Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ja, sekere areas bly dalk op 4’
Dr. Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize Foto: Jaco Marais

Inwoners van die Tshwane-, Johannesburg- en Ekurhuleni-metro kan tegnies gesproke Maandag nog hoor dat hulle nog langer onder vlak 4 van inperking gebuk moet gaan terwyl die res van die land na vlak 3 oorbeweeg.

So ook onder meer inwoners van die Kaapstad-, eThekwini-, Nelson Mandelabaai- en Buffalo City-metro, wat almal as brandpunte geïdentifiseer is te midde van die Covid-19-pandemie.

Die vooruitsig vir inwoners van dié gebiede is in die weegskaal nadat die departement van gesondheid Woensdag gesê het daar kan Maandag nog besluit word om Covid-19-brandpunte op vlak 4 te hou.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag aangekondig dat die hele land Maandag na vlak 3 sal beweeg.

Hy het bygevoeg dat brandpunte elke twee weke hersien sal word én dat enige deel van die land na vlak 4 of vlak 5 kan terugskuif indien nodig.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het egter Dinsdagoggend tydens ’n aanlyn sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gesê brandpunt-distrikte kan al Maandag op vlak 4 gehou word.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het egter Dinsdagoggend tydens ’n aanlyn sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gesê brandpunt-distrikte kan al Maandag op vlak 4 gehou word.

Toe dr. Lwazi Manzi, sy woordvoerder, oor die teenstrydigheid gevra is, het hy dit bevestig en gesê “daar kan op 1 Junie besluit word om sekere distrikte op vlak 4 te hou”.

Mkhize het gesê hy sal persoonlik die vlak van inperking vir elke distrik aan die nasionale Covid-19-bevelsraad vir goedkeuring aanbeveel – nadat hy provinsiale bevelsrade geraadpleeg het.

Hy het tydens sy skriftelike voorlegging onder meer gesê dat “hoërisiko-gebiede as brandpunte geklassifiseer sal word en dat hierdie distrikte op vlak 4 sal bly met intensiewe sifting, toetsing en beperkings”.

“Binne twee weke sal die distrikte hersien word met die doel om hulle volgens die vyf vlakke van inperking te klassifiseer.

“Daar sal na verwagting distrikte wees wat op vlakke 1 tot 5 sal wees.”

’n Brandpunt word gedefinieer as ’n distrik wat vyf of meer positiewe gevalle per 100 000 inwoners het of waar die aantal positiewe gevalle skerp styg.

Die regering kan die betrokke distrik in subdistrikte óf wyke verdeel.

Mediese kenners sal ontplooi word om die distrik te ontleed en te ondersteun deur gevorderde toets-, isolerings- of kwarantyn- en behandelingsaktiwiteite toe te pas.

Multidissiplinêre spanne sal ook ontplooi word om te verseker die verdere verspreiding van die virus word in so ’n distrik beperk.

“ ’n Ferm inperking sal net (vir ’n distrik) oorweeg word as alle ander maatreëls onsuksesvol was om die verspreiding van die virus te keer,” lui die voorlegging.

As deel van die regering se strategie moet kontakte van mense wat positief toets, opgespoor en geïsoleer word, wat help om die toename in infeksies te bekamp.

’n Ferm inperking sal net (vir ’n distrik) oorweeg word as alle ander maatreëls onsuksesvol was om die verspreiding van die virus te keer.

Hoewel die meeste provinsies goed vaar met die nasporing van sulke kontakte, sukkel die Wes-Kaap en Oos-Kaap daarmee, sê Mkhize.

Die Oos-Kaap kon tot dusver 86% van die kontakte opspoor, en die Wes-Kaap 83%.

Daar is tans 554 pasiënte in Wes-Kaapse hospitale, waarvan 150 aan suurstoftoestelle gekoppel is. Van hierdie 554 pasiënte is 91 in waaksale opgeneem, waarvan 50 aan ventilators gekoppel is.

Die provinsie het 450 beddens in waakeenhede, met planne om nog 400 beddens gereed te kry.

Llewellyn Prince, Marelize Barnard en Christiaan du Plessis

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Brandpunte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.