Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ja, ek is gevra om nuwe party te stig’

Maar Helen Zille, voormalige DA-leier, wil egter bly en sal Mmusi Maimane steun as sy die federale voorsitterspos kry, skryf Waldimar Pelser.

Dit is beter om nuwe lewe in die DA te blaas as om ’n mededingende party te stig, meen die oudleier Helen Zille.Foto:

Helen Zille is al herhaaldelik genader om ’n nuwe politieke party in mededinging met die Demokratiese Alliansie te stig, maar het sulke praatjies afgewys omdat sy glo dit is “makliker en wensliker om die DA te probeer stabiliseer as om nog ’n kleiner party te begin”.

Sy glo ook nou, anders as in 2015, dat dit nie saak behoort te maak of die volgende leier van die DA wit, swart of bruin is nie en het Maimane se rol in die DA se opgang tot 2016 geprys.

In ’n onderhoud gisteroggend met Rapport in Bloubergstrand, waar Zille Donderdagaand tot voorsitter van die plaaslike DA-tak verkies is, het sy ook haar steun uitgespreek vir die beleërde partyleier, Mmusi Maimane, en gesê hy sal op haar kan reken as sy later vandeesmaand verkies sou word tot die magtige pos van voorsitter van die DA se federale raad.

‘Leiers het werklik ’n rakleeftyd.’

“Ek weet daar was sulke gesprekke oor ’n nuwe party. Maar ek was ’n jong kind toe Helen Suzman in die 1960’s begin het, en die proses het tot 2000 geduur toe ons aan bewind gekom het. Dis hoe lank dit neem om ’n handelsmerk te bou, om ’n party te bou, om strukture te bou, geld in te samel. Jy doen dit net as jy geen ander opsie het nie.”

Sy ontken ’n vergadering

Zille het ontken dat daar ná die verkiesing in Mei ’n amptelike vergadering was by Leeuwenhof, waar sy as Wes-Kaapse premier gewoon het, om oor die stigting van die Progressiewe Demokratiese Party (PDP) te beraadslaag, maar het wel gesê “individue het my een-een genader”.

“Ek het deurgaans nee gesê. Dit is beter om nuwe lewe in die DA te blaas.”

En dit ís moontlik, glo Zille, op wie se wagbeurt as leier tussen 2007 en 2015 die DA se steun van 12,3% tot 22,2% gegroei het. In Mei het die DA-steun vir die eerste keer ooit gedaal.

“Maar dan moet ons ’n alternatief bied tot die ANC. Ons kan nie op ras met die ANC meeding nie, want ons sal verloor. Die DA het dit begin doen. Hulle het probeer spreek tot kiesers wat nooit vir ons sou gestem het nie omdat hulle ’n rasgebaseerde party wou hê. Selfs al is ons groeikoers stadiger omdat ons werklik in nierassigheid glo, moet ons aanvaar dat dit beter is om die party te stabiliseer en stadiger te groei namate mense die fundamentele belangrikheid van nierassigheid besef.”

‘Maar dan moet ons ’n alternatief bied.’

Zille het vroeër in haar rubriek in Rapport verantwoordelikheid vir die DA se rasbeheptheid aanvaar, want in 2015 het sy geglo die party móés ’n swart leier kry. Toe sy gevra is of sy steeds glo die ras van die DA-leier maak saak, het sy gesê: “Nee.”

“Onder Jacob Zuma was ons in ’n wedloop teen tyd om Suid-Afrika te red. In die aanloop tot die munisipale verkiesing in 2016 het ek besef ons moet uit die Wes-Kaap uitbreek. Ek het regtig geglo ek het die party so ver geneem as wat ek kon. Leiers het werklik ’n rakleeftyd. En ek het gedink dat, gegewe die tipe mens wat Mmusi was en die mens wat ek leer ken het, al was dit oppervlakkig, dat hy die charisma, die dinamisme, sou hê om ons tot die volgende vlak te neem. En dit is presies wat gebeur het in 2016.”

Zille sê sy het in Februarie 2015 besef Maimane is die regte leier vir die DA toe hy Zuma in ’n nou bekende toespraak ’n “gebroke man” gedoop het.

“Dit sal opgeteken staan as een van die beste toesprake in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy was so dinamies en so kragtig. Ek het gedink dit is wat ons nou nodig het.”

Maar toe begin dinge uitmekaarval, sê sy. In een van die akute krisisse tussen haar en Maimane het hy in 2017 haar Twitter-boodskappe oor Singapoer gerepudieer – boodskappe wat sy gister gesê het sy nooit sou gestuur het as sy begryp het hoe kragtig die idee van dekolonisering reeds op kampusse en in die nasionale gesprek was nie.

‘Ons moet weer konnekteer’

Toe Rapport haar vra of sy nou vertroue in Maimane as leier het te midde van oproepe dat hy bedank, het Zille gesê ’n blitsondersoek deur die “deeglike, reguit” Dion George het bevind Maimane het geen groot misstap begaan wat betref sy huis en sy motor nie, en toe geskerm teen aantygings dat daar ’n “liberale staatsgreep” in die DA is.

“Ek het geen ambisie om weer partyleier te word nie. Ons moet weer met ons kiesers konnekteer. Op die ou end moet die leier aanspreeklikheid aanvaar vir wat fout gaan, en dit het Mmusi gedoen, ek moet dit toegee. My eerste opsie is om te probeer om dinge reg te ruk voor ek na alternatiewe kyk.”

‘Ons kan die party intern regmaak.’

Sy sal Maimane steun as sy verkies sou word.

“Die rol van die voorsitter van die federale raad is om die leierskap te ondersteun. Ek sal dit doen na die beste van my vermoë ten einde die skip te stabiliseer en weer met kiesers te konnekteer. Ek sal my posbeskrywing nougeset volg.”

Toe sy weer gevra word of dit beteken sy het vertroue in Maimane, het sy gesê: “Ek het vertroue dat ons die party intern kan regmaak en die eerste stap is dat die leierspan goed moet saamwerk, sodat die party weer op ’n groeitrajek kan kom.”

Dit is nie ’n deel van ’n anti-Maimane-komplot nie.

“Die rol van die posisie (van raadsvoorsitter) is nie om die leierskorps te verander nie. Die enigste struktuur wat van ’n leier ontslae kan raak, is ’n federale kongres, behalwe as die leier bedank.”

Oor ’n artikel deur Hermann Pretorius, haar toenmalige kollega by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), waarin hy geskryf het die beste manier vir die DA om te bewys die ras van sy leier maak nie saak nie is om ’n wit man – Alan Winde – in Maimane se plek te kies, het Zille gesê Pretorius is “hoogs intelligent” maar ook “aspris, soos ek”.

“Met sy kernargument kan jy nie fout vind nie, naamlik dat jy moet wegkom van ras as ’n oorheersende kriterium. Maar dit is uit konteks gehaal en hy het dit amper uitgelok. Ek het niks oor die rubriek geweet nie en absoluut geen rol daarin gespeel nie.”

* Zille se rubriek in Rapport Weekliks is opgeskort omdat sy weer die partypolitiek betree het.

Meer oor:  Helen Zille  |  Athol Trollip  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.