Sy sê sy kon nie fout vind met sy toespraak nie.

Sy sou wel meer oor privaat hospitale se hulpbronne vir “openbare pasiënte” wou weet.

Meer oor:  Koronavirus  |  Ivp  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.